Showing posts with label Ma. Show all posts
Showing posts with label Ma. Show all posts

2014-01-22

Ou Lady, Blompot - After Bleddie All

As 'n volwaardige skrywer beskou ek my nou allermins, eerder as 'n ongereelde tjommelende griffelaar.  'n Gedagte begin in my kop rond te dwarrel en as die suid-oos, wat rerig woes kan waai hier in die Weskaap, dit nie totaal in sy glory waai nie, dan kan hierdie gedagte vir lank hier in my onderbewussyn rondskarrel.

Dit gebeur deesdae so bleddie selde, dat ek al gedink het dat die tyd aangebreek het om my Griffelblad netjies toe te vou soos 'n boek wat nou sy mufwordstadium bereik het en dit virewig in mufboekwêreld in te stuur.  After all, as ek begin kyk na die bladsye waar sommige sogenaamde professionele skrywers hul opinies uitdruk oor die ongeskrewe en geskrewe reëls; etiket; aanvaarbare skryftermes en -terminologieë; uitdrukkings; bruikbare anglisismes en blah di bleddie blah van skryf, dan dink ek, demmit, hul's seker after all bleddie reg en ek moet my plek mooi ken in hierdie wêreld en my p's en q's met sorgsaamheid kies.  Is ek vermetel optimisties om te dink dat hierdie griffels, hierdie ritmelose tjommels van my vir enigeen iets kan beteken en dat mense maar eenvoudig netjies beskaafd is, niks kommentaar lewer nie terwyl hul hul vreklag in hul nimmereindigende kennisvolle moue? 

Nou ja, soos liewe Ma sou gesê het as sy nie geweet het wat om te sê wanneer sy nie saamstem nie maar ook nie eintlik weet wat om te sê nie: 'nottendêm!'.  So, ek gaan maar so aantjommel op my manier al is dit nou net vir jou en my.  

Noudat ek dit uit my sisteem het - gaan ek maar vir my 'n glasie Two Oceans gooi, omdat die boeing oor is en ook omdat ek kan.  As Ma nog geleef het, sou sy ewe reggeskuif het in stille afwagting vir iets uit haar Blompot se pen, nes ek deesdae in stille afwagtig sit op my eie Blompot se kreatiwitasies (ja ek weet dis nie in die woordeboek nie so what?) om dit later verstommend te aanskou.  Ma het tog altyd so graag oor my gebrêg weet jy - my haar Ou Lady of Blompot genoem. Selfs die oppassers by Robari wat so mal was oor Ma, het saans vir haar gevra: 'en was Ou Lady weer hier vandag Ouma?'  

Om nou die griffelblokkasie te probeer loswikkel, laat ek maar vertel wat nou hier in my kop rondswem, met behulp van die glasie Two Oceans.  As ek die woord 'Ma' tik dan is daar 'n onmiddellike emosie wat hier in my opwel wat nie lank duur voor my oë in twee oorlopende poele beland nie, ten spyte van die feit dat dit nou alreeds vier-en-ietsie jaar is sedert die engele vir Ma kom haal het, toe sy vyf-en-negentig-en-'n-half was.  Wanneer dit effe oorgeloop het dan is daar 'n stortvloed van gedagtes wat in my kop ronddans - so baie gedagtes wat so verskriklik vinnig in my kop die cha-cha doen, dat dit vir my moeilik is om die dans te stop en een te kies!  Laat ek tog maar probeer.

Robari in Somerset-Wes.  Ma het  soontoe getrek toe die engele vir Pa kom haal het - een maand voor sy negentigste verjaarsdag. Sy was ag-en-tagtig-en-'n-half.   (Dit is 'n ander storie, want die gedagte laat my steeds nou en dan bleddiewil snik en dis nou al elf-en-ietsie jaar after bleddie all! Bleddie all - Ma was lief om dit te sê - nooit gevloek nie - net ge-bleddie all).  So ek beter nou die familietradisie voortsit - after bleddie all.)

