Showing posts with label 'n Spesiale Mens. Show all posts
Showing posts with label 'n Spesiale Mens. Show all posts

2013-10-13

'n Troosblom vir jou

‘n Troosblom vir jou

My liefde vir tuin en natuur het die afgelope tyd intensifiseer  (as daar nou nie so ‘n woordjie bestaan nie, gee ek haar nou permissie om gestalte te kry) en ek twyfel of dit net is omdat ek onlangs van my groot hartstuin moes afskeid neem.  In my gewese tuin was baie blomme en blomdraende struike.  Hoe graag sou ek nie vandag daarin wou stap en ‘n armvol blomme pluk nie, ‘n armvol troosblomme.  Ek sou graag ‘n spesifieke een vir jou wou kies.

(Demmit dis ‘n uitdaging om te tik met ‘n kat wat soos ‘n stukkie wondergom op my skoot vassit, om warmte te soek – maar hy’s my optelkat, my afgetrede rondloperkat, my ‘die-kat-kom-terug-kat’, my bejaarde koulike kat – so ons tik maar saam).  Veral as die storie wat nog nie ‘n storie is nie, hier tussen jou gedagtes en jou vingers ronddwarrel – maar die liewe ou kat het nou sy lê gekry so ek probeer weer my gedagtes inryg soos ‘n onwillige wapperende vlieër.  Waar was jy nou weer gedagte?  O ja, ’n troosblom vir jou.

Vir een of ander rede, wat ek glad nie kan verklaar nie, het ek die afgelope tyd meer bewus geraak van die pyn wat mense ronddra – sommige dra hierdie pynpakkie gemakliker as ander, ander gaan swaar gebuk onder hul las. Dis seker maar menslik om ander se pyn te vermy, om blindelings te loop met oogklappe, veral as jy stoei met jou eie wroeginge.  Ons raak so bedrywig en besig met ons eie lewens dat ons nie tyd in ons harte inruim vir die pyn van ander nie. Dalk sal ons eie harte sodoende beskerm en beskut bly wanneer ons die pyndraers vermy; wanneer ons anderpad kyk; wanneer ons onself besighou met klein onkruidjies wat by die agterdeur groei.  

Vir my het die teendeel homself aan my openbaar en weet jy, my hart voel ligter omdat ek toelaat dat ek hul pyn vir ‘n wyle kan voel.  Ek voel bevoorreg dat my hart vir ‘n wyle kan stilstaan, vir ‘n wyle rerig kan verstaan, vir ‘n wyle kan voel wat hul so braaf  heeltyd ronddra.

Ek huil soms hopeloos te maklik wanneer iets my raak – iets waarvoor ek dikwels om verskoning moes vra en die gedoemde oorgangsjare die skuld gee vir hierdie swakheid van my.  Tot ‘n liewe dierbare ou Italiaanse vriend my daarop wys dat dit ‘n heimlike voorreg is wanneer jou siel oorweldig raak met emosie, dat dit oorloop in trane.

Ek het’n lysie gemaak van mense wat oor my pad gekom het, wie se pyn my aangeraak het.  Hierdie lysie is privaat – maar dalk herken jy jouself wanneer ek vir jou vandag hulde bring en vir jou ‘n troosblom pluk.
  

Vir jou wat vir slegs 5 maande geluk geken het met jou sielsmaat -  vir jou haal ek versigtig my mooiste kaktus uit.  Die bogger is so slim om al die dorings te hê om hom te beskerm.

-  Vir jou wat moes aanskou hoe jou dierbare ouers hul lewensprobleme probeer verdrink het in goedkoop wyn, mag jou lewensprankel altyd in jou glimlag wys en jou fabulous ridder jou altyd bybly – vir jou pluk ek ‘n takkie delikate jasmyn wie se reuk jou sal omsingel.

-    Vir jou wat so verlang na jou verweg kind, moenie moed verloor, hy verlang ook – hier’s vir jou ‘n katjiepiering.

-         Vir jou wat elke oggend jou braafste gesig opsit, ten spyte van ‘n siekte wat jou feitlik daagliks aftakel – hierdie helderrooi poppie.

-         Vir jou wat al jare wroeg waarom jou lewensmaat ‘n geweer op jou gerig het en jy wonderbaarlik bly leef het –‘n bloedrooi angelier.

-        Vir jou wie moet aanskou hoe jou liewe Ma in ‘n onbereikbare wêreld van Alzheimers verdwyn – ‘n helderpienk ranonkel.

