Showing posts with label My dierasietjies. Show all posts
Showing posts with label My dierasietjies. Show all posts

2011-09-11

Kom - ons stap bietjie in die wind ...


Jy bly maar 'n liewe ou skat
en op hierdie erf
'n mooie lawwe ou kat ...


Ek wonder wie fluister in jou oor
dat net jy weet wanneer dit tyd is ...
 tyd is dat jy jou lenige harige lyf
 hier op my skoot moet kom lê




Dankie my liewe ou katterjas
ek't nie eers besef - tot nou
dat hier 'n lastige brosserigheid ...
'n krapperige broserigheid
'n ongenooide swarerigheid 
vanmiddag in my krop kom skuil het nie ...

Kom ma-se-kat
kom ons gaan stap bietjie buite ...
tot daar waar die jasmyn blom 
en die poppies hul koppe begin lig
kom ...
kom ons gaan stap bietjie buite in die wind.




Ma se ou katterjas ...

2011-08-15

Ruik jy ook die Lente?



Oor die naweek het ek die eerste jasmynblom in my tuin geruik voordat ek dit gesien het en die lug soos 'n hond besnuif totdat ek dit weggesteek agter 'n bos ontdek het.  Die bome in die tuin slaap nog, maar die onkruid floreer asof hul betaal word. 


Ek kan nie wag vir wanneer die poppies en die botterblomme hul jaarlikse dans in my tuin hou nie... en vir wanneer die lavender langes die paadjie swaar dra.

 Hier pluk ma-se-eie blom lavender - 'n paar jaar gelede - toe sy nog klein was.  Ek sien uit na my skokkende rooi bignonia sherere (blood trumpet vine) wanneer sy weer soos flerrie oor die ou deur hang.


Ek's gek oor die laang lote wat sy ongemerk liefderik om iets krul of net tok-tok aan my kamerdeur om my te nooi om koffie onder haar koel mantel te kom drink.
 


Elke jaar is'k van vooraf verlief op die agapante wat soos kandelare pronk en in die wind hul blou antennas waai, om te sê: 'hier's ek weer, hier's ek weer, met my bloublommetjies voor jou deur - tralalala'...

...dan pluk ek 'n paar dat hul in die botteltjies by my agterdeur kom verder dans - styf  langes 'n takkie jasmyn of nicotiana en nou en dan bestrik  met 'n vars lint.




Lente en geel blommetjies laat my dadelik dink aan die ingerygde blommekransies wat ons as kinders gemaak het, nes hier onder ...



Ma-se-eie-blom (die einste ene wat vroeër ma-se-laventel pluk), saam met haar kleinniggie. Hul het blommekransies gemaak ... en nes toe ons klein was, het sy geweet om haar grootniggie se hare daarmee te betooi.

 

 

Kom Lente - ons wag vir jou!



 

2011-07-02

Florence Nightingale en kat doen nagbesoek





'En Ma bly lief vir julle
ten spyte van die toestand van jul kamers'


Gisteraand, terwyl jul altwee al geslaap het,
het ek en Neo, die afgetrede rondloperkat die donker trappe geklim na jul kamers.

Met ingehoue asem het ons versigtig oor die chaos getrap, 
in die lig van 'n klein flitsie, 
soos 'n wafferse Florence Nightingale 
(sodat ek jul nie wakkermaak nie).


Hy - Maseklong   - (20 en op Kollege)
Sy - Maseblompot - (18 en in matriek)


In die flou lig van die klein flitsie
het ek vir 'n klein ewigheid gehuiwer en jul so staan en bekyk
my asem opgehou
en gehoop jul word nie wakker nie.

In die donker kamer is daar mos 'n spesiale atmosfeer
so half heiligs
as  mens jou kinders so aanskou.


Hy, Maseklomg, met stoppelbebaarde kennebak,
'n dik haredos op sy kop en 'n harige been wat by die kombers uitsteek,
die hele kamer besaai met rekenaarparte (nes ouboet) en te veel borde, glase en koppies uit my kombuis.  Ek sukkel om die kleinseuntjie wat agter my aangewaggel het in jou groot lyf te herken.  Jy's amper reg om die nes te verlaat. 'n Rusteloosheid is in jou elmboë soos 'n jong arendsvoël wat sy vlerke begin fladder om dit sterk te maak voordat hy uit die nes tuimel om die wonderlike lewe in te vlieg.

