Showing posts with label In die Tuin. Show all posts
Showing posts with label In die Tuin. Show all posts

2014-12-23

Die Dovertjie, Eva se oorbelle en die Krulkopvrou



Nog 'n jaar is verby, kan jy dit glo.  En wanneer 'n jaar verby is dan sit mens mos maar so en dink jou hele jaar se dinke; wonder oor die afgelope jaar se onafgehandelde wonder; tob stadig aan 'n  hele jaar se ongetobde tob.  So, nou sit sy maar hier, hierdie krulkopvrou en sit haar gemaklikste sit en dink haar dinkerige dink hier op die bankie in haar nuwerige tuin waarheen sy onlangs heen getrek het. 'n Lang uitgerekte trek was hierdie trekkery - hierdie groot trek na 20 jaar.

Dit was nie maklik nie.  'n Kort misleidende onvergenoegde totaal onvoldoende sinnetjie. Dit was nie maklik nie.  Sy sal nie vloek of huil nie - nie meer nie, in elk geval.

So dankbaar is sy tog nou vir die drie  bome wat deur iemand lank gelede, dalk per ongeluk in hierdie afgeskeepte kaalgattuin geplant is.   Die een, 'n veelgestamde melkhoutboom waarvan sy mooi stammerigheid totaal oorgrooi was.  Die tweede, 'n kareeboom wat plek-plek roekeloos gesaag en gesnoei was het afgestomp, beskaamd van lelikgeit in die een hoek gestaan.  Die derde was ook maar droewig om te aanskou.  Blaarloos maar met sulke plek-plek stekelrigheid soos haar tienerseuns toe hul destyds begin baard skiet het, het ook in sy winter kaaltaktoestand verwaarloos en bedremmeld sy staan gestaan. Die kaal vibracrete tussen haar en die bure het nie gehelp om die prentjie te voltooi nie.

Die temptasie was groot om sommer al drie hierdie bome kort by hul alie afsaag - watter belediging was dit dan nie vir die selfgeplante mooi boomryke  tuin wat sy onlangs vaarwel geroep het.  Dankie tog - sy het hul nie kort by hul alies afgesaag nie - al was die versoeking groot.  (Haar vorige tuin).

So het die vrou dan daardie koue nat winter gesoek na haar sit wat maar net nie 'n nuwe regsit wou vind nie; na haar lê wat ook nie meer wou reglê nie en na haar denke wat êrens langs die pad agterblewe geraak het.  So hier was sy, sitloos, lêloos en dinkloos vir etlike lang koue maande in die koue kaalgat tuinlose huis.

Maar stadigaan, baie stadig het die nuwe huis, wat eintlik 'n ouerige afgeskeepte huis was, die krulkopvrou begin sagmaak, haar stilletjies verlei met versteekte geheimenisse. Subtiel was hy hiermee. Natuurlik instinktief geweet dat hy maar sag met hierdie brose vrou moet werk.  Klein dingetjies wat stuk stuk en versigtig voor haar neergesit is -  'n offerhande.

Soos die Dovertjie wat ook lang gelede per ongeluk op die ongemaklikste plek in die huis ingebou was.  Naby die kombuis. Eintlik het niemand geweet, heel nimmer sy, hoeveel 'n ou houtstofie sou kon beteken nie.  Die Dovertjie was baie baie lank laas gebruik. Roeserig en stowwerig was die arme ding - nes die spinnerakke wat haar kop kom muf maak het van die maandelange pakkery, afskeidnemery en trekkery van 'n huis waarin die stemme van haar kinders in elke hoek gehuiwer en fluister het; hul kindwees gegroei en ontgroei het. Dit was nie maklik nie.  Weer daardie klein sinnetjie.

'n Vraggie hout, die Dovertjie en die effe verskrikte krulkopvrou, het toe 'n unieke eiesoortige verhouding begin.  So het hul twee mekaar deur die sonlose winterdae getroos.  Die afgeskeepte Dovertjie en sy.  Die spinnekoppe het vinnig pad gevat toe die eerste vlamme trek.  Altwee het gestik en gestink van die rook wat sy trek probeer vind het.   Stadig het hul twee reggekom, het sy haar trek gevind en albei minder na stroois geruik.