Anyway, (Ma se ander woord wat sy van gehou het om te gebruik wanneer sy woorde en sinne en stilstuipes probeer las het), Ma het aangepas in die ouetehuis aan die onderkant van die dorp en vir die eerste keer in haar lewe was sy drie maaltye per dag bedien.  Sy moes knyp om nie die borde bymekaar te maak en kombuis toe te neem en te bleddiewil te was nie.  After all (o  ja - nog 'n Ma-frase) - sy was 'n stoere boervrou, 1914 gebore in die dae van oortollige jarelange se swaarkry.

Ou Lady het gereeld gekuier en Ma se kamer mooi getooi met beddegoed, gordyne en fieterjasies.  Een ding wat Ou Lady nie kon hanteer nie, was die afgeskeepte tuin by die aftree oord (hul hou nie van die woord ouetehuis nie).  Dit was aaklikg.  Dit was droog.  Die laaste 3 plante het hygend gewag dat hul ook verlos word van hul stryd.  Tot eendag. Ou Lady het stilletjies, ten spyte van 'n gegrommigheid oor watertekorte, haar voet kaalvoet neergeplak en in die tuin begin spit en grawe, tot groot vermaak van almal.  Met die verloop van tyd het die oumensies stuksgewys uit hul kamers gekom en kom kyk wat aangaan.  'n Opening is later in 'n muurtjie gemaak sodat hul makliker met hul rolstoele, walkertjies en kieries om die snuif-en-vroetel beplante area kon beweeg.  Ou Lady het die plantmuur met kompos en vrolike plante belaai - elke plant kon gekneus en gesnuif word.  Daar was katjiepierings, tiemie, sterjasmyn, sweetpeas en 'n vrolike mengelmoes van plante.  

Ma was eintlik skaam, het ek agtergekom.  Negentig somers en ek vind uit Ma was 'n skaam meisie en nie voor-op-die-prêm soos heelwat van die pretensieuse ou tannies nie.  Anyway, my skaam Ma sou dan buite kom sit het naby my  terwyl ek rondkruip in die tuin en begin gesels met die tannies wat uitgeskuifel gekom het uit hul kamers. 'Isn't this so lovely', 'I love it',  'I wonder who she is', sou ek hul hard hoor fluister. Dan sou Ma ewe vermakerig regopperig sit en haar ek-wil-nie-brêg-nie maar after bleddie all, 'its my daughter', met 'n blatante brêggerige klank in  haar stem.  Dan het Ou Lady maar skaamweg dieper in 'n bos lekkergekry vir my brêggerige skamerige ou Ma en met nuwe ywer tuingemaak.

Ou Lady het versot geraak op weerloserige oumensies en sy het telkens na haar asem gesnak as sy die onverwagte lekkerkry uitdrukking sien wanneer sy 'n katjiepiering of 'n vroetelbossie kruie in 'n gekreukelde afgetrede ou hand kon druk.   

Ou Lady;  Blompot; Ongereelde Griffelaar; sy is maar hier rond.  Tot later!

Liewe Ma op die muurtjie waar Ou Lady geplant het

Sterjasmyn, kappertjies en pienk magrietjies

Liewe Ma se hande met 'n takkie sterjasmyn

Bont vrolike bedding

'n Bejaarde tannie wys ons hoe om te HoelaHoep

Twee vriendinne wie ek gereeld in Checkers gekry het -
hul in my kar gehelp het en vir 'n plesierritjie geneem het
voor ek hul gaan aflaai het

Prettige Heather wys Ou Lady die HoelaHoep

Liewe Ma op die blommende muurtjie

Liewe Ma by die fonteintjie wat nie meer wou fontein nie.  'n Vrag kompos
en 'n paar plantjies sweetpeas later, was sy die pronkerige vrolikheid self
  










2013-03-18

Hy was sy Ma se kind

Hy was sy Ma se kind 
al het hy als neffens sy siel verloor
was hy steeds haar kind
al het almal hul rug op hom gedraai
was hy steeds sy Ma se kind
al was sy wil geknak
sy siel gekneus
sy lyf verinneweer,
hy was steeds,
vir altyd,
 sy Ma se kind.

Hy was sy Ma se kind.
in die sagte bries van die bergwind het hy sy troos gesoek
 en soms gevind
'n hond, 'n meerkat, 'n eekhoring en selfs 'n uil
het die ongerepte geborge kind in hom ontdek.

