2011-10-06

WêRELD MSA-DAG MET SONJA




Maandag 3 Oktober 2011 was wêreld bewustheidsdag vir MSA (Multiple System Atrophy - die korrekte Afrikaans is iets soos Veelvoudige Sisteem Atrofie) - 'n rare en ongenaakbare kondisie wat die outonomiese spiere in jou liggaam aantas.  Dalk wonder jy ook soos ek aanvanklik, wat is nou eintlik jou outonomiese spiere?  Dink maar aan 'n paar funksies soos bloeddruk, blaas, spraak, sluk, asemhaling, ens. My betrokkenheid hierby is omdat my lewenslange vriendin Sonja 'n jaar gelede daarmee gediagnoseer is.  Lees meer oor ons vriendskap hier

Ek het geweet ons kon nie die dag net verby laat gaan sonder om iets te doen nie.  En 'doen' het ons wel - en ons het goed gedaan!  Toe die idee vlamvat, het ons pamflette gemaak, mense ge-epos en op verskeie Facebook bladsye begin vertel van ons beoogde Stap 'n Myl met Sonja vir MSA-dag.

Wanneer mens in 'n rolstoel is, en jou fisiese vermoeëns aansienlik verminder het, kan jy jou indink hoe frustrerend dit vir Sonja moet voel omdat sy nie meer iets kan doen soos ek en jy nie.  Wel, Sissi (ons troetelnaam vir mekaar deesdae) het help doen en ons het 'n fantastiese dag gehad.

Ons het 1.2 kilometer gestap langs Kusweg, Strand tot by Casa del Sol (wie spesiaal vir ons vroeg oopgemaak het) waar ons koffie gedrink het, gesels het, en kerse aangesteek het.  My woorde is hopeloos te klinies om te beskryf hoe ongelooflik spesiaal die dag was.

 


Ons MSA pamflet wat ons vir al die stappers gegee het.


 


Almal het vol energie op hierdie pragtige sonskyndag wat die Engele vir ons gereël het stiptelik opgedaag. 


 
 
'Almal hier?'




... en ons het al stappend en geselsend en laggend gedrentel al langs die see af.  Vriende het beurte geneem om Sissi se stoel te stuur.  By Casa del Sol was ons hartlik ontvang. 

 
Na 'n paar woorde uit haar hart, het Sonja die eerste kersie aangesteek ... 


 
 
 ... en ek die tweede ...
 
 
 ... en toe die res ...
 

'n dag wat ek wegbêre in 'n hoek van my hart. 
Posted by Picasa

2 comments:

  1. Dankie Sissi, jy is die dryfveer agter soveel van die wonderlike dinge wat in my lewe gebeur en ek dank die Here vir jou!

    ReplyDelete
  2. Karin - Jy is 'n vriendin duisend! Hierdie oggend was SO spesiaal, om te sien hoe julle almal saamstaan en vir Sonja toevou met julle liefde en ondersteuning is 'n les vir ons almal! Ons vriende is kosbaar en ek weet dat die Here elke een in ons lewe sit met 'n doel - julle twee is bewys daarvan!

    ReplyDelete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...