-          Vir jou wat nie betyds by jou Ma se sterwensbed kon wees nie – ‘n laventelblom (nes die een wat ek onder haar kopkussing namens jou gesit het)

-          Vir jou wat jou man virewig moes groet, al was hy so oud, jou smart kon ek skaars verduur – vir jou ‘n geel kappertjie (nes die bossie wat ons in sy kis gesit het).

-          Vir jou wat 3 keer per week gaan op dialise en elke dag wonder / bid of vandag die dag is wat jy ‘n nuwe nier sal kry – ‘n frangipaniblom.

-          Vir jou wie se ma diep groewe in jou siel gelaat het omdat sy so mislik was met jou in jou kwesbare kinderjare – ‘n weskusvygie.

-          Vir jou wat vir jare lank in die put van aaklige verslawing was – ‘n statige speldekussing.

         



-         *  Vir jou wat vir my skryf  wanneer jy steeds na jou oorlede Ma verlang terwyl jy in ‘n straatkafee in Italië sit – ‘n pienk sweetpea.

-          Vir jou wie 15 jaar laas met jou Pa gepraat het en jouself steeds bluf jy verlang glad nie na hom nie – ‘n blou koringblommetjie.

-         * Vir jou met jou langverwagte ou babatjie, wie se Ma nog net twee keer haar kleinkind kom sien het, al woon sy net 'n katspoeg ver– ‘n jong bergvaring.  

*     Vir jou wat skuldig voel omdat jy nie jou broer kon red van die strate nie - 'n geel lupien.

* Vir jou wat daagliks wonder of jy jou kinder / kleinkinders sal sien grootword, ten spyte van die stryd wat jy voer met kanker - 'n sterk fier koninginprotea.

* Vir jou wat hulpeloos moes toekyk hoe 'n siekte jou dierbare aftakel - 'n perskeblom.


Omdat ek vir ‘n wyle jou kwesbaarheid kon deel, is my hart ligter, my wêreld helderder terwyl ‘n sonstraal warm op my seer skouer skyn.  Ek struikel oor ander klein seëninge - ‘n nikotiana blom onverwags by my agterdeur en verlei my met haar kenmerkende reuk waarvoor ek so lief is.  ‘n Bosduif kom bad vir die eerste keer in die voëlbad terwyl hy my stip dophou.  ‘n Reënboog staan lank genoeg dat ek van die pad kan aftrek sodat ek langer kan kyk.  My middelkind wat 3 maande gelede uitgetrek het, staan skielik by die voordeur en gee my ‘n lang innige druk.  My blompot met haar laggende gesig hou met uitgestrekte hande vir my twee knarsvars selfgebakte koekies.  In drie dae het twee jongmense hul kindertjies na my gebring en hul het my almal spontaan lank gedruk. Die ene se woordjies klingel steeds in my ore toe sy my waaiend groet - 'tannie ek verlang dan al klaar na jou!'.  


    
Ek bring vir jou ‘n troosblom

en ek voel geseënd.

2013-03-18

Hy was sy Ma se kind

Hy was sy Ma se kind 
al het hy als neffens sy siel verloor
was hy steeds haar kind
al het almal hul rug op hom gedraai
was hy steeds sy Ma se kind
al was sy wil geknak
sy siel gekneus
sy lyf verinneweer,
hy was steeds,
vir altyd,
 sy Ma se kind.

Hy was sy Ma se kind.
in die sagte bries van die bergwind het hy sy troos gesoek
 en soms gevind
'n hond, 'n meerkat, 'n eekhoring en selfs 'n uil
het die ongerepte geborge kind in hom ontdek.

 Bome, hoë bome het hom altyd bekoor
hy kon liries raak oor 'n denneboom
soos 'n wildsbokkie wegraak in 'n bos.
In die ritsel van die veld
in die suis wind
kon hy homself verloor.

Die wind, die see, die berg
daar kon hy ongehinderd en vry bly droom
daar waar hul hul uitgestrekte arms gewillig om hom vou
sonder oordeel
sonder eise
as geen mens kon of wou.


In sy bejaarde ou Ma se oog was dikwels 'n huiwerige traan
as sy verweg gedink het, 
gewonder het,
gebid het,
oor die afgedwaalde seun
hy was immers steeds sy Ma se kind.

Met die jare heen het die juk van die lewe te swaar geraak
sy kunstigheid vir ewig van sy hande gewyk
die swaarkry na elke winter het sy merk gelos
nou sweef sy siel saam met die wind, die see en die bos.