Ma se ou koperboompot het immer geprut met iets - 'n lang kerrie, een of ander stowerigheid of sop. Pa se handgebreide jersey (deur Ma) het sakkerig haar lyf getroos - daar by die Dovertjie - maar sy het steeds maar die vrou in die spieël vermy.  Haar hare was willerig en krullerig en Pa se handgebreide jersey wat sakkerig hang - glad nou  nie 'n oil painting nie soos Ma sou gesê het.  Maar die twee was cozy - die Dovertjie en die vrou in Pa se uitgerekte jersey.  Selfs die katte het rustig geraak en hul lê gekry.  Maar haar eie lê het haar nog ontwyk; haar sit nog nie reggesit nie en haar dink het nog nie reggedink nie.

Offerhande 2 - Hier is 'n beneukte wind wat ook hier rond woon.  Moerig en beneuk.  Die blaarlose tuin was 'n bewys daarvan. Dalk moes die wind ook onlangs verhuis het.  Sukkel nog om haar waai reg te waai en nou waai sy haar moerige windgatgeid behoorlik des moers hier rond.  Sy het snags om die hoeke van die huis gehuil, die dakplate probeer lig en takke afgeruk van die kaalgat bome. Die afgeskeepte vrou met die wilderige hare, die roeserige rokerige Dovertjie en die moerige wind het die winter trotseer.  En oorleef.

Eendag het sy, dis nou die moerige wind, moeg geraak - uitgekerm was sy en aan die slaap geraak. Die son was braaf genoeg om 'n slaggie sy skyn aan te sit en hier te kom skyn.  Sy warm strale het ingestroom en die donker huis opgehelder met sy mooi vrolike skyn.  So bly was hy om weer 'n slaggie te skyn dat hy ekstra mooi geskyn het - deur die vensters sy mooiste warm strale geskyn het, die huis met poele warm son kom vul het.  Die Dovertjie het gesug van verligting.  Uiteindelik kon sy darem 'n blaaskansie kry van al die rokery en stokery.  Sy was baie dankbaar dat sy weer haar vonk ontdek het, glo my, maar enige ordentlike Dovertjie kort ook 'n break.

Die moerige beneukte wind het bedaar en die son was so opgewonde dat hy elke dag hier sy jong lentestrale kom skyn het.  Die katte het nuwe lêplekke ontdek in die poele son en net nou en dan leepoog een oog oopgemaak, effe gerek voor hul weer opgekrul het van tevrede lekkerkry,  Deure is oopgespalk om die vriendelike warm son verder in te nooi.  Offerhande 3.  Groen knoppe en jong blaartjies het aan die kaalgatbome gedy.  Rooiborsvoeëltjies het hop-scotch tussen die blare gehop.  Kleiner voeëltjies het vladderend aan die doudruppels gedrink en klein onsigbare goggas vir brekfis gehad. 'n Skoenlapper het gebrêg met haar mooi nuwe vlerke en 'n paar akrobatiese trieks uitgevoer.  Pa se uitgerekte handgebreide jersey het gaan rus in die wasgoedmandjie en sweerlik gesug.  Die beneukte wind wou wys sy's nog hier rond en het haar sagste briesie gebries, die aroma van 'n vroegblommende jasmynblom êrens opgebries en oor die krulkopvrou kom hang soos 'n wafferse onsigbare veil. 'n Goedgemikte sonstraal het aan die vrou met die willerige krulle se mondhoeke gepluk.

Nie lank daarna nie het lang reguiterige jong blare aan lang swiepende wilgerige takke in die sagte bries gewals.  Voëls van vele vere het hul dik aan sy bessies kom vreet.  Die melkhoutboom se onnodige stamme is versigtig weggesnoei om die mooiste stamme af te wys.  Tipies melkhoutboom het sy haar  muwwerige melkhoutboom reuk begin deel.  Pikswart bessies het nog geveerdes gelok.

