2012-12-14

Krismis is nie Krismis sonder die Krismisstorie nie

Eendag lank, lank gelede was daar die mooiste brightste ster
in die hele wye wêreld ...
(foto van internet)
Dis weer Krismistyd
Daardie tyd van die jaar wanneer mens veronderstel is om vol te voel
Versadig en tevrede van die seëninge van die afgelope jaar
Met damme vol van happy memories.

Dikwels het die jaar maar sy tol gevat 
en jou leeg gelos
Leeg soos 'n Karoodam in die dorre somerson.

Mens kort nou en dan 'n regte Krismisstorie.


Enorm was die verligting toe die moeë blink ster uitendelik na eeue en eeue se reis en rondhang in die lug gaan stilstaan het en die 3 kamele kon rus want al is 'n kameel 'n kameel, hulle moes verskriklik  dors gewees het.  Die ster se skyn het begin flou word en hy het ook rus en lafenis gekort. Die ster het sy laaste helderste skyn opgeskyn vir hierdie eeuelange trippie en dit het tyd geword vir hom om af te tree.  Jong nuwe sterretjies is intussen ook gebore en hul het gretig op sy koms gewag en uitgesien na die wonderlike skynstories wat hy van sy helder lewe met hul sou deel.  Hul kon nie wag vir hul skyn om te groei nie en het gewonder waar hul eendag hul mooiste skyne sal skyn.  Hul het soveel om te leer en sal hard moes oefen want as jy 'n ster is, is dit jou werk om altyd te skyn, hard te skyn, blink te skyn en te aanhou skyn, al voel dit soms dat jy wil ophou skyn. Die klein sterretjies kon nie wag om vir die groot beroemde ster sy spesiale aftree-sterrebed met die mees fantastiesste uitsig te wys nie.  Hy was met blye oop arms ontvang en het uitgesien na die groot banket wat gedek was in sy eer, maar het nog een klein takie gehad om te vervul.

Nadat die kamele water gekry het en uiteindelik kon relax het die 3 wyse slimme moeë manne bietjie gebad en hul fancy pancy skoon klede en kopdoeke versier met ekstra blink bling. Hul was uiteindelik reg om die spesiale Baba te ontmoet en met opgewonde afwagtig met hul persente van mirregoed, wierookgoed en goudgoed saggies en eerbiedig die stal binnegegaan.

So mooi het hy sy laaste skyn geskyn
(foto van internet)

En daar lê Hy, in die stilste hoekie van die donker stal wat wonderbaarlik glad nie stink nie. Die amper afgetrede moeë ster, het sy laaste spesiaalste mooiste beste ligstraal gehou vir hierdie oomblik en deur die enkele gat in die dak saggies laat skyn. So mooi het hy geskyn daar op die Jesusbabytjie, sodat Maria Hom mooi kan versorg en dat hy ekstra mooi lyk vir die wyse ooms wat so verskriklik vergekom  het.

O toggie - ons moet net nie vanaand poep nie
(foto van internet)


Die mooiste Baby wat  nog ooit geleef het lê in die kripbedjie wat Josef by die donkies geleen het. Hul het selfs van hul sagste strooi saamgegee om die krippie mooi te laat lyk vir die special occasion. En die donkies het ooreengekom om mooi stil te wees die aand, hulself te gedra en hard te probeer om niks stinks aan te vang nie.


Dis weer Krismistyd
Daardie tyd van die jaar wanneer mens veronderstel is om vol te voel
Versadig en tevrede van die seëninge van die afgelope jaar
Met damme vol van happy memories
Dikwels het die jaar maar sy tol gevat 
en jou leeg gelos
Leeg soos 'n Karoodam in die dorre somerson
Dan kort mens nou en dan 'n regte Krismisstorie

Geen Krismis was eintlik Krismis sonder dat iemand die storie vertel het nie.  
Geen kind was eintlik kind sonder dat hy deel was van 'n Krismiskonsert nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder die klank van Stille Nag, Heilige Nag nie.
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder 'n flikkerende Krismisboom nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder stillerige oumas en oupas, besige ma's, brommende pa's, stryende broers en susters, opgedresde niggies, gebrilcreemde nefies, 'n soenerige halfgeskeerde omie en 'n belipstiekte drukkende tannie nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder 'n gevoel van andersheid, vrolikgeid, oordadige poedings en soms stupid persente nie.  
En dit als oor die Krismisstorie.


Kom - dis tyd vir die Krismisstorie
(foto van internet)


Vir die luisterende kind het dit nie saakgemaak wat die Baby met weird rookgoed gaan doen nie, ook nie hoekom goud belangrik was nie of hoe op aarde Hy met die mirregoed sou speel nie.  Dit als het niks saakgemaak vir die kind wat jaar in en jaar wag vir die Storie nie. Maar die kind het geweet en geglo soos wat jy glo dat die sterre elke aand skyn dat die Jesusbabytjie jou altyd sal liefhê, vir altyd en vir ewig.  Soos in forever.


Dit het begin reën. Jy kan maar kom Krismis
(foto van internet)


Dit het begin reën
Die voeëls en diere het begin saamtrek
om die dorre leë Karoodam.
Jy kan maar kom,
Krismis.

9 comments:

  1. Plesier Elizabeth - altyd lekker om van jou te hoor wanneer jy inloer. :D

    ReplyDelete
  2. Dankie Carine. Veilig 'seil' waar jou bootjie ookal is. x

    ReplyDelete
  3. Mooi gegriffel, Karin. Krismis is vir my nou weer volmaak, want ek is veilig ingetrek saam met my man, my kinders kom kuier, daar's gammon en skaapboud in die vrieskas en vir seker sal daar trifle met baie sjerrie en 'n ekstra skeut vir my ma wees wat nie hier is nie. Dit maak nie saak waar 'n mens is en hoeveel presente jy oopmaak nie, want Krismis is net doodgewoon liefde ... baie daarvan.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Hoe lekker warm laat jou boodskappie my hart klop Carol. Jy is so reg, daar's niks meer kosbaarder as om omring te wees deur jou dierbaarstes nie en bodemlose emmers vol liefde.

      Delete
  4. Sjoe, jy vat raak met hierdie stukkie Karin! Ek het tussen al die besig nodig gehad om hierdie woorde vanoggend te lees! Dankie!

    ReplyDelete
  5. Sissi jou griffel bring vir my die volgende; ons moet soos kinders glo, Krismis moenie complicated wees nie, maar met vreugde en eenvoud gevier word. Dankie vir die Boodskap. Liefde van jou Sissi

    ReplyDelete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...