2012-10-20

Una van der Spuy en Ou Nectar

Soms verloor mens belangstelling - dit is mos nou maar so.  En my belangstelling in my tuin taan maar elke winter wanneer als vaal, nat, grys en donker bly.

Maar sedert tannie Una vd Spuy onlangs oorlede is, 'n maand voor haar 100ste verjaarsdag, duik haar twee tuinboeke elke nou en dan misterieus op, asof dit my liggies tart.  Sy drentel kort-kort in my gedagtes en ek dink dikwels aan my kuiertjies by haar verlede jaar toe sy bietjie hulp gesoek het om kiekies te kies vir haar nuwe boek.  Haar oë sien nie meer so goed nie en sy het getwyfel of sy die beste kiekies gekies het.  Kan ek haar help kiekies kies asb.

Ou Nectar 
'n Uittreksel uit Una se epos vroeg in Januarie verlede jaar het so gelui (gekwoteer PRESIES soos dit op my rekenaar verksyn):

"I have about 3000 pix from which to choose but i have to choose ones that have not appeared in either of the other  2 books aND THAT CAUSES DIFFICULTIES BECAUSE MY EYESIGHT IS NO LONGER GOOD AND \I NEED SOMEONE WITH PLANT KNOWLEDGE AND PHOTOGRAPHIC KNOWLEDGE TO GIVE AN OPINION  AS TO WHAT SHOUJLD BE SELECTED FROM THE MASS OF PIX  WHICH OF COURSE ARE ALL IN ALPHABETICAL ORDER ON THE COMPUTER."

Haar rekenaar was in haar onpretensieuse slaapkamer, onder die venster, wat uitkyk oor haar 80-jare handewerk - Ou Nectar.

Ek voel of ek 'n  heiligdom betree van die ikoon van tuinbou en vir een of ander rede effe senuweeagtig. Hier sit ek in haar stoel, waar sy haar dinke dink, haar drome droom, haar onthoue onthou en seisoene sien kom en gaan.

Ek kyk stadig rond om als in te neem - 'n enkelbedjie gestroop van fênsiegeid, haar bedkassie wat my laat dink aan my liewe Ma s'n, familiekiekies teen die muur, haar spieëltafel met roompies, poeiertjies en lipstiek.



Una vertrou my op haar pc, haar stoel, haar plek - hier waar sy haar dinke dink en haar drome droom

 Ons kyk en kies kiekies.  Met haar bril en haar vergrootglas kom sy nader na die skerm om die detail te sien wat ek na verwys.  Met 'n vergrootglas?  Verbaas vra sy hoe ek dan nou die foto's so groot op haar skerm gekry het.  Ek wys haar hoe en ook om in te zoom deur ctrl + te druk om die letters groter te maak. (Skynbaar was ek die enigste ene wat ooit eposse vir haar in ekstra groot font gestuur het).  

"kARIN, THANKS  for the heavy type which is so much more readable than the usual
I look forward to seeing you Monday at 9.30 until midday when I have a little rest before an afternoon of bridge .    Una
Dear Mrs vd Spuy
The week's just about over again and a dreadful wind is blowing here in Somerset West.  This morning I dragged...."

Tannie Una retireer en kyk my verstom aan:  "my deah - that's simply marvelous! (Sy't so half teruggehop soos 'n eens-ballerina en haar hande saamgeklap):  Why has no one EVER showed me this before?  Oh just look how beautiful - just look at the detail in that picture!  Simply marvelous!".  Ek wonder wie was meer in haar noppies -  Una wat 'n maklike tip geleer het, haar foto's mooi groot en duidelik kan sien of ek wat die Doyenne iets nuuts kon leer en die uitgelatenheid op haar 99 jarige gesig kon aanskou.

Ons kyk kiekies, ons drink tee, ons praat plante en bome, haar gesig verhelder telkemaal wanneer ek haar mooie eie kiekies op haar rekenaar besing, inzoom om vir haar die detail te wys van die grys stam van een van  haar geliefkoosde bome of wanneer ek liries raak oor 'n azalea, 'n magnolia  of 'n roos.   Later eet ek sop en brood met die Doyenne van Tuinbou van Suid Afrika, op die stoepie van Ou Nectar, neffens langs haar grandieuse donkerpienk eetkamer.




