2013-10-13

'n Troosblom vir jou

‘n Troosblom vir jou

My liefde vir tuin en natuur het die afgelope tyd intensifiseer  (as daar nou nie so ‘n woordjie bestaan nie, gee ek haar nou permissie om gestalte te kry) en ek twyfel of dit net is omdat ek onlangs van my groot hartstuin moes afskeid neem.  In my gewese tuin was baie blomme en blomdraende struike.  Hoe graag sou ek nie vandag daarin wou stap en ‘n armvol blomme pluk nie, ‘n armvol troosblomme.  Ek sou graag ‘n spesifieke een vir jou wou kies.

(Demmit dis ‘n uitdaging om te tik met ‘n kat wat soos ‘n stukkie wondergom op my skoot vassit, om warmte te soek – maar hy’s my optelkat, my afgetrede rondloperkat, my ‘die-kat-kom-terug-kat’, my bejaarde koulike kat – so ons tik maar saam).  Veral as die storie wat nog nie ‘n storie is nie, hier tussen jou gedagtes en jou vingers ronddwarrel – maar die liewe ou kat het nou sy lê gekry so ek probeer weer my gedagtes inryg soos ‘n onwillige wapperende vlieër.  Waar was jy nou weer gedagte?  O ja, ’n troosblom vir jou.

Vir een of ander rede, wat ek glad nie kan verklaar nie, het ek die afgelope tyd meer bewus geraak van die pyn wat mense ronddra – sommige dra hierdie pynpakkie gemakliker as ander, ander gaan swaar gebuk onder hul las. Dis seker maar menslik om ander se pyn te vermy, om blindelings te loop met oogklappe, veral as jy stoei met jou eie wroeginge.  Ons raak so bedrywig en besig met ons eie lewens dat ons nie tyd in ons harte inruim vir die pyn van ander nie. Dalk sal ons eie harte sodoende beskerm en beskut bly wanneer ons die pyndraers vermy; wanneer ons anderpad kyk; wanneer ons onself besighou met klein onkruidjies wat by die agterdeur groei.  

Vir my het die teendeel homself aan my openbaar en weet jy, my hart voel ligter omdat ek toelaat dat ek hul pyn vir ‘n wyle kan voel.  Ek voel bevoorreg dat my hart vir ‘n wyle kan stilstaan, vir ‘n wyle rerig kan verstaan, vir ‘n wyle kan voel wat hul so braaf  heeltyd ronddra.

Ek huil soms hopeloos te maklik wanneer iets my raak – iets waarvoor ek dikwels om verskoning moes vra en die gedoemde oorgangsjare die skuld gee vir hierdie swakheid van my.  Tot ‘n liewe dierbare ou Italiaanse vriend my daarop wys dat dit ‘n heimlike voorreg is wanneer jou siel oorweldig raak met emosie, dat dit oorloop in trane.

Ek het’n lysie gemaak van mense wat oor my pad gekom het, wie se pyn my aangeraak het.  Hierdie lysie is privaat – maar dalk herken jy jouself wanneer ek vir jou vandag hulde bring en vir jou ‘n troosblom pluk.
  

Vir jou wat vir slegs 5 maande geluk geken het met jou sielsmaat -  vir jou haal ek versigtig my mooiste kaktus uit.  Die bogger is so slim om al die dorings te hê om hom te beskerm.

-  Vir jou wat moes aanskou hoe jou dierbare ouers hul lewensprobleme probeer verdrink het in goedkoop wyn, mag jou lewensprankel altyd in jou glimlag wys en jou fabulous ridder jou altyd bybly – vir jou pluk ek ‘n takkie delikate jasmyn wie se reuk jou sal omsingel.

-    Vir jou wat so verlang na jou verweg kind, moenie moed verloor, hy verlang ook – hier’s vir jou ‘n katjiepiering.

-         Vir jou wat elke oggend jou braafste gesig opsit, ten spyte van ‘n siekte wat jou feitlik daagliks aftakel – hierdie helderrooi poppie.

-         Vir jou wat al jare wroeg waarom jou lewensmaat ‘n geweer op jou gerig het en jy wonderbaarlik bly leef het –‘n bloedrooi angelier.

-        Vir jou wie moet aanskou hoe jou liewe Ma in ‘n onbereikbare wêreld van Alzheimers verdwyn – ‘n helderpienk ranonkel.

-          Vir jou wat nie betyds by jou Ma se sterwensbed kon wees nie – ‘n laventelblom (nes die een wat ek onder haar kopkussing namens jou gesit het)

-          Vir jou wat jou man virewig moes groet, al was hy so oud, jou smart kon ek skaars verduur – vir jou ‘n geel kappertjie (nes die bossie wat ons in sy kis gesit het).

