2012-10-22

Perfektheid in my Dowwe Kiekies

Deesdae is ek so gesteld om beter kiekies te probeer neem - daar's soveel reëls oor komposisie, beligting, om te 'flash' of nie 'flash', om in te zoom of om nie in te zoom nie.  Lens- en filterveranderings, die verstellings vir skerp lig, kerslig, stikdonker, stabilisering ... en die lys gaan net aan en aan!  Nie 'n wonder ek maak so staat op my klein ou kameratjie se outomatiese stelling nie - nou nie die wonderlikste nie maar ek leer nog en ek neem deesdae meer notisie - veral as dit iets van naby is soos die perfekte detail van 'n nuutoopgemaakte blom met 'n vasgevange druppel daarin.

Maar dit tersyde gestel, my geliefkoosde kiekies, my favourite kiekies, my beste en my dierbaarste kiekies is die van lank terug - meestal van my kinders.  Die komposisie is hopeloos, somtyds afgesnyde koppe of voete of skewe bekke.  Bewerasies het dikwels ingetree en die lig was dikwels totaal verkeerd.  

Maar as ek kyk na hierdie ou kiekies - dan is dit my heel kosbaarste besittings.  Kyk nou die eerste ene - dis my 3 kinders - so 16, 6 en 4 onderskeidelik.  Dit was 'n stikwarm dag en die swembadjie was seker nog nie daar nie.   

Die skaduwees vertel my dis so drie uur in die middag en ek weet dat my tuin redelik boomloos toe was.  Daar was tye wat ek radeloos was omdat die tuinlose tuin vir my gelag het vir my powere pogings om die stryd teen onkruid, waterbeperkings en tuinontwerp.  Nou stap ek deur my tuin, 'n paar maal 'n dag en ek sit in die skaduwee van selfgeplante bome, verbly my in die Hymenosporum Flavum wat skaamteloos met my elke lente flirt en saans haar bekende jaarlikse parfuum soos 'n mantel oor die tuin drapeer.  Daar's paadjies, beddings, grondbedekkings en selfs 'n klein woud met 'n pienk bankie.   Una van der Spuy het my geleer om nie te skroom vir 'n snoeisker nie en my gestreepte kanna's word nes hare stomp gesnoei om blomloos te spog met hul gestreepte blare.  Maar nou ja, dis 'n ander storie - kyk nou hoe laat die kiekies my skoon verdwaal. 

Selfs al is die kiekie dof, is die genot, die lekkerkry van die hosepyp-dans onmiskenbaar daar.  My dogtertjie het die ougatste beentjies gehad en ek onthou dat ek sulke rooi valletjies aan die kante van die baaibroek vasgewerk het.  Die lekkerkry-lag sien ek tenspyte van die dowwigheid en kom lê oopbek om my hart.  Hoor jy ook die gegiggel?