 Bome, hoë bome het hom altyd bekoor
hy kon liries raak oor 'n denneboom
soos 'n wildsbokkie wegraak in 'n bos.
In die ritsel van die veld
in die suis wind
kon hy homself verloor.

Die wind, die see, die berg
daar kon hy ongehinderd en vry bly droom
daar waar hul hul uitgestrekte arms gewillig om hom vou
sonder oordeel
sonder eise
as geen mens kon of wou.


In sy bejaarde ou Ma se oog was dikwels 'n huiwerige traan
as sy verweg gedink het, 
gewonder het,
gebid het,
oor die afgedwaalde seun
hy was immers steeds sy Ma se kind.

Met die jare heen het die juk van die lewe te swaar geraak
sy kunstigheid vir ewig van sy hande gewyk
die swaarkry na elke winter het sy merk gelos
nou sweef sy siel saam met die wind, die see en die bos.

Hy was tog steeds immers sy Ma se kind
hy was ook
my Ma se kind

Ma se kind - my boetie - ek soek jou steeds in elke dennebos
ek luister steeds vir jou stem in die wind
Mag liefde en vrede hul arms om jou vou
jou elke aand aan die slaap wieg
Die driewiel is opgerig ter nagedagtenis aan Ingrid Jonker wat baie van haar kindertyd in Gordonsbaai deurgebring het wat op die strand daar aangebring is.  Die woorde wat wat daarby verskyn is:

"The child just wanted to play in the sun"  en

"The child peers through windows of houses and into the hearts of mothers"






2012-12-14

Krismis is nie Krismis sonder die Krismisstorie nie

Eendag lank, lank gelede was daar die mooiste brightste ster
in die hele wye wêreld ...
(foto van internet)
Dis weer Krismistyd
Daardie tyd van die jaar wanneer mens veronderstel is om vol te voel
Versadig en tevrede van die seëninge van die afgelope jaar
Met damme vol van happy memories.

Dikwels het die jaar maar sy tol gevat 
en jou leeg gelos
Leeg soos 'n Karoodam in die dorre somerson.

Mens kort nou en dan 'n regte Krismisstorie.


Enorm was die verligting toe die moeë blink ster uitendelik na eeue en eeue se reis en rondhang in die lug gaan stilstaan het en die 3 kamele kon rus want al is 'n kameel 'n kameel, hulle moes verskriklik  dors gewees het.  Die ster se skyn het begin flou word en hy het ook rus en lafenis gekort. Die ster het sy laaste helderste skyn opgeskyn vir hierdie eeuelange trippie en dit het tyd geword vir hom om af te tree.  Jong nuwe sterretjies is intussen ook gebore en hul het gretig op sy koms gewag en uitgesien na die wonderlike skynstories wat hy van sy helder lewe met hul sou deel.  Hul kon nie wag vir hul skyn om te groei nie en het gewonder waar hul eendag hul mooiste skyne sal skyn.  Hul het soveel om te leer en sal hard moes oefen want as jy 'n ster is, is dit jou werk om altyd te skyn, hard te skyn, blink te skyn en te aanhou skyn, al voel dit soms dat jy wil ophou skyn. Die klein sterretjies kon nie wag om vir die groot beroemde ster sy spesiale aftree-sterrebed met die mees fantastiesste uitsig te wys nie.  Hy was met blye oop arms ontvang en het uitgesien na die groot banket wat gedek was in sy eer, maar het nog een klein takie gehad om te vervul.

Nadat die kamele water gekry het en uiteindelik kon relax het die 3 wyse slimme moeë manne bietjie gebad en hul fancy pancy skoon klede en kopdoeke versier met ekstra blink bling. Hul was uiteindelik reg om die spesiale Baba te ontmoet en met opgewonde afwagtig met hul persente van mirregoed, wierookgoed en goudgoed saggies en eerbiedig die stal binnegegaan.

So mooi het hy sy laaste skyn geskyn
(foto van internet)

En daar lê Hy, in die stilste hoekie van die donker stal wat wonderbaarlik glad nie stink nie. Die amper afgetrede moeë ster, het sy laaste spesiaalste mooiste beste ligstraal gehou vir hierdie oomblik en deur die enkele gat in die dak saggies laat skyn. So mooi het hy geskyn daar op die Jesusbabytjie, sodat Maria Hom mooi kan versorg en dat hy ekstra mooi lyk vir die wyse ooms wat so verskriklik vergekom  het.