Die derde, die lelikste boom met die stekelrige tienerbaard het soos die lelike swaan 'n gedaanteverwisseling ontgaan en soos 'n blosende bruid oopbek gelag.  Daar staan sy nou, met swaaiende bontblaar blare met die mooiste langerige lellerige sade wat ek seker Eva sou dra as oorbelle in die paradys.  Adam sou natuurlik totaal oorstelp gewees het ten aanskoue van hierdie gewaad - daar waar sy in haar onskuldige naaktheid met hierdie swaaiende langerige oorbelle aan haar appel gekou het.

Gelukkig het die bome nie hul alie gesien nie.  Die jaar het wel.   Die krulkopvrou talm darem al weer voor die spieël en haar oë het 'n rustigheid gekry.  Die Dovertjie wag geduldig om hul verhouding die volgende winter voort te sit.  Sy het vrede gemaak met die krulle wat die LiewenHeer haar  mee geseën het en hul het hul ingekrul in hul finale krul.  Sy sit nou 'n veel gemakliker sit. Haar dink het uiteindelik teruggekom en sy dink met 'n tevredenheid haar hele jaar se dinke.  Haar ongetobde tob het skielik minder geraak om oor te tob.

Die jaar het sy alie gesien.  Die vrou sug tevrederig, streel die kat en stap kaalvoet deur die tuin.  Sy's oukei.

Boonste kiekie vanoggend geneem  deur die swaaiende takke van die Karee.
Onderste kiekie is die droewige kaalgat tuin . Die melkhoutboom regs in prentjie en die droewige kaal boom agter.

Vandag - die veelstammigheid van die Melkhoutboom waarin 'n rankertjie wat saamgetrek het rankerig rank.

Twee duifies in 'n nessie 
Bo - Flambojant en in haar blommerige glorie met haar lang mooi sade in boonste ene.
En voorheen - Droewig en blaarloos in onderste helfte.  
Vanoggend - Eva se oorbelboom wat Adam rasend sou gemaak het
Leepoog opgekrul in 'n sonstraal
Die Dovertjie, haar Ma se koperboompot, haar Pa se jersey en die broserige krulkopvrou
Nog een vanoggend geneem.  Die ander kant.  Heel bo is die bontblaarboom met die lellerige oorbelsade wat Eva in die Paradys gedra het.  Op die voorgrond is 'n olifantblaar, nikotiana, helicrysum (kooigoed) en 'n mooi pienk rosie in die pot.
Daars darem 'n lekkerte aan 'n geplukte bossie uit jou tuin
 As jy nou kan verlei kan word deur 'n roos dan is dit hierdie een.  Een enkele roos in een enkele pot wat kort kort vir my oopbek lag vol vrolike blommige uitspattigheid.  Met 'n naampie soos 'My Granny' - gee sy my eindelose plesier.
My Granny

Dubbele verleiding - My Granny weerkaatsings

Boskasige vrolikheid

Rondgetrek van oral is hierdie beeldjie Little Girl gedoop

Die voëlbak is intussen geskuif en ek's sommer lus en skuif dit terug vir kiekies soos heirdie

Roserige weerkaatsing

So koekeloer deur die nikotiana wat vir maande geblom het naby my kombuisdeur met haar heerlikste reuk

My Granny

Stokke, linte, gedraaide takke en 'n geroeste draadhart = 

Kyk hou mooi staan ons vir die kiekie

Wanneer die ranker teen die lelike muur klaargeblom het dan gebruik  ek hul om sommer 'n paar riete aanmekaar vas te knoop.  So word die  arme ou kaalgattakke iets moois vir my.  Kyk nou net.

Kennie die naam nie maar gek oor die rankerige plantjie

Gemengde slaai?  Nee, net gemengde loof

'n Ou gebreekte pot hou water vir hond, kat en die voeëls en staan ewe lekker langs 'n roos, 'n iris en 'n paar ander plante

Vermoedelik 'n inheemse rankertjie watsenaam ek vergeet het

Sorry - ek weet - maar ek kan nie genoeg kry van die kiekies nie


Hou nie juis van kiekies van myself op my blog nie, maar hier met my ontembare krulle met die liefste lawwe hond wat ook my aanvaar - woes krulle en all




2014-01-22

Ou Lady, Blompot - After Bleddie All

As 'n volwaardige skrywer beskou ek my nou allermins, eerder as 'n ongereelde tjommelende griffelaar.  'n Gedagte begin in my kop rond te dwarrel en as die suid-oos, wat rerig woes kan waai hier in die Weskaap, dit nie totaal in sy glory waai nie, dan kan hierdie gedagte vir lank hier in my onderbewussyn rondskarrel.

