2012-04-11

Saggies bemoerd!

Dit gebeur nie aldag nie, maar soms raak ek tog effens bemoerd. Hierdie griffeltjie is gemik op daardie mense wat dink hul is oulik omdat hul gedurig bedekte beledigings om hul hang soos laasjaar se swak krismisversierings en dit links en regs uitdeel aan niksvermoedendes. Ek besef mens behoort geduldig te wees met kinders deur voorbeeldig op te tree en met deernis en begrip hul te hanteer todat hulself die spreekwoordelike lig sien.  Maar wat nou gemaak as dit grootmense is - goedopgeleide, intelligente, voorbeeldige mense - oftewel veronderstel om te wees?  Ek gee op - want grootword bly hul blykbaar ontwyk en bedekte beledigings en agterhandse komplimente is iets waarin hul honeurs in ontvang het.


Tannie Topsy Venter het eendag vir Nataniël gesê (nadat hy die vierde bakkie van haar malvapoeding bestel het) - "hier kind" - met voorskoot aan en 'n hele skottel vol malvapoeding in haar uitgestrekte hande aan hom "kry dit nou uit jou sisteem uit".


Laat ek van my frustrasie hier uit my sisteem kry teenoor die siele wat hulp nodig het in sekere situasies: ....

Hoekom blerts party mense hul gedagtes so genadeloos, nes voëls met los mage nadat hul hulself in die bessiebos oorvreet het? 

Pers 'n slaggie jou lippe vir 'n rukkie opmekaar, en luister na ander eerder as om gedurig te dink mense kan nie wag om jou  wonderlike opinie te hoor nie (oefen voor die spieël as dit moeilik is). Lippe opmekaar en mmmmmmm ....



En as jou lippe na 5 minute weier om opmekaar te bly of jou vingers dit nie kan uithou nie en jy steeds dink die wêreld kan nie 10 minute bestaan sonder jou 'ingeligde' opinie nie, DINK 'n slaggie voor jy jou angelbelaaide woorde uitbasuin en jou vingers woorde soos gifpyle uitstuur oor die klawers van jou rekenaar. Probeer tog 'n slaggie net blerrie nice wees voor jy jou genadelose 'onskuldige' opinie die ruimte instuur en geheimelik dink jy's oulik omdat enkelinge, ja enkelinge jou kastyery afwag soos uigehongerde aasvoëls op  'n afgeleë boom in die wildtuin op 'n vrot stukkie vleis wat die hyenas vir hul gelos het.   Dink aan diegene wat nie 'n olifantvel het om hul te beskerm nie - of dalk bestaan dit nie binne jou begrips- verwysingsraamwerk nie.  Gaan neem tog erens lesse sodat jy kan sien hoe mislik jy is met jou wysneusige alleswetende selfvoldane opinie.



So hier, vat hierdie emmertjie.  En volgende keer wanneer jy ander mense se gedagtes en woorde wil toesnou met jou genadelose opinie wat, nes stront, 'n blywende klank laat, gooi dit liewer in hierdie emmertjie en gaan begrawe in dit in jou tuin.  Dalk groei iets... en die vars lug sal jou goed doen.










4 comments:

  1. Luister julle daar buite nou mooi asseblief; as julle aan my sissi vat en haar kwaad maak, dan vat julle aan my ook! S

    ReplyDelete
  2. Nou so lekker gelees aan jou stront-emmer-stuk. Die waarheid soos nooit tevore!!

    ReplyDelete
  3. Ha ha! SO goed geseg Karin! Ek weet mens kan toor met daardie soort mense maar gelukkig het ek die gewoonte aangeleer om te besef dat al die snert wat hulle praat, HULLE dinge is en om dit nie persoonlik op te neem nie! Hulle binnegoed is SO eina dat mens eintlik vir hulle jammer kan voel... Geniet jou griffels baie, dankie!

    ReplyDelete
  4. Dankie julle - waardeer die terugvoering. Kom kuier weer en stuur maar die griffeltjies aan as jul dink iemand anders sal dit ook dalk lees

    ReplyDelete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...