2012-06-22

Kan jy Dankbaarheid Proe in 'n Vy?

Vanoggend wonder ek hoe lyk dankbaarheid?
Het sy 'n aangesig dat jy haar dadelik sal herken?
Is sy manlik of vroulik?
Kan jy haar proe?
Watter kleur en gedaante is sy?
Is sy baie duur?
Watter woorde verkies sy?
Kan jy haar aroma herken?

Ek lees hierdie erens vanoggend:

"Dankbaarheid -  dat gevoel van dank in je hart, stelt je in staat om alles wat je hebt te zien en te ervaren, en voor een moment te vergeten wat er ontbreekt."

En vae onsigbare kiekies begin hier diep uit die geborgenheid van amperse vergetenheid hul hand opsteek - en sê: 'dis tyd om ons weer af te stof, sodat jy die vlerke van onthou kan raaksien'.

Maar ek's effe bang, effe benoud, effe huiwerig - want ek weet maar te goed dat daardie plekkie met die naam 'Onthou', ook dieselfde plek is waar seer en heimwee ook wegskuil. Tog .... tog lig ek die deksel effe en laat 'n paar stofbelaaide kiekies ontsnap.

Vae kiekies diep geborge in my geheunis steek skugter hul hand op ....
en dankbaarheid skud saggies die stof van haar vlerke af,
konsidererend sodat ek nie stik of snik nie
... en vou hul om my skouer ...

Ek maak my oë toe ...
en die eerste kiekie van dankbaarheid sien ek voor my ...
die toneel so helder dat ek dankbaarheid voel en sien en ruik en PROE!....:

Dankbaarheidskiekie nr 1

Ma draai om voor die stoof, lepel half omhoog met die effe tuitende lippies om haar pruttende brouseltjie vir middagete te proe ... en kyk om na Pa in die deur.   Met uitgestrekte hande na haar, 'n offerhande: die eerste somersvy, nog vol van die moredou. Albei diep in hul tagtigs, baie jare saam, diep klowe van die lewe oorwin, en in hierdie gebaar onthou ek, was dankbaarheid omvou.



en ek voel dit: "dat gevoel van dank in je hart"

Nog oor my liewe Ma hier en hier en hier en hier en hier



4 comments:

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...