2010-02-01

vir Sonja ...


Sedert 1961 se vlegsel en bokstertdae
ken ons mekaar


Avontuur het altyd jou lyf gesoek
jy't berge geklim
die Oranjerivier aangedurf
en jare lank met jou seksie bene gedans
en by die gym het jy die manne laat skaamkry 
want jy kon almal in die grond in gym.



Jou eindelose energie het my jaloers gemaak
en laat wonder waar jy jou private energiefontein bêre
Jy't die wêreld deurkruis
ge-4 x 4 waar in die afwesigheid van fone, petroltenke, vars brood, water en 'n haardroeër
en wanneer die nood sou druk
grasieus agter 'n kon bossie hurk.

 


Nou loop jy, my liewe vriendin, 'n anderse marathon
'n marathon waarvoor daar geen roete voor uitgelê is nie
en onvoorspelbare storms dikwels woed
'n Marathon wat jou mobiliteit stukkie vir stukkie steel
'n Marathon waar jy soveel moet boet.

Die marathon het 'n impressiewe naam 
MSA - (Multiple System Atrophy)
en ek is glad nie eers lus om 'n mooi Afrikaanse naam te probeer uitdink nie 
maar dis heelwaarskynlik iets soos Veelvoudige Sisteem Atrofie - 'n netjies naam nogal.

Jy dans nog in jou geheue
klim nog die berge in jou geestesoog
en durf 'n steil berg dag vir dag aan.


My liewe vriendin,
ek sê dankie vir jou 
ek dra jou in my hart
as ek kon sou ek vir jou 'n liedjie skryf
en dit met my mooiste vals stem vir jou sing
as ek moet sal ek jou abba 
ek sal jou styfvas saggies hou
en driekeer 'n lawwe tiekiedraai doen.


Met nuwe oë gluur ons na restaurante en plekke se badkamergeriewe
Ek moet my inhou en tree hul sommer aan omdat dit not-'n-'dem nie rolstoelvriendelik is nie
en as ek Rambo was sou ek orals ramps bou  
selfs teen die berg uit wanneer die watsonias blom.

En as mense nie probeer verstaan dat jy nie meer ure lank kan kuier nie / stilsit / lê / konsentreer / gesels / en die res van die ellelange lys kanniemeersnie 
(net omdat jy steeds mooi lyk en jou intelligensie en humor - dankie Vader - ongeskonde is)
wil ek hul vir jou part net so effentjies wurg.

My liewe vriendin,
mag die Joie de Vivre in jou oë ewig leef.
(Die stukkie hieronder het ek 'n jaar of wat gelede vir jou geskryf):







My liewe vriendin van toe ons altwee klein was 
en ons wippende boksterte had
kom ek sit sommer 'n bietjie langes jou
maak nou toe jou navyblou oë
en tree jou verbeelding aan 

ek sing vir jou 'n ou, ou liedjie 
en imagine maar dis Laurika. 


Kyk, hier's 'n bossie lente uit my tuin 
die enigste maar die mooiste rooi roos 
omring en omsingel met Ingelse lavender 
getorring en lossies gevroetel en getooi. 





en ek los dit langes jou bed.

Kom sit hier 
laat ek jou voete was in my Ma se
ou enamel kommetjie 

en dan met perske bodybutter insmeer.

Op jou bedkassie is die jongste Sarie 
onder 'n nuwe bright-pienk brilletjie 
('n nr 3) - (mens soek 'n sterker ene in die aand)
en vir later 
'n sagte pepperment tjoklit 
vir wanneer jy op jou bed lê en musiek luister op jou pienk i-pod

en die klanke van Vivaldi jou gedagtes weer die berg uitklim
mag die tjoklik skaamteloos met jou verhemelte flirt.

More is 'n nuwe dag 
my liewe vriendin - my pel van 1961
toe boksterte belangrik was.





Naskrif: sedert MSA Sonja beroof het van haar mobiliteit, spandeer sy baie tyd voor haar rekenaar en reik uit na ander MSA pasiënte, -ondersteuners en -vriende.  Saam met haar kweek ons bewusmaking in Suid-Afrika sowel as internatsionaal.  Vir daardie doel is 2 platforms gestig:

msainsouthafricawithsonja.blogspot.com
en op Facebook
asook op Facebook

3 comments:

  1. Te pragtig! Ek ruik die blommiekies en ek proe die pepperment en my voete voel sag en gly glad tussen die lakens in. Ek voel gepamperlang en omring van jou warm liefde. Baie dankie. Ek voel nie meer asof ek alleen deur die woestyn ploeter nie.



    Liefde, Sonja

    ReplyDelete
  2. Sissi jy is 'n engel vriendin, wat die Here sekerlik saam met my in sub A gesit het. Toe nog net Hy van hierdie marathon geweet het, het hy geweet ek gaan jou nodig he. Jou warm hugs, jou vermoe om my behoeftes aan te voel. Jou sprankelende persoonlikheid helder my dae op. Ek dank die Here vir jou. Liefde, Sonja

    ReplyDelete
  3. Dit is vir my 'n voorreg om jou vriendin te wees. Dalk was ons eerste ontmoeting in Sub A? ..Ek dink aan ons vriend Ermanno se woorde, dat die ontleding van die woord 'toevallig' veel meer betekenis het as wat ons dalk besef, en dat dit gelees moet word as 'toe val die Lig' - daardie dag lank gelede, het die Lig van die Vader reeds geval - en begin skyn op jou, op my - op ons. ;)

    ReplyDelete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...