2011-04-17

Don Wessels - 'n Spesiale Mens

Mens ontmoet nou en dan mense wat uitstaan van ander omdat daar iets anders ... iets spesiaals is wat hul skei van die alledaagse nuwelinge wat ons lewenspaadjies kruis.  Vanaand wil ek jou vertel van so iemand wat ek gister ontmoet het.  

Sy agtergrond .... 4 jaar geswot op Stellenbosch, honeurs en meestersgrade in internasionale politiek behaal en genomineer as kandidaat vir Parlement in 1999.

Ander brokkies soos dat op 4-dag kanovaarte op die Oranjerivier was,(waarvan hyy die organiseerder sowel as die gids was), op verskeie visvangekspedisies gegaan het(ook wat hy gereël het) en al in vier verskillende lande visgevang het.  Hy het verskeie berge geklim  waarvan Kiliminjaro die hoogste is. 

Wat hierdie brokkies noemenswaardig en imposante prestasies maak, is die feit dat dat hierdie man totaal blind is... blind en ook geen  hande het nie. 

Ek stel vanaand aan jou iemand baie spesiaal voor - Don Wessels.  Don was in 'n landmynongeluk toe hy 19 jaar oud was waartydens hy albei hande en albei oë verloor het.  Al bogenoemde prestasies het hy behaal NADAT die ongeluk.


Don is 'n motiveringsspreker wat sy storie vertel en deel hoe hy dit regkry om sonder 'n wrok, met lewenslus en vreugde te lewe.


Don vang vis, hy kyk bedags na sy 3 kindertjies waarvan die oudste 3-en-'n-half is, hy is 'n motiveringspreker, is rekenaarvaardig en het juis in die week vir sy Ma 'n vliegtuigkaartjie Kenia toe bespreek om vir sy broer te gaan kuier.  Don klim berge en ry by riviere af ...
en nog ander goed wat my gedagtes laat steier het.




Sy storie het hy vertel met gemak agter die mikrofoon en met 'n fyn sin vir humor.  Don het op 'n stadium sy donkerbril afgehaal en vir ons sy prostetiese oë gewys wat die dokters vir hom gemaak het om soos sy oudste seuntjie s'n te lyk.


Na afloop van die verrigtinge was dit vir my so 'n voorreg om Don te ontmoet.  Jy sien, ek woon in die huis waar Don grootgeword het.  Ons het destyds die huis van sy ouers gekoop.  En ek en Don het so lekker gesels terwl hy onthou waar hy gespeel het - daar waar ek nou tuinmaak.  Ek sien uit na die dag wanneer hy sy vrou en kindertjies en hopelik ook Tannie Bettie, bring om vir hul te wys waar hy grootgeword en gespeel het.








Lees meer oor Don op sy webtuiste.




   

No comments:

Post a Comment

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...