O toggie - ons moet net nie vanaand poep nie
(foto van internet)


Die mooiste Baby wat  nog ooit geleef het lê in die kripbedjie wat Josef by die donkies geleen het. Hul het selfs van hul sagste strooi saamgegee om die krippie mooi te laat lyk vir die special occasion. En die donkies het ooreengekom om mooi stil te wees die aand, hulself te gedra en hard te probeer om niks stinks aan te vang nie.


Dis weer Krismistyd
Daardie tyd van die jaar wanneer mens veronderstel is om vol te voel
Versadig en tevrede van die seëninge van die afgelope jaar
Met damme vol van happy memories
Dikwels het die jaar maar sy tol gevat 
en jou leeg gelos
Leeg soos 'n Karoodam in die dorre somerson
Dan kort mens nou en dan 'n regte Krismisstorie

Geen Krismis was eintlik Krismis sonder dat iemand die storie vertel het nie.  
Geen kind was eintlik kind sonder dat hy deel was van 'n Krismiskonsert nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder die klank van Stille Nag, Heilige Nag nie.
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder 'n flikkerende Krismisboom nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder stillerige oumas en oupas, besige ma's, brommende pa's, stryende broers en susters, opgedresde niggies, gebrilcreemde nefies, 'n soenerige halfgeskeerde omie en 'n belipstiekte drukkende tannie nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder 'n gevoel van andersheid, vrolikgeid, oordadige poedings en soms stupid persente nie.  
En dit als oor die Krismisstorie.


Kom - dis tyd vir die Krismisstorie
(foto van internet)


Vir die luisterende kind het dit nie saakgemaak wat die Baby met weird rookgoed gaan doen nie, ook nie hoekom goud belangrik was nie of hoe op aarde Hy met die mirregoed sou speel nie.  Dit als het niks saakgemaak vir die kind wat jaar in en jaar wag vir die Storie nie. Maar die kind het geweet en geglo soos wat jy glo dat die sterre elke aand skyn dat die Jesusbabytjie jou altyd sal liefhê, vir altyd en vir ewig.  Soos in forever.


Dit het begin reën. Jy kan maar kom Krismis
(foto van internet)


Dit het begin reën
Die voeëls en diere het begin saamtrek
om die dorre leë Karoodam.
Jy kan maar kom,
Krismis.

2012-09-21

Jêm, Klisted Egg en Ouma se Trooskos

Gisteraand kry ek 'n potjie aarbeikonfyt persent - tuisgemaakte aarbeijêm wat skoonsus Anna gemaak het.  Vanoggend was dit perfek saam met die plaatkoekies - of  crumpets soos my Engelse kinders dit  ken.  Deesdae waardeer ek soveel meer selfgemaakte kookselgeskenke - soos vanoggend toe ek liefde in Anna se selfgemaakte jêm proe en ek besef hoe kos wat deur geliefdes gemaak en mildelik gedeel word, se lekkerte seerplekke hier in jou binneste donkerste kamers van jou siel kan bereik.  Dis asof dit die  krapperige plekke ontdek wat my die afgelope paar dae onrustig gestem het.    Ma sou so gehou het van hierdie jêm. Ma het nie uit boeke gekook nie, maar haar fynproewerstong het gou besluit of dit te waterig, loperig, suikerig of wat-ookal-erig was.  Maar die aarbeijêm sou sy besing het.


Kyk, Ma was die queen van vyejêm,  en elkeen wat ooit daarvan geproe het sal sonder huiwer kopknikkend en dalk kwylend met my saamstem.  Sy't nou en dan appelkoosjêm gemaak as Theo dit van die plaas gebring het en dit was ook lekker.  Maar haar vyejêm van die vrygewige boom by die agterdeur - dit was die spreekwoordelike cherrie - altans die vy - op die koek!  Saam met Ma se selfgebakte brood om haar wankelrige ou kombuistafel was dit 'n kombinasie wat selfs Nataniël in trane sou laat uitbars.