Hy was tog steeds immers sy Ma se kind
hy was ook
my Ma se kind

Ma se kind - my boetie - ek soek jou steeds in elke dennebos
ek luister steeds vir jou stem in die wind
Mag liefde en vrede hul arms om jou vou
jou elke aand aan die slaap wieg
Die driewiel is opgerig ter nagedagtenis aan Ingrid Jonker wat baie van haar kindertyd in Gordonsbaai deurgebring het wat op die strand daar aangebring is.  Die woorde wat wat daarby verskyn is:

"The child just wanted to play in the sun"  en

"The child peers through windows of houses and into the hearts of mothers"






2012-10-20

Una van der Spuy en Ou Nectar

Soms verloor mens belangstelling - dit is mos nou maar so.  En my belangstelling in my tuin taan maar elke winter wanneer als vaal, nat, grys en donker bly.

Maar sedert tannie Una vd Spuy onlangs oorlede is, 'n maand voor haar 100ste verjaarsdag, duik haar twee tuinboeke elke nou en dan misterieus op, asof dit my liggies tart.  Sy drentel kort-kort in my gedagtes en ek dink dikwels aan my kuiertjies by haar verlede jaar toe sy bietjie hulp gesoek het om kiekies te kies vir haar nuwe boek.  Haar oë sien nie meer so goed nie en sy het getwyfel of sy die beste kiekies gekies het.  Kan ek haar help kiekies kies asb.

Ou Nectar 
'n Uittreksel uit Una se epos vroeg in Januarie verlede jaar het so gelui (gekwoteer PRESIES soos dit op my rekenaar verksyn):

"I have about 3000 pix from which to choose but i have to choose ones that have not appeared in either of the other  2 books aND THAT CAUSES DIFFICULTIES BECAUSE MY EYESIGHT IS NO LONGER GOOD AND \I NEED SOMEONE WITH PLANT KNOWLEDGE AND PHOTOGRAPHIC KNOWLEDGE TO GIVE AN OPINION  AS TO WHAT SHOUJLD BE SELECTED FROM THE MASS OF PIX  WHICH OF COURSE ARE ALL IN ALPHABETICAL ORDER ON THE COMPUTER."

Haar rekenaar was in haar onpretensieuse slaapkamer, onder die venster, wat uitkyk oor haar 80-jare handewerk - Ou Nectar.

Ek voel of ek 'n  heiligdom betree van die ikoon van tuinbou en vir een of ander rede effe senuweeagtig. Hier sit ek in haar stoel, waar sy haar dinke dink, haar drome droom, haar onthoue onthou en seisoene sien kom en gaan.

Ek kyk stadig rond om als in te neem - 'n enkelbedjie gestroop van fênsiegeid, haar bedkassie wat my laat dink aan my liewe Ma s'n, familiekiekies teen die muur, haar spieëltafel met roompies, poeiertjies en lipstiek.



Una vertrou my op haar pc, haar stoel, haar plek - hier waar sy haar dinke dink en haar drome droom

 Ons kyk en kies kiekies.  Met haar bril en haar vergrootglas kom sy nader na die skerm om die detail te sien wat ek na verwys.  Met 'n vergrootglas?  Verbaas vra sy hoe ek dan nou die foto's so groot op haar skerm gekry het.  Ek wys haar hoe en ook om in te zoom deur ctrl + te druk om die letters groter te maak. (Skynbaar was ek die enigste ene wat ooit eposse vir haar in ekstra groot font gestuur het).  

"kARIN, THANKS  for the heavy type which is so much more readable than the usual
I look forward to seeing you Monday at 9.30 until midday when I have a little rest before an afternoon of bridge .    Una
Dear Mrs vd Spuy
The week's just about over again and a dreadful wind is blowing here in Somerset West.  This morning I dragged...."

Tannie Una retireer en kyk my verstom aan:  "my deah - that's simply marvelous! (Sy't so half teruggehop soos 'n eens-ballerina en haar hande saamgeklap):  Why has no one EVER showed me this before?  Oh just look how beautiful - just look at the detail in that picture!  Simply marvelous!".  Ek wonder wie was meer in haar noppies -  Una wat 'n maklike tip geleer het, haar foto's mooi groot en duidelik kan sien of ek wat die Doyenne iets nuuts kon leer en die uitgelatenheid op haar 99 jarige gesig kon aanskou.

