2012-05-12

Moedersdag - vir my Ma

Môre is Moedersdag. Hoekom voel ek dan so leeg omdat Ma nie meer hier is nie? Hoe wens ek tog Ma was nog hier dat ek tog nog eenmaal kon dankie sê en Ma teen my hart vasruk; die bekende kreukels in Ma se nek nog eenkeer teen my lippe voel.



Daar is elke jaar meer goed wat ek aan dink wat ek dan nooit voor dankie gesê het nie. Dankie dat Ma my tog grootgemaak het, al was ek die 6de een - ek's seker teen daardie tyd was Ma al moeg en seker 'n bietjie gatvol. Verdomp - ons het nie eers daai tyd krag gehad nie en die donkie moes elke aand gestook geword het vir warmwater.

Liewe Ma was hier 95 

Ma moes dus my dungewasde doeke met die hand was want daar was nie eers 'n bleddie wasmasjien nie - want daar was nie bleddie krag nie.  Guh!   Kyk net hoe mooi en sprankelend en vol lewens-afwagting was Ma op hierdie heuglike dag.  

Ma wat geswig het voor die sjarme van 'n byeboerseun
Ek stel my voor dat jul gedans het - en dat jul meegesleur was op die maat van hemelse musiek. Dalk soos hierdie Il Divo

En ek's seker houtkap en vuurmaak en 6 wilderige kinders grootmaak was ook nie deel van Ma se drome toe Pa destyds jou met sy vonkel in sy oë, gespierde kuite en boerse sjarme oorrompel het nie.  Ek probeer steeds my voorstel hoe Ma en Pa in die 1930's op Pa se motorbike gelyk het.  

Dankie dat Ma my leer visbak het - op 95, daardie wekie toe die lag in Ma se oë geglinster het.



Dankie dat Ma vir my winkelbrood gekoop het - al was ek die enigste ene wat nie Ma se selfgekniede/selfgebakte brood wou eet nie. 

Dankie dat Ma al die troeteldiere wat ons aangedra het kosgegee het en ook verliefgeraak het op ons hond Chester.  Hy was mal oor Ma en het skaamteloos vir Ma se gewillige liefde geflirt.



Dankie dat Ma so onpretensieus, so opreg, so absoluut eerlik, so knaend, so trots, so onophoudelik en onvoorwaardelik lief vir my kinders was.  

Liewe Ma en my kind

Dankie vir Ma se troos as ek moedeloos was en moeg was;
gefrustreerd en radeloos was - vir watter sinnelose rede dit ookal was.
Ma se eindelose geduld, Ma se grenslose, onbaatsugtige liefde en Ma se eie  hemelse vyejêm op die eiegebakte brood wat ek later voor sou baklei vir die warmkorsie - dankie Ma.

Liewe Ma en my ander kind

Die soen van 'n engel

Ma het nooit my verkeerde besluite veroordeel nie, kon my tienertantrums en -frustrasies met gestoofde koejawels en custard lawe en nooit gekla as ek met moddervoete oor Ma se geskropte vloere geloop het nie.  Nooit het ek Ma hoor kla oor die eindelose bondels wasgoed of nimmer-eindegende bak skottelgoed nie. Dankie Ma.

Liewe Ma en my Blompotmeisiekind
Dankie Ma vir die jerseys wat Ma vir my kinders in hul kleintyd gebrei het, die slaaptydstories wat Ma vir hul vertel het - al was Ma al oud en moeg.  Dankie vir die blygeit wat altyd onverbloem in Ma se oë geskyn het wanneer Ma my kinders gesien het en hul altyd om die kombuistafel met een of ander eterige kouseltjie bederf het. 

Dankie vir hierdie hande wat vir soveel jare soveel liefde gegee het.


Liewe Ma se hande

Dankie vir daardie laaste wekie saam met Ma - net ons twee - en die hond.  Wie sou kon droom dat die Engele Ma skaars 'n paar maande later kom haal.





Dankie dat Ma so mooi na Pa gekyk het en dat jul saam kon oud word.  Die ou bogger - hy was darem gelukkig om so 'n juweel soos Ma te kry.


Dankie dat Ma skaamteloos oor my gebrêg het toe ek blindelings my winkeltjie BellaRosa oopgemaak het en ook toe ek die afgeskeepte tuin by die ouetehuis kom red het sodat Ma en die ander oumensies dit kon geniet.

Ma het vertel sy voel soos die Queen toe sy in my winkel gesit het tussen my uitgestalde aangeskafde skatte.



.Ma was saam met my verstom van blygeit oor die mooigeit wat hier bymekaar gekom het.




Dankie dat Ma so vat-vat deurgestap het en als opreg bewonder het, 



bekyk, beloer en bekoer het 




en my onervare winkeltalent besing en aangemoedig het.



En ja, ons albei weet ek't nie sakke vol geld gemaak nie, maar my hart en siel was ryk. Kyk hoe mooi vrolik was ons hier op haar eerste verjaarsdag.




Dankie vir Ma se uitbundige dankbaarheid toe ek vir Ma laat opvlieg het Durban toe toe ek daar gebly het en vir die briewe wat Ma getrou elke week geskryf het (ek koester hul steeds).
Liewe Ma pluk 'n koejawel

Dankie vir Ma se dankies - al het ek so dikwels gewens ek kon soveel meer gedoen het.  

Dankie Ma - ek koester jou in my hart, in my wese; in my siel - vir ewig.  

ps  Gelukkige Moedersdag Ma ...

Nog oor my liewe Ma hier en hier en hier en hier en hier 

9 comments:

  1. So baie, baie mooi Karin...het sommer baie geniet!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ek drentel deur ou blogs en kom op comments af wat vir my weggekruip het. Dankie Elizabeth!

      Delete
  2. Pragtig Sissi, het pink onbeskaamd die trane weg tydens hierdie nostalgiese onthou van jou dierbare ma. Liefde, S

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Sissi. Soveel water onder die brug ook sedert hierdie blogpost - maar dis een van my persoonlike favourites omdat die herinneringe opnuut opvlam. Ek mis my liewe Ma steeds so. En ek weet ook hoeveel dinge verander het met jou sedertien. MSA het jou lewe totaal verander en dinge sal nooit ooit weer dieselfde wees nie. Ek bly bevoorreg omdat ek langs jou sy mag bly op hierdie pad. Vir enigeen anders wat hier lees - 'n unieke pad en blog msainsouthafricawithsonja.blogspot.com

      Delete
  3. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete
  4. Hi Karin! Ek is mal oor jou griffeltjies. Dankie dat jy ook na my blog gekyk het. Joune is fantasties, inspirerend en just plain fun. Mooi bly en lekker skryf!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hallo Helene - dankie vir die inloer en jou liewe kommentaar. Dis so lekker om terugvoering te kry is dit nie. Loer weer in!

      Delete
  5. Mooie foto uw moeder en ook golden retriever en blog, liefde uit Belgie

    ReplyDelete
    Replies
    1. Baie dankie Louisette - hier sien ek nou eers hierdie liewe opmerkingkie van jou.

      Delete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...