2013-03-19

Uiteindelike Diagnose - Driepunthartsindroom

Uiteindelik is ek gediagnoseer vir 'n probleem wat bykans 33 jaar gelede posgevat het. Driepunthart met Doefsindroom. Dit was skuins na middernag in die middel van die Kaapse winter.. Aanvanklik was dit slegs 'n klein onsigbare bultjie wat aan die punt van my hart ontwikkel het. Die ding is, na hierdie punt sy opwagting gemaak het, was dit asof die punt maar altyd daar was, en asof ek nooit eens daarvan bewus was nie. 



Hartsepunt was glad nie pynlik nie - dalk hoekom dit nooit juis 'n probleem was nie. So het hartsepunt deel geword van my bestaan - die enigste vae teken was binne-in my hart self - want die hartklop het as gevolg hiervan 'n  nuwe ritme ontwikkel.  Niemand kon dit egter hoor nie - maar ek't altyd geweet dis daar - klein ekstra kadoef.  So het hartsepunt en kadoef deel van my lewe geword en ons het heel lekker aan die punt van Afrika geleef - sonder probleme en in harmonie.  Tot eendag.

Dit was 10 jaar later en die suid-oos het gewaai oor die Hottentots-Holland berge.  Haar wit haredos het geil  oor die Helderberg gelê - ewe windskeef, slierterig maar so mooi. Dit was rondom 4 uur die middag en 'n 2de punt het langes hartsepunt gedy. Wat nou - hoe kan mens tog leef met twee hartspunte - sy langs sy - styf langes mekaar nes die piesangs wat Ma jare gelede vroegsoggens vir Ouma op die Kaapse parade gekoop het.  Maar daar is dit toe - en kan jy glo, dit was glad nie lank nie - toe is dieselfde symste gevoel daar - asof hartsepunt1 en hartsepunt2 maar altyd daar was - ek kon glad nie onthou hoe die lewe voorheen daarsonder was nie.

Na 'n kort rukkie het hartsepunt2 ook sy merk gelaat en sy eie doefdoef by kadoef gevoeg. Glo my, dit was glad nie seer nie - ek vermoed my hart moes effe swel om vir die punte, doefdoef en kadoef plek te maak. My nuwe hartklop het so geklink: kadoef doefdoef kadoef doefdoef kadoef doefdoef.  My lyf het die nuwe ritme gemaklik aanvaar - niemand het dit juis agtergekom nie.

So het Hartsepunt1, Hartsepunt2, Kadoef, Doefdoef en ek vir twee Herfs- en Lenteseisone aan die voet van die berg voortgegaan met ons lewe. Gedurende daardie tyd moes ons trek en Natal met sy sjampanje winters en flambojante Thibouchina's het my bekoor.  Vroeg soggens het Loeries vir my gesing.  Laatmiddag het apies oor die grasperk jolifikasie gehou.  My lyf het vrede gemaak met Kadoef en Doefdoef se ritmes in die 2 hartspunte. Tot eendag.

My 40ste jaar het voor die deur gelê.  Dit was rondom eenuur die middag, toe ek dit weer voel - kan dit wees?  'n Gevroetel het hier tussen Hartsepunt1 en -2 my onrustig gestem en ja wraggies, 'n derde punt het begin nesskop.  Kan jy nou meer!  Hartsepunt3 was effe bekend maar ook effe anders en dit was ook nie lank nie of die drie punte het saam langesmekaar gelê soos 'n netjiese bossie piesangs vroegmore op die Kaapse parade in die winter.  Vir 'n kortstondige tydjie het die nuwe punt my laat wobble - amper asof ek so effe getrek was - net so liggies beskonke. Die ekstra punt het ook 'n eie doef gemaak - anders as die ander twee - glad nie 'n doef nie maar 'n taDa.  Kadoef, DoefDoef, Tada - met 'n driepuntige hart.

Nou is dit bykans 33 jaar sedert die eerste simptome - maar ek is blakend gesond - drie-puntige hart en al!  Die ritme het deel geword van my lewe en my daaglikse bestaan.  Net ek ken die ritme - en ek weet ek kan nie leef sonder enige van hierdie punte nie. 

So as jy nou en dan 'n vrou sien wat effe snaaks hinke pink met so 'n speed wobble nou en dan - dan weet jy dis nie 'n beskonke vrou nie - dalk net ekke. 

Kadoef, Doefdoef, taDa
Kadoef, Doefdoef, taDa
Kadoef, Doefdoef, taDa 

Kadoef, DoefDoef en taDa

8 comments:

  1. Pragtig Sissi! Kadoef, Doef-doef en Ta-da ook!

    ReplyDelete
  2. Ek het gedink dis moeilik om kommentaar te lewer maar sien mens kan dit doen onder 'anonymous'. Dan moet mens net die kode intik wat dan gevra word en dan gaan dit deur na jou vir goedkeuring. Heel maklik. Ek sit my naam by ingeval jy wonder wie hierdie anonymous is. Groete Barbara

    ReplyDelete
  3. Absoluut lieflik! Uiteindelik maak dit nou vir my ook sin. Ek ly aan dieselfde Driepunthartsindroom. Behalwe by my, het taDa in die middel gekom en Doefdoef aan die einde. En ek moet bieg, ek wens elke dag dat ek 'n vierde punt kan ontwikkel, genaamd Voila! xxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ai Elizabeth - hier sien ek nou na 3 jaar eers hierdie mooi comments. Baie dankie.

      Delete
  4. You had me in tears my friend EN jy toor met woorde. I love you to bits! xxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Ag hoe laat jou woorde my smile. Dankie Jacqui.

      Delete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...