Sedert die Engele Ma kom haal het, besef ek meer en meer die trooswaarde wat haar kos aan ons verleen het.  My oudste liewe kind, Kegan, het dikwels in die middae soontoe gedrentel na 'n seker-maar-mislikerige-dag by die skool.  En Ma het skaamteloos haar blygeid onverblom laat straal as 'n kleinkind onverwags, soos 'n persent, voor die deur staan. Ma het almal gevoer met iets uit die kombuis - soos 'n ritueel.  Soos altyd, het sy in 'n alles-in-een-sin dan vir hom gesê 'hallo my kind, kom jy is seker honger' vooruitgestap kombuis toe waar sy outomaties uitgereik het na die brood, die afgeleefde ronde broodbord en met 'n 'sit kind' en sonder om te karring of te vra oor sy sigbare mislikerige dag by die skool, gewag vir dit wat sy geweet het hy gaan vra,  'jou klitsed egg, asseblief Ouma'. Omdat hy as klein seuntjie baie tyd saam met Ouma en Oupa gespandeer het, is hy Afrikaans minder gestrem as sy boetie en sussie wat onderskeidelik 10 en 13 jaar later eers hul verskyning gemaak het. 

En dan het Ouma 2 of 3 eiers, afhangend van die tyd van die maand en hoeveel eiers oor was, met die ritueel voortgegaan en die eiers in 'n platterige diepbord met behendigheid geklits, beklits, oorgeklits en disnis geklits met 'n vurk terwyl haar stem kloekende geluide en rustige woorde ge-uiter het wat heen en weer in die kombuis rondwieg.  En mykind en Oumasekind, (die een en symste kind), het die ritueel en die kloekende woorde oor sy hare wat hom alewig in die moeilikheid laat beland het laat streel, warm laat afsypel in sy nek, huiwer oor sy skouerblaaie, af teen sy ruggraat en oor sy hele lenige lyf terwyl hy haar en die kalmerende bekende ritueel aanskou tot hy deel word daarvan.

Die eiers was in die stokou skroeiende pan behendig rondgeroer totdat dit net reg was.  Ma kon 'klitsed egg' maak soos net sy kon - dit was nie lellerig nie, nie te uitgedroog nie, maar 'net reg' soos die pap van bababeertjie in die kinderstorie.  'n Knypievol sout word uit die bottel gevat en uit die hoogte oor die sissende eier gestrooi terwyl  die ander hand om en om roer.

Dan het Ma-sekind Ouma se 'klitsed egg' met Ouma se brood homself in vervoering geëet.

Daar was altyd jellie en custard in Ma se huis - want sy het dit elke dag vir Pa gemaak en vir kleinkinders wat ingedrentel het vir trooskos.  'n Bakkie met drillende rooi of groen jellie en custard was voor  hom ingeskuif op dieselfde oomblik wat hy die leë bord wegskuif waar die 'klitsed egg' minder as 'n minuut gelede nog gesis het.  Met 'n 'dankie Ouma' het die poeding effe stadiger verdwyn terwyl my liewe Ma, sy liewe Ouma, (die einste symste liefste selfde mens) behaaglik na haar kleinkind kyk terwyl hy in haar eenvoudige kombuis, haar eenvoudige maal in oorvloed geniet.



So het Ma met haar kombuisritueel, sonder dat hy of ek dit dalk toe besef het, my kind met liefde gevoed en toegedraai, daar waar hy in Oupa se lendelamme ou kantoordraaistoel sit wat hy destyds in 1959 vir 'n sjieling by De Beers gekoop het.


Kegan en Ouma Hannah met ander Ouma Toni wat begripvol toekyk
 En ek weet met onmiskenbare sekerheid, sonder die geringste twyfel, met absolute oortuiging, dat die liefde van my kinders se Ouma's in hul sal leef - en dit maak my kwesbaar dankbaar.

Posted by Picasa

2012-05-12

Moedersdag - vir my Ma

Môre is Moedersdag. Hoekom voel ek dan so leeg omdat Ma nie meer hier is nie? Hoe wens ek tog Ma was nog hier dat ek tog nog eenmaal kon dankie sê en Ma teen my hart vasruk; die bekende kreukels in Ma se nek nog eenkeer teen my lippe voel.