Dit gebeur deesdae so bleddie selde, dat ek al gedink het dat die tyd aangebreek het om my Griffelblad netjies toe te vou soos 'n boek wat nou sy mufwordstadium bereik het en dit virewig in mufboekwêreld in te stuur.  After all, as ek begin kyk na die bladsye waar sommige sogenaamde professionele skrywers hul opinies uitdruk oor die ongeskrewe en geskrewe reëls; etiket; aanvaarbare skryftermes en -terminologieë; uitdrukkings; bruikbare anglisismes en blah di bleddie blah van skryf, dan dink ek, demmit, hul's seker after all bleddie reg en ek moet my plek mooi ken in hierdie wêreld en my p's en q's met sorgsaamheid kies.  Is ek vermetel optimisties om te dink dat hierdie griffels, hierdie ritmelose tjommels van my vir enigeen iets kan beteken en dat mense maar eenvoudig netjies beskaafd is, niks kommentaar lewer nie terwyl hul hul vreklag in hul nimmereindigende kennisvolle moue? 

Nou ja, soos liewe Ma sou gesê het as sy nie geweet het wat om te sê wanneer sy nie saamstem nie maar ook nie eintlik weet wat om te sê nie: 'nottendêm!'.  So, ek gaan maar so aantjommel op my manier al is dit nou net vir jou en my.  

Noudat ek dit uit my sisteem het - gaan ek maar vir my 'n glasie Two Oceans gooi, omdat die boeing oor is en ook omdat ek kan.  As Ma nog geleef het, sou sy ewe reggeskuif het in stille afwagting vir iets uit haar Blompot se pen, nes ek deesdae in stille afwagtig sit op my eie Blompot se kreatiwitasies (ja ek weet dis nie in die woordeboek nie so what?) om dit later verstommend te aanskou.  Ma het tog altyd so graag oor my gebrêg weet jy - my haar Ou Lady of Blompot genoem. Selfs die oppassers by Robari wat so mal was oor Ma, het saans vir haar gevra: 'en was Ou Lady weer hier vandag Ouma?'  

Om nou die griffelblokkasie te probeer loswikkel, laat ek maar vertel wat nou hier in my kop rondswem, met behulp van die glasie Two Oceans.  As ek die woord 'Ma' tik dan is daar 'n onmiddellike emosie wat hier in my opwel wat nie lank duur voor my oë in twee oorlopende poele beland nie, ten spyte van die feit dat dit nou alreeds vier-en-ietsie jaar is sedert die engele vir Ma kom haal het, toe sy vyf-en-negentig-en-'n-half was.  Wanneer dit effe oorgeloop het dan is daar 'n stortvloed van gedagtes wat in my kop ronddans - so baie gedagtes wat so verskriklik vinnig in my kop die cha-cha doen, dat dit vir my moeilik is om die dans te stop en een te kies!  Laat ek tog maar probeer.

Robari in Somerset-Wes.  Ma het  soontoe getrek toe die engele vir Pa kom haal het - een maand voor sy negentigste verjaarsdag. Sy was ag-en-tagtig-en-'n-half.   (Dit is 'n ander storie, want die gedagte laat my steeds nou en dan bleddiewil snik en dis nou al elf-en-ietsie jaar after bleddie all! Bleddie all - Ma was lief om dit te sê - nooit gevloek nie - net ge-bleddie all).  So ek beter nou die familietradisie voortsit - after bleddie all.)

