2012-08-10

Liewe Ek

Liewe Ek,

Gisteraand gedink daaraan om vir jou te skryf
Wou sommer met jou 'n paar dinge weer onthou.

Liewe Ek.
Onthou jy dae soos vandag?
Wanneer die wind so beneuk gewaai het
dat dit so sjwiesh-sjwiesh deur die dennenaalde?

Liewe Ek,
Dis blomtyd vir die lupiene
Onthou jy hoe die reuk ons omsingel en omseil het,
skaamteloos met ons geflirt het voordat ons nog van flirt geweet het
toe ons kleintyd daarin gekruip het, tonnels gemaak het?

Liewe Ek,
Kom ons gaan tel weer 'n mandjie dennebolle op
vir die donkie wat vanaand moet brand
Kom - vat my hand.

Liewe Ek,
Dis koejaweltyd
En hul stowe op Ma se vintage stoof met die twee stukkende plate
Met naeltjies
50 Jaar terug
Maak jou oë klein - skrefiesklein
en jy sal haar ook sien - belowe.

Liewe Ek,
Wanneer het ons dan grootgeword?
Kan jy daardie oomblik, daardie moment onthou?








1 comment:

  1. Sjoe, hoe laat jy my nou wonder wat ek sou vra in so 'n briefie aan myself... Mooi geskryf!

    ReplyDelete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...