Daar is elke jaar meer goed wat ek aan dink wat ek dan nooit voor dankie gesê het nie. Dankie dat Ma my tog grootgemaak het, al was ek die 6de een - ek's seker teen daardie tyd was Ma al moeg en seker 'n bietjie gatvol. Verdomp - ons het nie eers daai tyd krag gehad nie en die donkie moes elke aand gestook geword het vir warmwater.

Liewe Ma was hier 95 

Ma moes dus my dungewasde doeke met die hand was want daar was nie eers 'n bleddie wasmasjien nie - want daar was nie bleddie krag nie.  Guh!   Kyk net hoe mooi en sprankelend en vol lewens-afwagting was Ma op hierdie heuglike dag.  

Ma wat geswig het voor die sjarme van 'n byeboerseun
Ek stel my voor dat jul gedans het - en dat jul meegesleur was op die maat van hemelse musiek. Dalk soos hierdie Il Divo

En ek's seker houtkap en vuurmaak en 6 wilderige kinders grootmaak was ook nie deel van Ma se drome toe Pa destyds jou met sy vonkel in sy oë, gespierde kuite en boerse sjarme oorrompel het nie.  Ek probeer steeds my voorstel hoe Ma en Pa in die 1930's op Pa se motorbike gelyk het.  

Dankie dat Ma my leer visbak het - op 95, daardie wekie toe die lag in Ma se oë geglinster het.



Dankie dat Ma vir my winkelbrood gekoop het - al was ek die enigste ene wat nie Ma se selfgekniede/selfgebakte brood wou eet nie. 

Dankie dat Ma al die troeteldiere wat ons aangedra het kosgegee het en ook verliefgeraak het op ons hond Chester.  Hy was mal oor Ma en het skaamteloos vir Ma se gewillige liefde geflirt.



Dankie dat Ma so onpretensieus, so opreg, so absoluut eerlik, so knaend, so trots, so onophoudelik en onvoorwaardelik lief vir my kinders was.  

Liewe Ma en my kind

Dankie vir Ma se troos as ek moedeloos was en moeg was;
gefrustreerd en radeloos was - vir watter sinnelose rede dit ookal was.
Ma se eindelose geduld, Ma se grenslose, onbaatsugtige liefde en Ma se eie  hemelse vyejêm op die eiegebakte brood wat ek later voor sou baklei vir die warmkorsie - dankie Ma.

Liewe Ma en my ander kind

Die soen van 'n engel

Ma het nooit my verkeerde besluite veroordeel nie, kon my tienertantrums en -frustrasies met gestoofde koejawels en custard lawe en nooit gekla as ek met moddervoete oor Ma se geskropte vloere geloop het nie.  Nooit het ek Ma hoor kla oor die eindelose bondels wasgoed of nimmer-eindegende bak skottelgoed nie. Dankie Ma.

Liewe Ma en my Blompotmeisiekind
Dankie Ma vir die jerseys wat Ma vir my kinders in hul kleintyd gebrei het, die slaaptydstories wat Ma vir hul vertel het - al was Ma al oud en moeg.  Dankie vir die blygeit wat altyd onverbloem in Ma se oë geskyn het wanneer Ma my kinders gesien het en hul altyd om die kombuistafel met een of ander eterige kouseltjie bederf het. 

Dankie vir hierdie hande wat vir soveel jare soveel liefde gegee het.


Liewe Ma se hande

Dankie vir daardie laaste wekie saam met Ma - net ons twee - en die hond.  Wie sou kon droom dat die Engele Ma skaars 'n paar maande later kom haal.





Dankie dat Ma so mooi na Pa gekyk het en dat jul saam kon oud word.  Die ou bogger - hy was darem gelukkig om so 'n juweel soos Ma te kry.


Dankie dat Ma skaamteloos oor my gebrêg het toe ek blindelings my winkeltjie BellaRosa oopgemaak het en ook toe ek die afgeskeepte tuin by die ouetehuis kom red het sodat Ma en die ander oumensies dit kon geniet.