Una maak vir my sop warm in haar onpretensieuse huislike kombuis

Sop saam met Una op haar stoep.  Die blommetjieskoppie spesiaal vir my (regs) en haar geliefkoosde beker links.

Selfs Una se ou mercedes word gebere in 'n paradys van plantegroei

Una deel my fassinering met boomstamme en was so in haar skik toe ek haar die foto stuur
"Dear Mrs vd Spuy,

How are you?  I thought you might like these two pictures of your birches I took on my last visit - it took quite a bit of acrobatic manouvres to get the angle ;)"


Teen hierdie tyd weet ek dat die grys Dusty Miller een van haar geliefkoosde aksentplante is wat goudkleurige plante kontrasteer, soos die netjies gesnoeide privets wat oral deur haar tuin verskyn. Daardie klein heiningkie is al oor die 30 of 40 jaar oud en word jaar na jaar getrou gesnoei.

Mildelik deel sy stories oor toe sy gedurende die oorlogsjare alleen met 3 kinders hier kom bly het en met die hulp van 'n paar Italiaanse prisoniers 'n groot gedeelte van die berg agter die huis kruiwa vir kruiwa na die voorkant aangery het om die palet te vorm vir die dekades van tuinbou wat sedertdien daar ontwikkel het.  Met opgerolde moue en opstandige vasberadenheid het sy Ou Nectar getem, geplant en gevorm in 'n wêreldbekende en erkende tuin.  Beide Una se huis en tuin is as monumente verklaar.  

Hier is 'n paar van my eie geliefkoosde kiekies van Una van der Spuy en Ou Nectar.  


Ou Nectar 

Hieronder poseer Una mooi vir my en het sy vir my gevra om haar 'crap-apple' af te neem.  Sy't my mooi vertel om nie in te zoom nie maar om nader en nader te gaan totdat ek amper in die bos ingeval het.  Die fluitjie gebruik sy om te blaas wanneer sy haar 2 of 3 handlangers nader roep vanwaar hul ook al êrens besig is om te werk.  Hul laat val als en kom dadelik.  Oulik het ek gedink - dalk moet ek dit probeer op die kinders? In die sakkie is haar snoeisker.

Una van der Spuy
Die 'crabapple' kiekie waarvoor ek nader en nader in die bos moes kruip vir Una - sonder zoom.  

     

'n Waterstroompie kronkel en drentel deur die hele tuin, tussen klippe en pronkerige plante.

 

Vanuit haar slaapkamer kyk sy af op die stokou sipres wat sy jare gelede vir haar man geplant het.

Ek is gek oor die ou afgeleefde trappe en die huis wat van alle hoeke vir mens glimlag.
 'n Eienaardige interessante rankplant.

 2 Stokou Spreiers lyk asof hul ook monumentstatus verdien.
En hier koekeloer die huis weer deur die stamme van twee enorme sipresse.

Ek't 'n bietjie verlief geraak op hierdie rankplant, vermoedelik 'n Clematis.


Kan daar soveel pragtigheid in 'n blom wees?  Die mooiste Azaleas wat jou asem wegslaan.
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/

Skokkend flambojant pienk en pragtig.
Gorgeous photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/
Vermoedelik nog 'n clematis.
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/

Die formidabele Una het die dag so mooi gelyk in haar pasjmina - spesiaal mooi uitgedos vir my toergroepie, hier in haar element terwyl sy nog 'n aspek van haar tuin verduidelik. (Kiekie deur vriendin Laurette vd Merwe)
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/


'n Sekere tyd van die jaar sing hierdie tafel 'n loflied van blomme.  Die enorme sementbank agter versteek die garage waar haar stokou mercedes benz geparkeer was.  Een van my persoonlike spesiale hoekies in haar tuin.
Grys plante wat lyk soos 'n waterval - glo my dis met doelbewustheid so beplan en geplant
Petrea en Brunfelsia groei vrolik saam

Ek wens die paadjie na my kombuis het so mooi gelyk.  'n Stokou stam wat doelbewus oor die jare gesnoei is om 'n perfekte boog oor die paadjie te vorm.  Ek doen dit ook nou en moet met alle geweld enige man met 'n snoeisker of saag weghou want hul wil dit net 'oopsaag'.   Grrr!