Pret met die hosepyp

Die twee kleintjies het 'n dubbelbank gedeel en daar was elke aand 'n kat onder die kombers. Skielik is die rituele van badtyd, storietyd, slapenstyd en nagte wanneer ek 4 keer opstaan om seker te maak dat hul nie koud kry nie weer helder.  Selfs die 16jarige ene se kombers het ek ook stilletjies onder sy ken opgetrek - sonder dat hy wakker word.  Ag ek ruik sommer hoe ek hul lywe bepoeier het en wens ek kan vir 'n wyle die oomblik beleef.
Slapende skoonheid
Ouboet wat vir Sussie afskiet op die glibberige slippery-slide.  Weereens sien ek die gebrek aan tuin en onthou hoe ons dikwels oorstelp was met die ongenaakbare warmte in die tuin. Sien jy daardie stomp in die agtergrond?  Ek het dit steeds!  Destyds kon mense nie verstaan hoekom ek nie stompe opsaag vir hout nie tot ek later self begin wonder het of daar fout is met my.  Stompe en stokke word steeds vergader en gebruik in die tuin en wanneer hul te oorgroei raak dan sleep ek hul uit na 'n nuwe ereplekkie.  'n Mooi stomp verdien mos om aanskou te word.  Hierdie spesifieke ene het my dogtertjie se verbeelding op loop gehad.  En toe ouboet op 16 'n motorfiets kry (sy was drie) het hierdie stomp haar motorbike geword.  Gelukkig is die erf groot en kon sy met gesonde motorbike geluide haar motorbike in motorbike verbeelding rondbrom en rondry.  Deesdae verras die ou stomp my met die mooiste oranje paddastoele in die winter.
Wheeee
 Kersfees toe Kersfees nog Kersfees was en my kroos nog almal in die huis was.  Is dit nie so dat Kersfeeskiekies die grootste tuit aan jou hartsnare trek nie?  Hoe wens ek daar was meer kiekies van oomblikke soos hierdie.  Ma se tienerklong met sy ontwerpers step-haarsnit (deur sy Ma) en die twee jongetjies altyd kort op sy hakke.  Krismistyd o Krismistyd - hoe verlang ek terug na tye soos hierdie - toe my kinders nog kinders was, toe Ma en Pa nog onder in die dorp gelewe het en toe my kinders nog kinders was, nog ene kind was en my huis vol kinders was - sommige kinders nie eers my eie.
O Krismisboom
Liewe Pa met sy bakbene en 'paddaboudjies' soos wat hy kleinkinders genoem het.  Vir my oudste was hy Oupa McGyver want hy kon enigiets doen.  As ek na die kiekie kyk onthou ek die dag so goed by Midmardam.  Pa het vir die eerste keer gevlieg om te kom kuier en beide hy en Ma het lafenispilletjies gedrink langes die vlug.  Pa het gedink ek bly in Dallas - sy beskrywing - toe ons by die lang laning afry na die groterige huis in Natal waar die erwe kolossaal was.  
Pa en Paddaboudjies

Skaars 5 jaar oud maar Ouboet kon 'n katrol swaai en sy oog terselfdertyd hou op 'n flerriekat.  Voor die dag om was het kat en seuntjie  mekaar bevriend en kort-kort mekaar gevind.

Kom katjie - ons vang vis.
Ma se 3 kinders opgedress vir peetkind Michelle se troue - en my klein blom was die mooiste ou strooimeisie.  Die twee boeties het self spoggerig gelyk.  Hier by 'n trotse Ouma. My blompot het so mooi gelyk.  Mammie het haar harekransie en ruikertjie self gemaak - asook die bruidsruiker, en die mans se 'buttonholes' en al die versierings in die saal - hoe kon ek dit vergeet!  Mamma kan 'n troue reel!
Opgetof
Ouma was baie lief vir dans - en hier sien ek sommer die lekkerkry op haar gesig terwyl sy met Ouboet dans.  Lekker ou skoffel. Kyk die hoë hakke en sy is steeds kort!  Hy besef nie hoe baie sy hom ook mis sedert hy ook oor die water bly nie - om nie eers van sy Ma se hart te praat nie wat maar kort kort in skerwe spat as sy te veel daaroor tob.
Skoffel met Ouma
By die see, twee boeties speel saam terwyl oorle Oupa hul afneem.  Hy was kamerasku en het verkies om agter die lens te wees maar iemand het die oomblik vasgevang.  Kosbaar. Ek sien hom nog die dag toe ons terugtrek van Natal - waar hy ons inwag by ons huurhuis - hoe kon ons weet dat hy nog net twee maande sou leef?  
Kommerlose tye
Toe die kinders klein was het iemand altyd opgedres as Vader Kersfees en die twee kleintjies het 'n vermoede gehad wie hy was terwyl die oudste sonder twyfel geweet het.  Selfs met die swaaiende mode-kuif kan ek steeds die groot lag op sy gesig sien uitsteek terwyl sSussie in haar Krismisrokkie toekyk en net die koppie en twee ogies van Boetie bokant Ouboet se skouer loer.  Ouma's in die donker agtergrond.  Sal ek eendag kleinkinders hê?  Ek sal hul crazy Ouma wees.  
Krismisliefde in een kiekie
 Elke Paasfees het 'iemand' paaseiers weggesteek in die tuin.  Die soektog en ontdekkingstog was tot groot vermaak van die grootmense wanneer die gillende mensies elke keer nog een kry en later die skatte bring om gedeel te word.  Is daai gevreetjies nie opvreetbaar nie?  Ek kan maar so aangaan - dis mos my dierbaarstes.
Die Paaseierjagters.


Ja, my kiekies is krom en skeef en als is 'verkeerd', maar in my hart is hul die regste kiekies in my besit.
Posted by Picasa

No comments:

Post a Comment

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...