Ma het vertel sy voel soos die Queen toe sy in my winkel gesit het tussen my uitgestalde aangeskafde skatte.



.Ma was saam met my verstom van blygeit oor die mooigeit wat hier bymekaar gekom het.




Dankie dat Ma so vat-vat deurgestap het en als opreg bewonder het, 



bekyk, beloer en bekoer het 




en my onervare winkeltalent besing en aangemoedig het.



En ja, ons albei weet ek't nie sakke vol geld gemaak nie, maar my hart en siel was ryk. Kyk hoe mooi vrolik was ons hier op haar eerste verjaarsdag.




Dankie vir Ma se uitbundige dankbaarheid toe ek vir Ma laat opvlieg het Durban toe toe ek daar gebly het en vir die briewe wat Ma getrou elke week geskryf het (ek koester hul steeds).
Liewe Ma pluk 'n koejawel

Dankie vir Ma se dankies - al het ek so dikwels gewens ek kon soveel meer gedoen het.  

Dankie Ma - ek koester jou in my hart, in my wese; in my siel - vir ewig.  

ps  Gelukkige Moedersdag Ma ...

Nog oor my liewe Ma hier en hier en hier en hier en hier 

2009-08-19

'n Wekie saam met Ma en die hond ....



Dit was 'n skielike besluit wat ons gemaak het 
die hond en ek 
om Ma (95) te neem vir 'n paar dae na Kleinmond 
net ons driekies
Ma, die hond en ek.
Ons het vinnig 'n paar goedjies gepak





'pak tog 'n ekstra battery in vir my gehoordingetjie, kind,
jy weet as die ding in my oor doodgaan kan ek boggerol hoor'
Ek weet - dan is dit asof iemand Ma se lig afgesit het 
'sommer 2 langbroeke, 4 hemde en tog genoeg sakdoeke - jy weet ek hou nie van tissues nie 
my eie waslap en ek hou van daai klein handdoekie - ek kom makliker orals by met 'n klein handdoekie, asb kind 
Ja, vat tog maar die biblioteekboek - wag laat ek gou sien? - 
0 ja dis 'n mooi storie en die skrif mooi groot
enne 
o ja - my vergrootglas.
Jy weet mos die bril is nie genoeg nie en daai oogoperasie het ook nie waffers gehelp nie 
uhm 
6 panties is seker genoeg, of hoe, kind? 
Ons gaan tog seker nie 'n jaar wegbly nie - lag lag 
Wat nog? O, en sommer daai 2 jerseys sonder die moue en met die sakkies - ek het altyd 'n sakkie nodig vir my sakdoek
jy weet mos.



Ag kind, en my slippers 
my ou liddoring hou nie heeldag van skoene nie
tandeborsel, kammetjie, bra's,
trek maar die gordyne toe 
en waar's my kierie? 
So ja 
Kyk die hond staan al en wag by die deur - 
Kom Chester!  
Het jy die lig afgesit kind? '

En daar gaan ons gang af van die 'home' 
Ma se wieletjiesoetkys in my linkerhand 
Ma aan my regterarm, hond op ons hakke 
so elke nou en dan word die kierie gelig in 'n waaigroet-aksie vir 'n outannie wat ons bietjie jaloersvieserig agterna kyk
en 'sien jul anderdag weer - ek weet nie wanneer die lady 
(dis nou ekke deesdae - ek't status gekry)
terugkom nie - ons gaan Kleinmond toe'

En verbeel ek my of sien ek haar tong net so effens oor die lippe kom
so asof sy wou 'whê' sê? 
Uiteindelik is ons in die kar
Ma inge'strep' 
kyste agter in die bak
die liewe hond op die agtersitplek 
reg vir die trippie.

'Ai my kind jou kar ry tog so lekker
wat 'n heerlikheid om so bietjie weer saam met jou op 'n outing te gaan
en ek is tog so bly dat jy darem ook destyds 'n lisensie gekry het oooo - ek ruik al die seelug'.

Dit was 'n lekker week.
Ons het koffie gedrink,
'n paai en ietsie soetigs van Angies se lekker winkel gekoop
'n ander dag 'n eier op toast
dan weer ‘sommer 'n koppie-sop-my-kind’
en beskuit en koffie vroegoggend. 