Sy, Maseblompot, met lang donkerbruin krullerige hare wat Julia Roberts jaloers sou maak,
'n vollipperigemond wat Angelina se dogters sou beny,
jou vel glad en gloeiend soos 'n outydse ponds advertensie
jou lang perfekgeskaapte vingers waaruit die mooiste kunswerke en inspirerende woorde vloei, lê ontspanne op die kussing,
jou jong lyf soos 'n resiesperd wat Pa's na haelgewere laat gryp.

O, en ek wonder,
ja ek wonder 
wanneer jul dan nou eintlik so gou grootgeword het?
Waar was ek dan in die tyd dat jul oornag 
gestoel en geblom het tot amperse grootmense,
wie het jul gebeendere kom vul dat jul skielik langer is as ek?

En ek wonder,
wie gaan jul harte steel en hoe gaan jul kinders lyk?  Gaan jul hul eendag met my deel?  Hoe gaan jul dit hanteer wanneer jul siele gekneus word? Het die Here genoeg engele aangetree om jul te beskerm wanneer jul binnekort ook die paaie gaan aandurf met splinternuwe karlisensies? Wat van die ongekende lewenspaaie waarvoor mens geen lisensie of handleiding kry nie?  

Ek't 'n rukkie gesloer, 
en onthou en verlang skielik na toe jul my nog toegelaat het om langs jul beddens te kniel met 'n gebed terwyl ek jul kinderlywe streel.  Ma bid steeds vir julle.

Opnuut verlang ek ook na die oudste lam
toe ook hy nog in die huis was 
en ook 'n deurmekaarkamer beset het.

En ek wonder,
word verlang ooit makliker?

En toe,
voordat die lastige knop in my keel
en die nattigheid in my oë 
die oomblik spoil,
toe
toe steel ek dit,
so tussen die harigheid van jul hare
'n wollerige wang, 
'n pond's voorkop
harige- en resiesperdbene,
het ek 6 soene by jul elk gesteel,
sulke vinnige geluidlose piksoene,
en ek het stilweg lekkergekry
omdat jul nie vies wakkergeword het nie.

En ons het stilletjies omgedraai,
die skurende kat en ek,
en met my Florence Nightingale lampie
is ons weer af met die trap die donkerte in.


Kiekie vanaf Internet



2010-07-12

Die kat kom terug!



Neo
die oorlewingskat het weer verdwyn
soos in sy jong rammetjiedae
toe hy soms vir weke aaneen verdwyn het
en elke keer teruggekom het met een of ander wond wat ten duurste moes gedokter word.

Hy was die veearts so modelpasient
hy sou tjoepstil lê 
terwyl hul sy wonde toewerk!

Dan het hy weer by die huis gebly vir maande aaneen 
totdat die wandelluswind weer op 'n sekere manier gewaai het 
Ek vermoed sy ou lang stert is 'n antenna
wat 'n sein van êrens opvang,
sy swerwingsinstink hom oorweldig
en hy maar weer die pad gevat het
en hy verdwyn het
na wonderlike misterieuse katkuierplekke
om dan maar weer later, na 'n week of drie terug te keer,
al hinkende pinkende
om maar weer gedokter en gepamperlang te word.

Hy is nie meer so jonk nie, die ou rondloper,
en ons het rerig gedink dat hy nou sy aftreejare bereik het
en nou tevrede is met sagte kossies
op die 'eat as much as you like' basis.

In die winter spandeer hy sy tyd op 'n sagte kombersie onder die heaterpaneeltjie,
in die somer êrens in die tuin in 'n koeltetjie
tot so 8 of 9 dae gelede
en ons na 'n paar dae besef het,
dis weer sulke tyd
die gryskat Neo is weer weg
en dis winter
en dis koud
en dit reën
soos dit net in die Kaap in die winter kan reën
lank en aanhoudend.

En elke oggend wanneer al die harige dierasies toustaan vir kos
sink ons harte elke keer meer en meer
want Neo die rondloperkat is nie tussen hulle nie.