Ons kyk kiekies, ons drink tee, ons praat plante en bome, haar gesig verhelder telkemaal wanneer ek haar mooie eie kiekies op haar rekenaar besing, inzoom om vir haar die detail te wys van die grys stam van een van  haar geliefkoosde bome of wanneer ek liries raak oor 'n azalea, 'n magnolia  of 'n roos.   Later eet ek sop en brood met die Doyenne van Tuinbou van Suid Afrika, op die stoepie van Ou Nectar, neffens langs haar grandieuse donkerpienk eetkamer.




Una maak vir my sop warm in haar onpretensieuse huislike kombuis

Sop saam met Una op haar stoep.  Die blommetjieskoppie spesiaal vir my (regs) en haar geliefkoosde beker links.

Selfs Una se ou mercedes word gebere in 'n paradys van plantegroei

Una deel my fassinering met boomstamme en was so in haar skik toe ek haar die foto stuur
"Dear Mrs vd Spuy,

How are you?  I thought you might like these two pictures of your birches I took on my last visit - it took quite a bit of acrobatic manouvres to get the angle ;)"


Teen hierdie tyd weet ek dat die grys Dusty Miller een van haar geliefkoosde aksentplante is wat goudkleurige plante kontrasteer, soos die netjies gesnoeide privets wat oral deur haar tuin verskyn. Daardie klein heiningkie is al oor die 30 of 40 jaar oud en word jaar na jaar getrou gesnoei.

Mildelik deel sy stories oor toe sy gedurende die oorlogsjare alleen met 3 kinders hier kom bly het en met die hulp van 'n paar Italiaanse prisoniers 'n groot gedeelte van die berg agter die huis kruiwa vir kruiwa na die voorkant aangery het om die palet te vorm vir die dekades van tuinbou wat sedertdien daar ontwikkel het.  Met opgerolde moue en opstandige vasberadenheid het sy Ou Nectar getem, geplant en gevorm in 'n wêreldbekende en erkende tuin.  Beide Una se huis en tuin is as monumente verklaar.  

Hier is 'n paar van my eie geliefkoosde kiekies van Una van der Spuy en Ou Nectar.  


Ou Nectar 

Hieronder poseer Una mooi vir my en het sy vir my gevra om haar 'crap-apple' af te neem.  Sy't my mooi vertel om nie in te zoom nie maar om nader en nader te gaan totdat ek amper in die bos ingeval het.  Die fluitjie gebruik sy om te blaas wanneer sy haar 2 of 3 handlangers nader roep vanwaar hul ook al êrens besig is om te werk.  Hul laat val als en kom dadelik.  Oulik het ek gedink - dalk moet ek dit probeer op die kinders? In die sakkie is haar snoeisker.

Una van der Spuy
Die 'crabapple' kiekie waarvoor ek nader en nader in die bos moes kruip vir Una - sonder zoom.  

     

'n Waterstroompie kronkel en drentel deur die hele tuin, tussen klippe en pronkerige plante.

 

Vanuit haar slaapkamer kyk sy af op die stokou sipres wat sy jare gelede vir haar man geplant het.

Ek is gek oor die ou afgeleefde trappe en die huis wat van alle hoeke vir mens glimlag.
 'n Eienaardige interessante rankplant.

 2 Stokou Spreiers lyk asof hul ook monumentstatus verdien.
En hier koekeloer die huis weer deur die stamme van twee enorme sipresse.

Ek't 'n bietjie verlief geraak op hierdie rankplant, vermoedelik 'n Clematis.


Kan daar soveel pragtigheid in 'n blom wees?  Die mooiste Azaleas wat jou asem wegslaan.
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/

Skokkend flambojant pienk en pragtig.
Gorgeous photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/
Vermoedelik nog 'n clematis.
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/

Die formidabele Una het die dag so mooi gelyk in haar pasjmina - spesiaal mooi uitgedos vir my toergroepie, hier in haar element terwyl sy nog 'n aspek van haar tuin verduidelik. (Kiekie deur vriendin Laurette vd Merwe)
Photo by http://laurettesphotography.yolasite.com/


'n Sekere tyd van die jaar sing hierdie tafel 'n loflied van blomme.  Die enorme sementbank agter versteek die garage waar haar stokou mercedes benz geparkeer was.  Een van my persoonlike spesiale hoekies in haar tuin.
Grys plante wat lyk soos 'n waterval - glo my dis met doelbewustheid so beplan en geplant
Petrea en Brunfelsia groei vrolik saam

Ek wens die paadjie na my kombuis het so mooi gelyk.  'n Stokou stam wat doelbewus oor die jare gesnoei is om 'n perfekte boog oor die paadjie te vorm.  Ek doen dit ook nou en moet met alle geweld enige man met 'n snoeisker of saag weghou want hul wil dit net 'oopsaag'.   Grrr!