Anyway, (Ma se ander woord wat sy van gehou het om te gebruik wanneer sy woorde en sinne en stilstuipes probeer las het), Ma het aangepas in die ouetehuis aan die onderkant van die dorp en vir die eerste keer in haar lewe was sy drie maaltye per dag bedien.  Sy moes knyp om nie die borde bymekaar te maak en kombuis toe te neem en te bleddiewil te was nie.  After all (o  ja - nog 'n Ma-frase) - sy was 'n stoere boervrou, 1914 gebore in die dae van oortollige jarelange se swaarkry.

Ou Lady het gereeld gekuier en Ma se kamer mooi getooi met beddegoed, gordyne en fieterjasies.  Een ding wat Ou Lady nie kon hanteer nie, was die afgeskeepte tuin by die aftree oord (hul hou nie van die woord ouetehuis nie).  Dit was aaklikg.  Dit was droog.  Die laaste 3 plante het hygend gewag dat hul ook verlos word van hul stryd.  Tot eendag. Ou Lady het stilletjies, ten spyte van 'n gegrommigheid oor watertekorte, haar voet kaalvoet neergeplak en in die tuin begin spit en grawe, tot groot vermaak van almal.  Met die verloop van tyd het die oumensies stuksgewys uit hul kamers gekom en kom kyk wat aangaan.  'n Opening is later in 'n muurtjie gemaak sodat hul makliker met hul rolstoele, walkertjies en kieries om die snuif-en-vroetel beplante area kon beweeg.  Ou Lady het die plantmuur met kompos en vrolike plante belaai - elke plant kon gekneus en gesnuif word.  Daar was katjiepierings, tiemie, sterjasmyn, sweetpeas en 'n vrolike mengelmoes van plante.  

Ma was eintlik skaam, het ek agtergekom.  Negentig somers en ek vind uit Ma was 'n skaam meisie en nie voor-op-die-prêm soos heelwat van die pretensieuse ou tannies nie.  Anyway, my skaam Ma sou dan buite kom sit het naby my  terwyl ek rondkruip in die tuin en begin gesels met die tannies wat uitgeskuifel gekom het uit hul kamers. 'Isn't this so lovely', 'I love it',  'I wonder who she is', sou ek hul hard hoor fluister. Dan sou Ma ewe vermakerig regopperig sit en haar ek-wil-nie-brêg-nie maar after bleddie all, 'its my daughter', met 'n blatante brêggerige klank in  haar stem.  Dan het Ou Lady maar skaamweg dieper in 'n bos lekkergekry vir my brêggerige skamerige ou Ma en met nuwe ywer tuingemaak.

Ou Lady het versot geraak op weerloserige oumensies en sy het telkens na haar asem gesnak as sy die onverwagte lekkerkry uitdrukking sien wanneer sy 'n katjiepiering of 'n vroetelbossie kruie in 'n gekreukelde afgetrede ou hand kon druk.   

Ou Lady;  Blompot; Ongereelde Griffelaar; sy is maar hier rond.  Tot later!

Liewe Ma op die muurtjie waar Ou Lady geplant het

Sterjasmyn, kappertjies en pienk magrietjies

Liewe Ma se hande met 'n takkie sterjasmyn

Bont vrolike bedding

'n Bejaarde tannie wys ons hoe om te HoelaHoep

Twee vriendinne wie ek gereeld in Checkers gekry het -
hul in my kar gehelp het en vir 'n plesierritjie geneem het
voor ek hul gaan aflaai het

Prettige Heather wys Ou Lady die HoelaHoep

Liewe Ma op die blommende muurtjie

Liewe Ma by die fonteintjie wat nie meer wou fontein nie.  'n Vrag kompos
en 'n paar plantjies sweetpeas later, was sy die pronkerige vrolikheid self
  










2013-09-28

Ek het hierdie Maandagoggendreseppie vir jou

Ek het hierdie oggendreseppie vir jou
hou dit vir 'n Maandagoggend se blou.

Stap tuin toe en soek 'n gewillige laventelbos
pluk genoeg totdat jou  hand propvol is
en jou mondhoeke vanselwers opkrul van heimlike lekkerkry.

Drentel kaalvoet verder agter die hond aan
stadig
sodat jy die klam grasspriete tussen jou tone kan voel.