En ons het nou al begin dink
ag,
ons sal hom altyd onthou vir sy avontuurlustigheid
die ou gryskar
ons ou rondloperkat,
een keer was hy glad weg vir 3 maande!

Die dag toe ons besluit op 'n nuwe bondeltjie katlewe om die leegtigheid wat swaar in ons harte kom wortelskiet het te vul
slenter hy in met sy lang stert
antenna in die lug
asof hy maar net vir 'n koppie tee uit was!
Jip, Neo die avontuurlustige kat was terug!



Neo en Diego
Klein Diego se eerste dag by ons. Neo kom terug op dieselfde dag na 3 maande van swerwe


Maar nou ja, hy is nou al lank in die tand
en ons het nie gedink hy sal dit hierdie keer oorleef nie
en ons het begin aanvaar hy het seker maar vir oulaas ingegee
ingegee vir die wind wat hom weer gelok het
gelok het met beloftes van wie-weet-wat
wat hy maar weer onweerstaanbaar gevind het
Neo die rondloperkat is weer weg.
Finaal?

Gister was dit 8 dae
of was dit 10?

Terselfdertyd pla'n Gekerm en gemiauw van die vakante huis hierlangesaan ons so, dat ons die eienaar opspoor om in die donker te kom oopsluit om iemand se dierasie wat benoud vasgevang is,
vasgekeer in hul dak, 
van alle plekke, 
te red.

Dit kon tog nie onse Neo wees nie
want jy sien
onse Neo kon nie miauw nie.

Hy het destyds sy miauw opgemiauw in die swartsak
nadat een of ander bliksem hom en sy boeties
op die ashoop gelaat het
(en gered was deur 'n samaritaan).

Al wat hy daarna kon uitkry was 'n ou piepgeluitjie wat ek sukkel om te verwoord
dit was so 'n sagte effense ou skwiekgeluidjie
die geskwiek in my yskasdeur was 'n hele paar oktawe harder as sy pieperige miauw.


Stel jou voor
'n kat wat saggies skwiek / piep!

Om terug te keer na die kat in die bure se vakante huis se dak
die kat in die dak miauw nou so benoud toe hy agterkom maar hier is mense naby
dat ons reken dit moet 'n baie baie GROOT kat wees 
die kat miauw asof hy saam met Pavarotti kan cd's maak
hy miauw van sopraan na bas na alt met gemak
so hard dat die dak wou lig.

Met die skyn van die flits in die plafon se gat kom kat nader na die lig
en die miauw raak sagter soos wat hy nader aan die lig kom
en die wilde groot kat se pavaroti miauw verander
dit verander in 'n sagte piep
niks harder as die geskwiek van my yskasdeur!

Sy dierbare grys gevreetjie is nog meer grys van die vuilgeid
 brandmaer ...
hy lyk niks groter as 'n oorgrote ou eekhorinkie nie
'n regte sakkie beentjies
shame
maar verwilderd van die lank opgesluitgeid innie bleddie dak
weier hy dat die vreemde man op die leer hom afhelp!

Toe kon sy mensema dit nie langer hou nie
sy klim soos 'n jong kat toe maar self op die wankelende leer
en lok hom nader
met 'n skwiek wat nou in haar eie stembande kom vassit 
en die grysgevrietjie amper opvreet toe sy hom uiteindelik in haar arms toevou.



Dierasie Recovery. Neo die rondloperkat opgekrul op die bank naby Chester die retriever.

En hy het sagte kossies geët
Vannag styf langes sy mensema kom lê
die hele nag
en nou en dan geskwiek
saggies
nes die yskasdeur
en vanoggend kom kos soek
en toe
onder die heaterpaneeltjie kom nesskop
op 'n sagte kombersietjie
die hele lange dag.

Almal neem beurte om te kom check
op Neo die rondloper gryskat
hy's terug!

Meer oor Neo hier en hier 

2010-05-17

Neo ... oorlewingskat

Kegan en Neo


So 11 jaar gelede het ons gehoor van hom,
van hom en sy boeties en sussies
in 'n bleddie swartsak
vroeg een oggend op die ashoop gevind
ons harte het dadelik vermurwe vir die ou dingetjie.