Ons het stokou kiekies gekyk wat ek op die 'komputertjie' vir haar kon wys
En met haar bril en vergrootglas 
het Ma die gesigte sorgvuldig bekyk
gekyk 
en gekyk en verkyk.

Dan, dan het sy onthou 
dan het sy die vergrootglas neergesit, 
en ver getuur, 
verby die skerm 
deur die muur
verby onsigbare eindelose jare
dan het ons maar weer koffie gedrink 
met 'n ‘stukkie-beskuit-my-kind’.

Dan het Ma gewoonlik bietjie gaan skuinslê 
en die hond was kort op haar hakke
hy het gewag tot sy lekker lê
dan met 'n een versigtige sprong deur die lug getrek
met sy dubbel heupdisplaasde heupe
om langes haar te beland 
daar op die bed.

Haar ou oë het 'n glinsterinkie ingekry amper asof sy iets stouts aanvang 
‘honde hoort mos nie eintlik op die bed nie, Chester
maar lê maar by ounooi’
terwyl hy hom teen haar neervlei en sy die harige lyf oor en oor streel
Oor en oor en oor en oor.

Ek's so bly ek het hierdie kiekie
van Ma en die hond 
op die bed
daardie wekie in Kleinmond
net ons 3.






Ma is baie lief vir snoek en niemand kan dit gaarmaak soos sy nie.
Die Engele het die snoek Kleinmond toe gestuur daardie week.
En die snoek het geloop, 
geloop soos nog nooi te vore nie
daardie week.  Die bote het gekattermaai onder die vis en die stil ou hawetjie van Kleinmond het verander in 'n gegons van mense, bote, seevoëls, hawkers, karre en kinners.  'n Hele klomp joligheid en gejilligheid - daardie week in Kleinmond.





Ek het 2 snoeke gevang
vars uit die see
van die boot van Helena die vissersvrou
het ek hul gevang
Twee bielies 
Met my aas van twee vyftigrandnote met nog tienrand elk vir die vlek.


Helena met die vlymskerp mes het hul behendig woeps-waps oopgevlek terwyl die mans versigtig bietjie wegstaan en met hande half ongeërg gekruis oor hul gulpe.



L

Ma het oopmond gelag toe ek die groot visse in die wasbak sit
'haai kind! - wanneer laas het ek sulke vars vis gesien?'

Ma het haar moue effens opgedruk, 'n vonkel het in haar oë gedans en met haar gewillige hande het my Ma my gewys en my breedvoerig vertel hoe om die snoek te bewerk, in meel en eier te doop en dan  

om en om en om te draai 
en te braai in die vlakolie

tot dit mooi bruin is.

Meegevoer het ek haar dopgehou met hierdie ritueel wat ek so dikwels as kind gesien het
en tog nou vir die heel eerste keer rerig, 
so half in slow motion
my verkyk aan my liewe Ma 
hoe sy vir my leer visbak.


Later het ons snoek en brood geëet

Bybelskos

net ek en my Ma 
en die hond wat 'n lêplek in Ma se hart oopgesmokkel het

het geduldig gewag vir sy stukkie aalmoesie
'n flentertjie oorskiet wat hy weet sy vir hom sal offer om uit haar bakhand te lek
terwyl sy koesterwoordjies vir hom fluister.


Ma se weerkaatsing in die glas koffietafel terwyl sy koffie drink en by die venster uit tuur


ons het weer koffie gedrink
haar silhoeet in die wolke
weerkaats in die koffietafel
en 'n onverwagte simpel knop het in in my keel kom sit.




Later het ons het afgery see toe
sommer net gesit
die see geruik 
en die wolke en die mense bekyk 



Terug by die huis het ons weer koffie gedrink 
Dan het die tweetjies weer kamer toe gedrentel

sy skuifelend voor in die gang af met die kieriekie wat klik-klik
en hy geduldig op haar hakke
die hond en Ma


Die hond het homself genooi op die bed 
en sy het uitgesien na die ou harelyf langs haar 
en dit was SO reg.


 
Dit was 'n goeie week.  Dit was die beste week.  




Die Engele het Ma in 2009 kom haal - lees hier
Posted by Picasa
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...