Lig jou ken na die sonstraal
voel die hangende oggenddou
Sê dankie vir die hier en die nou
Streel die skurende kat.

Stap stadig verder
pluk die enkele blommende mooiste perfekte roos
wat die engele laasnag vir jou kom los het
omsingel haar met die handvol laventel.

Bind dit vas met 'n tierlantyntjie
Lig op tot vlak by jou neus
snuif diep
 tot jy effe dronk is van salige heerlikheid.

Sug tevrede
en omhels die dag.




Posted by Picasa

2012-10-20

Una van der Spuy en Ou Nectar

Soms verloor mens belangstelling - dit is mos nou maar so.  En my belangstelling in my tuin taan maar elke winter wanneer als vaal, nat, grys en donker bly.

Maar sedert tannie Una vd Spuy onlangs oorlede is, 'n maand voor haar 100ste verjaarsdag, duik haar twee tuinboeke elke nou en dan misterieus op, asof dit my liggies tart.  Sy drentel kort-kort in my gedagtes en ek dink dikwels aan my kuiertjies by haar verlede jaar toe sy bietjie hulp gesoek het om kiekies te kies vir haar nuwe boek.  Haar oë sien nie meer so goed nie en sy het getwyfel of sy die beste kiekies gekies het.  Kan ek haar help kiekies kies asb.

Ou Nectar 
'n Uittreksel uit Una se epos vroeg in Januarie verlede jaar het so gelui (gekwoteer PRESIES soos dit op my rekenaar verksyn):

"I have about 3000 pix from which to choose but i have to choose ones that have not appeared in either of the other  2 books aND THAT CAUSES DIFFICULTIES BECAUSE MY EYESIGHT IS NO LONGER GOOD AND \I NEED SOMEONE WITH PLANT KNOWLEDGE AND PHOTOGRAPHIC KNOWLEDGE TO GIVE AN OPINION  AS TO WHAT SHOUJLD BE SELECTED FROM THE MASS OF PIX  WHICH OF COURSE ARE ALL IN ALPHABETICAL ORDER ON THE COMPUTER."

Haar rekenaar was in haar onpretensieuse slaapkamer, onder die venster, wat uitkyk oor haar 80-jare handewerk - Ou Nectar.

Ek voel of ek 'n  heiligdom betree van die ikoon van tuinbou en vir een of ander rede effe senuweeagtig. Hier sit ek in haar stoel, waar sy haar dinke dink, haar drome droom, haar onthoue onthou en seisoene sien kom en gaan.

Ek kyk stadig rond om als in te neem - 'n enkelbedjie gestroop van fênsiegeid, haar bedkassie wat my laat dink aan my liewe Ma s'n, familiekiekies teen die muur, haar spieëltafel met roompies, poeiertjies en lipstiek.



Una vertrou my op haar pc, haar stoel, haar plek - hier waar sy haar dinke dink en haar drome droom

 Ons kyk en kies kiekies.  Met haar bril en haar vergrootglas kom sy nader na die skerm om die detail te sien wat ek na verwys.  Met 'n vergrootglas?  Verbaas vra sy hoe ek dan nou die foto's so groot op haar skerm gekry het.  Ek wys haar hoe en ook om in te zoom deur ctrl + te druk om die letters groter te maak. (Skynbaar was ek die enigste ene wat ooit eposse vir haar in ekstra groot font gestuur het).  

"kARIN, THANKS  for the heavy type which is so much more readable than the usual
I look forward to seeing you Monday at 9.30 until midday when I have a little rest before an afternoon of bridge .    Una
Dear Mrs vd Spuy
The week's just about over again and a dreadful wind is blowing here in Somerset West.  This morning I dragged...."

Tannie Una retireer en kyk my verstom aan:  "my deah - that's simply marvelous! (Sy't so half teruggehop soos 'n eens-ballerina en haar hande saamgeklap):  Why has no one EVER showed me this before?  Oh just look how beautiful - just look at the detail in that picture!  Simply marvelous!".  Ek wonder wie was meer in haar noppies -  Una wat 'n maklike tip geleer het, haar foto's mooi groot en duidelik kan sien of ek wat die Doyenne iets nuuts kon leer en die uitgelatenheid op haar 99 jarige gesig kon aanskou.