Hy't lank nie gemiaw nie
ek reken hy't sy miauw opgemiauw
in daardie bleddie donker luglose plestieksak.
In ons harte het hy homself, sonder seremonie
Ingewurm, ingevroetel en ingesmokkel. 





'n Goeie companion is die ou harige diertjie,
altyd soekend na 'n gewillige skoot.
Hy's die getrouste pel tydens 'n siekbed
en selfs gewillig om Ma se bril te verdra
net vir hierdie kiekie.





Hy's glad nie 'n 'basket case' nie, ou liewe Neo
hy't al die grootste rotte huistoe gebring, 
net vir show en tell.






Met sy blitsige voorpoot het hy elke liewe koivis gevang 
myne en ek vermoed die heelwaarskynlik die hele buurt s'n
- die boggertjie
terwyl Ma nie kyk nie, natuurlik
enige beskaafde kat kort mos sushi.
Ou harige liefste dierasie 
jy hoe kan ek dan vir jou kwaad bly as jy so leepoog vir my loer?





Kom sit maar dan op my skoot

daar's altyd 'n ou holtetjie 
hier onder my handpalms
op Ma se skoot.

Nog oor Neo die oorlewings kat hier



2009-08-19

'n Wekie saam met Ma en die hond ....



Dit was 'n skielike besluit wat ons gemaak het 
die hond en ek 
om Ma (95) te neem vir 'n paar dae na Kleinmond 
net ons driekies
Ma, die hond en ek.
Ons het vinnig 'n paar goedjies gepak





'pak tog 'n ekstra battery in vir my gehoordingetjie, kind,
jy weet as die ding in my oor doodgaan kan ek boggerol hoor'
Ek weet - dan is dit asof iemand Ma se lig afgesit het 
'sommer 2 langbroeke, 4 hemde en tog genoeg sakdoeke - jy weet ek hou nie van tissues nie 
my eie waslap en ek hou van daai klein handdoekie - ek kom makliker orals by met 'n klein handdoekie, asb kind 
Ja, vat tog maar die biblioteekboek - wag laat ek gou sien? - 
0 ja dis 'n mooi storie en die skrif mooi groot
enne 
o ja - my vergrootglas.
Jy weet mos die bril is nie genoeg nie en daai oogoperasie het ook nie waffers gehelp nie 
uhm 
6 panties is seker genoeg, of hoe, kind? 
Ons gaan tog seker nie 'n jaar wegbly nie - lag lag 
Wat nog? O, en sommer daai 2 jerseys sonder die moue en met die sakkies - ek het altyd 'n sakkie nodig vir my sakdoek
jy weet mos.



Ag kind, en my slippers 
my ou liddoring hou nie heeldag van skoene nie
tandeborsel, kammetjie, bra's,
trek maar die gordyne toe 
en waar's my kierie? 
So ja 
Kyk die hond staan al en wag by die deur - 
Kom Chester!  
Het jy die lig afgesit kind? '

En daar gaan ons gang af van die 'home' 
Ma se wieletjiesoetkys in my linkerhand 
Ma aan my regterarm, hond op ons hakke 
so elke nou en dan word die kierie gelig in 'n waaigroet-aksie vir 'n outannie wat ons bietjie jaloersvieserig agterna kyk
en 'sien jul anderdag weer - ek weet nie wanneer die lady 
(dis nou ekke deesdae - ek't status gekry)
terugkom nie - ons gaan Kleinmond toe'

En verbeel ek my of sien ek haar tong net so effens oor die lippe kom
so asof sy wou 'whê' sê? 
Uiteindelik is ons in die kar
Ma inge'strep' 
kyste agter in die bak
die liewe hond op die agtersitplek 
reg vir die trippie.

'Ai my kind jou kar ry tog so lekker
wat 'n heerlikheid om so bietjie weer saam met jou op 'n outing te gaan
en ek is tog so bly dat jy darem ook destyds 'n lisensie gekry het oooo - ek ruik al die seelug'.

Dit was 'n lekker week.
Ons het koffie gedrink,
'n paai en ietsie soetigs van Angies se lekker winkel gekoop
'n ander dag 'n eier op toast
dan weer ‘sommer 'n koppie-sop-my-kind’
en beskuit en koffie vroegoggend. 