Lang skaduwees oor die agtertuin van ou Nectar

Hierdie oorgroeide ou 'toolshed' het 'n bekoring soos min ander


Una van der Spuy het jaarliks haar tuin oopgestel vir liefdadigheid.  Hierdie dae was so gesog en jy was gelukkig as jy saam met die Doyenne deur haar tuin kon stap vir 'n persoonlike begeleiding soos hierdie.  Ek was bevoorreg om self 'n toergroep te reel met 'n klompie vriendinne.  'n Besonderse dag wat ek ewig sal troetel.


'n Mooi paadjie besaai met afgevalde blomme wat lei na die mooiste ou trappe.

Die mooiste ou trappe.  Dit lyk of mens dit moet skilder.

Kyk nou hoe mooi.  Selfs Tretchikoff sou dit onweerstaanbaar vind.

Nie seker nie maar ek vermoed dis 'n banksiaroos.


Una van der Spuy, kiertsregop, 99 goue jare, in haar element terwyl sy 'n groepie waarderende toeriste deur haar tuin begelei.

Wiegende Wisteria teen die hemel.


'n Leliewit azalea - een van haar gunstelingblomme.
Ek hoop daar word een in haar eer benoem.

Nou het ek hierdie een se naam vergeet - maar dit lyk soos 'n krismisroos en - dis die tipe blom wat romantiek besing.

'n Versteekte standbeeldjie wat gelukkig tussen die azaleas waghou.

 Weer die trappe wat lei na nog 'n interessante hoekie.

Pers Petra wat welig en oorvloedig blom ... vir Una.

Die on-imposante ingang na die paradys in Jonkershoek.  Ai ou Nectar - ek hoop jy word behou vir ons nageslag.

'n Collage - Una se boek met haar griffelkie aan my.
Hierdie lente sal my tuin ook oopgestel word vir liefdadigheid - en ek dink met waardering, liefde en nostalgie aan my tye saam met Una van der Spuy in haar geliefde Ou Nectar.  Liewe Una, mag die Hemel virewig jou met lente omhels.

Ek sluit af met een van haar boodskappies in 'n epos aan my nadat ek 'n webalbum vir haar gemaak het na 'n besoek aan haar in 2010 en ek alleen op 'n warm dag in haar tuin rondgedrentel het:

"DEAR KARIN    ;   You clever girl to have made such a good web album at a time when there is nothing but dust in the background of the plants, and in the middle of the day when \i never take photgraphs. i LOOK FORWARD TO SEEING YOUR NEXT ONE WHEN THE WEATHER IS BETTER AND THE PLANTS AND I HAVE RECOVERED FROM THIS DISASTROUS SUMMER.    you obviously are a hot shot on the  computer;  I fight mine daily and it always wins.--"



Meeste foto's my eie, maar daar is 'n paar pragtiges van Laurette vd Merwe (haar foto's is spesifiek aangedui onderaan die betrokke foto's).  Meer oor Laurette en haar fotografie .

PS Ja, ek HET toe 'n Ope Tuin gehad vir Helderberg Hospice daardie jaar.  Una van der Spuy was my inspirasie.  
http://laurettesphotography.yolasite.com/


Posted by Picasa

3 comments:

  1. 'n Pragtige beskrywing van die intieme oomblikkies wat jy met koningin van tuine gedeel het, Dankie

    ReplyDelete
  2. Tassia said: "Liewe Karin
    Hoe ongelooflik bevoorreg was jy om so iets met so ‘n spesiale person te kon deel. Haar raad vir lank lewe was dat jy fisiek en verstandelik genoeg oefening moet kry – fisies het sy self in die tuin gewerk en verstandelik het sy baie blokkiesraaisels ingevul en boeke geskryf. Wat ‘n inspirasie vir alle vrouens. Groen van jalousie. Tassia. "

    ReplyDelete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...