Ons kyk kiekies, ons drink tee, ons praat plante en bome, haar gesig verhelder telkemaal wanneer ek haar mooie eie kiekies op haar rekenaar besing, inzoom om vir haar die detail te wys van die grys stam van een van  haar geliefkoosde bome of wanneer ek liries raak oor 'n azalea, 'n magnolia  of 'n roos.   Later eet ek sop en brood met die Doyenne van Tuinbou van Suid Afrika, op die stoepie van Ou Nectar, neffens langs haar grandieuse donkerpienk eetkamer.




Una maak vir my sop warm in haar onpretensieuse huislike kombuis

Sop saam met Una op haar stoep.  Die blommetjieskoppie spesiaal vir my (regs) en haar geliefkoosde beker links.

Selfs Una se ou mercedes word gebere in 'n paradys van plantegroei

Una deel my fassinering met boomstamme en was so in haar skik toe ek haar die foto stuur
"Dear Mrs vd Spuy,

How are you?  I thought you might like these two pictures of your birches I took on my last visit - it took quite a bit of acrobatic manouvres to get the angle ;)"


Teen hierdie tyd weet ek dat die grys Dusty Miller een van haar geliefkoosde aksentplante is wat goudkleurige plante kontrasteer, soos die netjies gesnoeide privets wat oral deur haar tuin verskyn. Daardie klein heiningkie is al oor die 30 of 40 jaar oud en word jaar na jaar getrou gesnoei.

Mildelik deel sy stories oor toe sy gedurende die oorlogsjare alleen met 3 kinders hier kom bly het en met die hulp van 'n paar Italiaanse prisoniers 'n groot gedeelte van die berg agter die huis kruiwa vir kruiwa na die voorkant aangery het om die palet te vorm vir die dekades van tuinbou wat sedertdien daar ontwikkel het.  Met opgerolde moue en opstandige vasberadenheid het sy Ou Nectar getem, geplant en gevorm in 'n wêreldbekende en erkende tuin.  Beide Una se huis en tuin is as monumente verklaar.  

Hier is 'n paar van my eie geliefkoosde kiekies van Una van der Spuy en Ou Nectar.  


Ou Nectar 

Hieronder poseer Una mooi vir my en het sy vir my gevra om haar 'crap-apple' af te neem.  Sy't my mooi vertel om nie in te zoom nie maar om nader en nader te gaan totdat ek amper in die bos ingeval het.  Die fluitjie gebruik sy om te blaas wanneer sy haar 2 of 3 handlangers nader roep vanwaar hul ook al êrens besig is om te werk.  Hul laat val als en kom dadelik.  Oulik het ek gedink - dalk moet ek dit probeer op die kinders? In die sakkie is haar snoeisker.

Una van der Spuy
Die 'crabapple' kiekie waarvoor ek nader en nader in die bos moes kruip vir Una - sonder zoom.  

     

'n Waterstroompie kronkel en drentel deur die hele tuin, tussen klippe en pronkerige plante.

 

Vanuit haar slaapkamer kyk sy af op die stokou sipres wat sy jare gelede vir haar man geplant het.

Ek is gek oor die ou afgeleefde trappe en die huis wat van alle hoeke vir mens glimlag.
 'n Eienaardige interessante rankplant.

 2 Stokou Spreiers lyk asof hul ook monumentstatus verdien.
En hier koekeloer die huis weer deur die stamme van twee enorme sipresse.

Ek't 'n bietjie verlief geraak op hierdie rankplant, vermoedelik 'n Clematis.