Lang skaduwees oor die agtertuin van ou Nectar

Hierdie oorgroeide ou 'toolshed' het 'n bekoring soos min ander


Una van der Spuy het jaarliks haar tuin oopgestel vir liefdadigheid.  Hierdie dae was so gesog en jy was gelukkig as jy saam met die Doyenne deur haar tuin kon stap vir 'n persoonlike begeleiding soos hierdie.  Ek was bevoorreg om self 'n toergroep te reel met 'n klompie vriendinne.  'n Besonderse dag wat ek ewig sal troetel.


'n Mooi paadjie besaai met afgevalde blomme wat lei na die mooiste ou trappe.

Die mooiste ou trappe.  Dit lyk of mens dit moet skilder.

Kyk nou hoe mooi.  Selfs Tretchikoff sou dit onweerstaanbaar vind.

Nie seker nie maar ek vermoed dis 'n banksiaroos.


Una van der Spuy, kiertsregop, 99 goue jare, in haar element terwyl sy 'n groepie waarderende toeriste deur haar tuin begelei.

Wiegende Wisteria teen die hemel.


'n Leliewit azalea - een van haar gunstelingblomme.
Ek hoop daar word een in haar eer benoem.

Nou het ek hierdie een se naam vergeet - maar dit lyk soos 'n krismisroos en - dis die tipe blom wat romantiek besing.

'n Versteekte standbeeldjie wat gelukkig tussen die azaleas waghou.

 Weer die trappe wat lei na nog 'n interessante hoekie.

Pers Petra wat welig en oorvloedig blom ... vir Una.

Die on-imposante ingang na die paradys in Jonkershoek.  Ai ou Nectar - ek hoop jy word behou vir ons nageslag.

'n Collage - Una se boek met haar griffelkie aan my.
Hierdie lente sal my tuin ook oopgestel word vir liefdadigheid - en ek dink met waardering, liefde en nostalgie aan my tye saam met Una van der Spuy in haar geliefde Ou Nectar.  Liewe Una, mag die Hemel virewig jou met lente omhels.

Ek sluit af met een van haar boodskappies in 'n epos aan my nadat ek 'n webalbum vir haar gemaak het na 'n besoek aan haar in 2010 en ek alleen op 'n warm dag in haar tuin rondgedrentel het:

"DEAR KARIN    ;   You clever girl to have made such a good web album at a time when there is nothing but dust in the background of the plants, and in the middle of the day when \i never take photgraphs. i LOOK FORWARD TO SEEING YOUR NEXT ONE WHEN THE WEATHER IS BETTER AND THE PLANTS AND I HAVE RECOVERED FROM THIS DISASTROUS SUMMER.    you obviously are a hot shot on the  computer;  I fight mine daily and it always wins.--"



Meeste foto's my eie, maar daar is 'n paar pragtiges van Laurette vd Merwe (haar foto's is spesifiek aangedui onderaan die betrokke foto's).  Meer oor Laurette en haar fotografie .

PS Ja, ek HET toe 'n Ope Tuin gehad vir Helderberg Hospice daardie jaar.  Una van der Spuy was my inspirasie.  
http://laurettesphotography.yolasite.com/


Posted by Picasa

2012-09-21

Jêm, Klisted Egg en Ouma se Trooskos

Gisteraand kry ek 'n potjie aarbeikonfyt persent - tuisgemaakte aarbeijêm wat skoonsus Anna gemaak het.  Vanoggend was dit perfek saam met die plaatkoekies - of  crumpets soos my Engelse kinders dit  ken.  Deesdae waardeer ek soveel meer selfgemaakte kookselgeskenke - soos vanoggend toe ek liefde in Anna se selfgemaakte jêm proe en ek besef hoe kos wat deur geliefdes gemaak en mildelik gedeel word, se lekkerte seerplekke hier in jou binneste donkerste kamers van jou siel kan bereik.  Dis asof dit die  krapperige plekke ontdek wat my die afgelope paar dae onrustig gestem het.    Ma sou so gehou het van hierdie jêm. Ma het nie uit boeke gekook nie, maar haar fynproewerstong het gou besluit of dit te waterig, loperig, suikerig of wat-ookal-erig was.  Maar die aarbeijêm sou sy besing het.