Ons het stokou kiekies gekyk wat ek op die 'komputertjie' vir haar kon wys
En met haar bril en vergrootglas 
het Ma die gesigte sorgvuldig bekyk
gekyk 
en gekyk en verkyk.

Dan, dan het sy onthou 
dan het sy die vergrootglas neergesit, 
en ver getuur, 
verby die skerm 
deur die muur
verby onsigbare eindelose jare
dan het ons maar weer koffie gedrink 
met 'n ‘stukkie-beskuit-my-kind’.

Dan het Ma gewoonlik bietjie gaan skuinslê 
en die hond was kort op haar hakke
hy het gewag tot sy lekker lê
dan met 'n een versigtige sprong deur die lug getrek
met sy dubbel heupdisplaasde heupe
om langes haar te beland 
daar op die bed.

Haar ou oë het 'n glinsterinkie ingekry amper asof sy iets stouts aanvang 
‘honde hoort mos nie eintlik op die bed nie, Chester
maar lê maar by ounooi’
terwyl hy hom teen haar neervlei en sy die harige lyf oor en oor streel
Oor en oor en oor en oor.

Ek's so bly ek het hierdie kiekie
van Ma en die hond 
op die bed
daardie wekie in Kleinmond
net ons 3.






Ma is baie lief vir snoek en niemand kan dit gaarmaak soos sy nie.
Die Engele het die snoek Kleinmond toe gestuur daardie week.
En die snoek het geloop, 
geloop soos nog nooi te vore nie
daardie week.  Die bote het gekattermaai onder die vis en die stil ou hawetjie van Kleinmond het verander in 'n gegons van mense, bote, seevoëls, hawkers, karre en kinners.  'n Hele klomp joligheid en gejilligheid - daardie week in Kleinmond.





Ek het 2 snoeke gevang
vars uit die see
van die boot van Helena die vissersvrou
het ek hul gevang
Twee bielies 
Met my aas van twee vyftigrandnote met nog tienrand elk vir die vlek.


Helena met die vlymskerp mes het hul behendig woeps-waps oopgevlek terwyl die mans versigtig bietjie wegstaan en met hande half ongeërg gekruis oor hul gulpe.



L

Ma het oopmond gelag toe ek die groot visse in die wasbak sit
'haai kind! - wanneer laas het ek sulke vars vis gesien?'

Ma het haar moue effens opgedruk, 'n vonkel het in haar oë gedans en met haar gewillige hande het my Ma my gewys en my breedvoerig vertel hoe om die snoek te bewerk, in meel en eier te doop en dan  

om en om en om te draai 
en te braai in die vlakolie

tot dit mooi bruin is.

Meegevoer het ek haar dopgehou met hierdie ritueel wat ek so dikwels as kind gesien het
en tog nou vir die heel eerste keer rerig, 
so half in slow motion
my verkyk aan my liewe Ma 
hoe sy vir my leer visbak.


Later het ons snoek en brood geëet

Bybelskos

net ek en my Ma 
en die hond wat 'n lêplek in Ma se hart oopgesmokkel het

het geduldig gewag vir sy stukkie aalmoesie
'n flentertjie oorskiet wat hy weet sy vir hom sal offer om uit haar bakhand te lek
terwyl sy koesterwoordjies vir hom fluister.


Ma se weerkaatsing in die glas koffietafel terwyl sy koffie drink en by die venster uit tuur


ons het weer koffie gedrink
haar silhoeet in die wolke
weerkaats in die koffietafel
en 'n onverwagte simpel knop het in in my keel kom sit.




Later het ons het afgery see toe
sommer net gesit
die see geruik 
en die wolke en die mense bekyk 



Terug by die huis het ons weer koffie gedrink 
Dan het die tweetjies weer kamer toe gedrentel

sy skuifelend voor in die gang af met die kieriekie wat klik-klik
en hy geduldig op haar hakke
die hond en Ma


Die hond het homself genooi op die bed 
en sy het uitgesien na die ou harelyf langs haar 
en dit was SO reg.


 
Dit was 'n goeie week.  Dit was die beste week.  




Die Engele het Ma in 2009 kom haal - lees hier
Posted by Picasa
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...