Kan daar soveel pragtigheid in 'n blom wees?  Die mooiste Azaleas wat jou asem wegslaan.
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/

Skokkend flambojant pienk en pragtig.
Gorgeous photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/
Vermoedelik nog 'n clematis.
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/

Die formidabele Una het die dag so mooi gelyk in haar pasjmina - spesiaal mooi uitgedos vir my toergroepie, hier in haar element terwyl sy nog 'n aspek van haar tuin verduidelik. (Kiekie deur vriendin Laurette vd Merwe)
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/


'n Sekere tyd van die jaar sing hierdie tafel 'n loflied van blomme.  Die enorme sementbank agter versteek die garage waar haar stokou mercedes benz geparkeer was.  Een van my persoonlike spesiale hoekies in haar tuin.
Grys plante wat lyk soos 'n waterval - glo my dis met doelbewustheid so beplan en geplant
Petrea en Brunfelsia groei vrolik saam

Ek wens die paadjie na my kombuis het so mooi gelyk.  'n Stokou stam wat doelbewus oor die jare gesnoei is om 'n perfekte boog oor die paadjie te vorm.  Ek doen dit ook nou en moet met alle geweld enige man met 'n snoeisker of saag weghou want hul wil dit net 'oopsaag'.   Grrr!

Lang skaduwees oor die agtertuin van ou Nectar

Hierdie oorgroeide ou 'toolshed' het 'n bekoring soos min ander


Una van der Spuy het jaarliks haar tuin oopgestel vir liefdadigheid.  Hierdie dae was so gesog en jy was gelukkig as jy saam met die Doyenne deur haar tuin kon stap vir 'n persoonlike begeleiding soos hierdie.  Ek was bevoorreg om self 'n toergroep te reel met 'n klompie vriendinne.  'n Besonderse dag wat ek ewig sal troetel.


'n Mooi paadjie besaai met afgevalde blomme wat lei na die mooiste ou trappe.

Die mooiste ou trappe.  Dit lyk of mens dit moet skilder.

Kyk nou hoe mooi.  Selfs Tretchikoff sou dit onweerstaanbaar vind.

Nie seker nie maar ek vermoed dis 'n banksiaroos.


Una van der Spuy, kiertsregop, 99 goue jare, in haar element terwyl sy 'n groepie waarderende toeriste deur haar tuin begelei.

Wiegende Wisteria teen die hemel.


'n Leliewit azalea - een van haar gunstelingblomme.
Ek hoop daar word een in haar eer benoem.

Nou het ek hierdie een se naam vergeet - maar dit lyk soos 'n krismisroos en - dis die tipe blom wat romantiek besing.

'n Versteekte standbeeldjie wat gelukkig tussen die azaleas waghou.

 Weer die trappe wat lei na nog 'n interessante hoekie.

Pers Petra wat welig en oorvloedig blom ... vir Una.

Die on-imposante ingang na die paradys in Jonkershoek.  Ai ou Nectar - ek hoop jy word behou vir ons nageslag.

'n Collage - Una se boek met haar griffelkie aan my.
Hierdie lente sal my tuin ook oopgestel word vir liefdadigheid - en ek dink met waardering, liefde en nostalgie aan my tye saam met Una van der Spuy in haar geliefde Ou Nectar.  Liewe Una, mag die Hemel virewig jou met lente omhels.

Ek sluit af met een van haar boodskappies in 'n epos aan my nadat ek 'n webalbum vir haar gemaak het na 'n besoek aan haar in 2010 en ek alleen op 'n warm dag in haar tuin rondgedrentel het:

"DEAR KARIN    ;   You clever girl to have made such a good web album at a time when there is nothing but dust in the background of the plants, and in the middle of the day when \i never take photgraphs. i LOOK FORWARD TO SEEING YOUR NEXT ONE WHEN THE WEATHER IS BETTER AND THE PLANTS AND I HAVE RECOVERED FROM THIS DISASTROUS SUMMER.    you obviously are a hot shot on the  computer;  I fight mine daily and it always wins.--"



Meeste foto's my eie, maar daar is 'n paar pragtiges van Laurette vd Merwe (haar foto's is spesifiek aangedui onderaan die betrokke foto's).  Meer oor Laurette en haar fotografie .

PS Ja, ek HET toe 'n Ope Tuin gehad vir Helderberg Hospice daardie jaar.  Una van der Spuy was my inspirasie.  
http://laurettesphotography.yolasite.com/


Posted by Picasa
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...