Kyk, Ma was die queen van vyejêm,  en elkeen wat ooit daarvan geproe het sal sonder huiwer kopknikkend en dalk kwylend met my saamstem.  Sy't nou en dan appelkoosjêm gemaak as Theo dit van die plaas gebring het en dit was ook lekker.  Maar haar vyejêm van die vrygewige boom by die agterdeur - dit was die spreekwoordelike cherrie - altans die vy - op die koek!  Saam met Ma se selfgebakte brood om haar wankelrige ou kombuistafel was dit 'n kombinasie wat selfs Nataniël in trane sou laat uitbars.

Sedert die Engele Ma kom haal het, besef ek meer en meer die trooswaarde wat haar kos aan ons verleen het.  My oudste liewe kind, Kegan, het dikwels in die middae soontoe gedrentel na 'n seker-maar-mislikerige-dag by die skool.  En Ma het skaamteloos haar blygeid onverblom laat straal as 'n kleinkind onverwags, soos 'n persent, voor die deur staan. Ma het almal gevoer met iets uit die kombuis - soos 'n ritueel.  Soos altyd, het sy in 'n alles-in-een-sin dan vir hom gesê 'hallo my kind, kom jy is seker honger' vooruitgestap kombuis toe waar sy outomaties uitgereik het na die brood, die afgeleefde ronde broodbord en met 'n 'sit kind' en sonder om te karring of te vra oor sy sigbare mislikerige dag by die skool, gewag vir dit wat sy geweet het hy gaan vra,  'jou klitsed egg, asseblief Ouma'. Omdat hy as klein seuntjie baie tyd saam met Ouma en Oupa gespandeer het, is hy Afrikaans minder gestrem as sy boetie en sussie wat onderskeidelik 10 en 13 jaar later eers hul verskyning gemaak het. 

En dan het Ouma 2 of 3 eiers, afhangend van die tyd van die maand en hoeveel eiers oor was, met die ritueel voortgegaan en die eiers in 'n platterige diepbord met behendigheid geklits, beklits, oorgeklits en disnis geklits met 'n vurk terwyl haar stem kloekende geluide en rustige woorde ge-uiter het wat heen en weer in die kombuis rondwieg.  En mykind en Oumasekind, (die een en symste kind), het die ritueel en die kloekende woorde oor sy hare wat hom alewig in die moeilikheid laat beland het laat streel, warm laat afsypel in sy nek, huiwer oor sy skouerblaaie, af teen sy ruggraat en oor sy hele lenige lyf terwyl hy haar en die kalmerende bekende ritueel aanskou tot hy deel word daarvan.

Die eiers was in die stokou skroeiende pan behendig rondgeroer totdat dit net reg was.  Ma kon 'klitsed egg' maak soos net sy kon - dit was nie lellerig nie, nie te uitgedroog nie, maar 'net reg' soos die pap van bababeertjie in die kinderstorie.  'n Knypievol sout word uit die bottel gevat en uit die hoogte oor die sissende eier gestrooi terwyl  die ander hand om en om roer.

Dan het Ma-sekind Ouma se 'klitsed egg' met Ouma se brood homself in vervoering geëet.

Daar was altyd jellie en custard in Ma se huis - want sy het dit elke dag vir Pa gemaak en vir kleinkinders wat ingedrentel het vir trooskos.  'n Bakkie met drillende rooi of groen jellie en custard was voor  hom ingeskuif op dieselfde oomblik wat hy die leë bord wegskuif waar die 'klitsed egg' minder as 'n minuut gelede nog gesis het.  Met 'n 'dankie Ouma' het die poeding effe stadiger verdwyn terwyl my liewe Ma, sy liewe Ouma, (die einste symste liefste selfde mens) behaaglik na haar kleinkind kyk terwyl hy in haar eenvoudige kombuis, haar eenvoudige maal in oorvloed geniet.



So het Ma met haar kombuisritueel, sonder dat hy of ek dit dalk toe besef het, my kind met liefde gevoed en toegedraai, daar waar hy in Oupa se lendelamme ou kantoordraaistoel sit wat hy destyds in 1959 vir 'n sjieling by De Beers gekoop het.


Kegan en Ouma Hannah met ander Ouma Toni wat begripvol toekyk
 En ek weet met onmiskenbare sekerheid, sonder die geringste twyfel, met absolute oortuiging, dat die liefde van my kinders se Ouma's in hul sal leef - en dit maak my kwesbaar dankbaar.

Posted by Picasa
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...