2012-04-16

Vasgerygde woorde


In my verbeelding sien ek die vrou
ek sien haar in die donkerige nag 
onder die sterre
op die wyd uitgestrektheid
van iemand se verafgeleë plaas
terwyl sy vir iets of iemand wag.



Met lang krullerige hare wat effe in die spelerige wind ruk 
sit sy met 'n vaal sakkietjie bondeltjie gedoentetjie
wat sy versigtig oopmaak, iets uithaal
terwyl dieselfde wind
deur die grassade suis 
en tergend aan haar hare en rokspante pluk.


Met albei hande vou sy die gedoentetjie huiwerig toe
versigtig toe
en gooi dit dan skielik met wydgestrekte arms op
op in die donker lug in op.



Dieselfde wind kry so effens momentum,
gryp die inhoud van die
sakkietjie bondeltjie gedoentetjie
en skiet dit hoog, 
baie hoog
in die donkerte in.

Die handjievol naiewe woorde wat sy vroeër gekies het,
wat sy so met versigtigheid in die gedoentetjie dingetjie gepak het,
speel
vir 'n oomblik 
met die wind
en dan gryp die sterre hulle
en ryg hul aanmekaar
nes die papierpoppe 
wat ek kleintyd gevou en geknip  het. 


Die vrou met die wind in haar hare
met die plukkende rokspante
hou met uitgestrekte arms haar sakkietjie bondeltje gedoentetjie
hoog 
en wyd 
oop
en met styfgeknypte oë en ingehoue asem wag sy,
wag sy vir die sterre om klaar met haar woorde te speel
en hul vir haar terug te gee
netjies ingeryg
in 'n ry saamgebind
nes die papierpoppe wat ek kleintyd gevou en geknip het.



En sy lag oopmond vir die sterre en die wind 
toe sy die dansende
woorde vang en toevou in haar
sakkietjie bondeltje gedoentetjie
en styf teen haar hart druk.



No comments:

Post a Comment

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...