-          Vir jou wat 3 keer per week gaan op dialise en elke dag wonder / bid of vandag die dag is wat jy ‘n nuwe nier sal kry – ‘n frangipaniblom.

-          Vir jou wie se ma diep groewe in jou siel gelaat het omdat sy so mislik was met jou in jou kwesbare kinderjare – ‘n weskusvygie.

-          Vir jou wat vir jare lank in die put van aaklige verslawing was – ‘n statige speldekussing.

         



-         *  Vir jou wat vir my skryf  wanneer jy steeds na jou oorlede Ma verlang terwyl jy in ‘n straatkafee in Italië sit – ‘n pienk sweetpea.

-          Vir jou wie 15 jaar laas met jou Pa gepraat het en jouself steeds bluf jy verlang glad nie na hom nie – ‘n blou koringblommetjie.

-         * Vir jou met jou langverwagte ou babatjie, wie se Ma nog net twee keer haar kleinkind kom sien het, al woon sy net 'n katspoeg ver– ‘n jong bergvaring.  

*     Vir jou wat skuldig voel omdat jy nie jou broer kon red van die strate nie - 'n geel lupien.

* Vir jou wat daagliks wonder of jy jou kinder / kleinkinders sal sien grootword, ten spyte van die stryd wat jy voer met kanker - 'n sterk fier koninginprotea.

* Vir jou wat hulpeloos moes toekyk hoe 'n siekte jou dierbare aftakel - 'n perskeblom.


Omdat ek vir ‘n wyle jou kwesbaarheid kon deel, is my hart ligter, my wêreld helderder terwyl ‘n sonstraal warm op my seer skouer skyn.  Ek struikel oor ander klein seëninge - ‘n nikotiana blom onverwags by my agterdeur en verlei my met haar kenmerkende reuk waarvoor ek so lief is.  ‘n Bosduif kom bad vir die eerste keer in die voëlbad terwyl hy my stip dophou.  ‘n Reënboog staan lank genoeg dat ek van die pad kan aftrek sodat ek langer kan kyk.  My middelkind wat 3 maande gelede uitgetrek het, staan skielik by die voordeur en gee my ‘n lang innige druk.  My blompot met haar laggende gesig hou met uitgestrekte hande vir my twee knarsvars selfgebakte koekies.  In drie dae het twee jongmense hul kindertjies na my gebring en hul het my almal spontaan lank gedruk. Die ene se woordjies klingel steeds in my ore toe sy my waaiend groet - 'tannie ek verlang dan al klaar na jou!'.  


    
Ek bring vir jou ‘n troosblom

en ek voel geseënd.

11 comments:

  1. Mooiste salfwoorde...ek is nou wel nie op jou lys nie, maar iewers tussen die spesiale blomme le ook my seer - so ek neem sommer vir my ook daai blommetjie..Dankie!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Liewe Anna Paradys - ek is so bly dat jy vir jou 'n blom geneem het. Hul is almal bedoel om troos te bring - vir jou ook. xx

      Delete
  2. Dankie Karin dat jy my herinner om my seëninge te tel en dankbaar te wees oor my "sorgvrye " lewe in die lig van hoeveel hartseer mens kan beleef. Ek is dankbaar en dra my lassie met vreugde want ek is gespaar van diepe hartseer. Seën en troos vir die wat nie so kan getuig nie.

    ReplyDelete
  3. Liewe Sissi, jou mooi blomgeskenke sal troos vir baie bring. Ek neem my rooi poppie en gee vir jou met liefde die blomme wat jy nodig het. Mis daardie groot wille geurige bosse uit jou tuin! xx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Sissi. Ek mis ook my tuin met sy wille bosse.

      Delete
  4. Salkwoorde is 'n pragtige uitdrukking!
    Ek was so opgewonde en verbaas toe ons gister 'n hoepoe in ons tuin het - herinnering aan ons ouerhuis en tuin waarin in ons grootgeword het. My bosduif.
    Wat 'n lieflike blogpost! Baie dankie vir die tyd wat opsy sit vir hierdie pitkos wat jy deel.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Maggie - ek het so lanklaas 'n hoepoe gesien.

      Delete
  5. Absoluut lieflik! Met soveel empatie en gevoel vir ander, skyn jy helder soos 'n sonneblom. xxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. My troosblom bly "The lily of the valley" wens ek kon weet hoe om dit in SA te kweek

      Delete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...