Showing posts with label Ander griffels. Show all posts
Showing posts with label Ander griffels. Show all posts

2014-12-23

Die Dovertjie, Eva se oorbelle en die Krulkopvrou



Nog 'n jaar is verby, kan jy dit glo.  En wanneer 'n jaar verby is dan sit mens mos maar so en dink jou hele jaar se dinke; wonder oor die afgelope jaar se onafgehandelde wonder; tob stadig aan 'n  hele jaar se ongetobde tob.  So, nou sit sy maar hier, hierdie krulkopvrou en sit haar gemaklikste sit en dink haar dinkerige dink hier op die bankie in haar nuwerige tuin waarheen sy onlangs heen getrek het. 'n Lang uitgerekte trek was hierdie trekkery - hierdie groot trek na 20 jaar.

Dit was nie maklik nie.  'n Kort misleidende onvergenoegde totaal onvoldoende sinnetjie. Dit was nie maklik nie.  Sy sal nie vloek of huil nie - nie meer nie, in elk geval.

So dankbaar is sy tog nou vir die drie  bome wat deur iemand lank gelede, dalk per ongeluk in hierdie afgeskeepte kaalgattuin geplant is.   Die een, 'n veelgestamde melkhoutboom waarvan sy mooi stammerigheid totaal oorgrooi was.  Die tweede, 'n kareeboom wat plek-plek roekeloos gesaag en gesnoei was het afgestomp, beskaamd van lelikgeit in die een hoek gestaan.  Die derde was ook maar droewig om te aanskou.  Blaarloos maar met sulke plek-plek stekelrigheid soos haar tienerseuns toe hul destyds begin baard skiet het, het ook in sy winter kaaltaktoestand verwaarloos en bedremmeld sy staan gestaan. Die kaal vibracrete tussen haar en die bure het nie gehelp om die prentjie te voltooi nie.

Die temptasie was groot om sommer al drie hierdie bome kort by hul alie afsaag - watter belediging was dit dan nie vir die selfgeplante mooi boomryke  tuin wat sy onlangs vaarwel geroep het.  Dankie tog - sy het hul nie kort by hul alies afgesaag nie - al was die versoeking groot.  (Haar vorige tuin).

So het die vrou dan daardie koue nat winter gesoek na haar sit wat maar net nie 'n nuwe regsit wou vind nie; na haar lê wat ook nie meer wou reglê nie en na haar denke wat êrens langs die pad agterblewe geraak het.  So hier was sy, sitloos, lêloos en dinkloos vir etlike lang koue maande in die koue kaalgat tuinlose huis.

Maar stadigaan, baie stadig het die nuwe huis, wat eintlik 'n ouerige afgeskeepte huis was, die krulkopvrou begin sagmaak, haar stilletjies verlei met versteekte geheimenisse. Subtiel was hy hiermee. Natuurlik instinktief geweet dat hy maar sag met hierdie brose vrou moet werk.  Klein dingetjies wat stuk stuk en versigtig voor haar neergesit is -  'n offerhande.

Soos die Dovertjie wat ook lang gelede per ongeluk op die ongemaklikste plek in die huis ingebou was.  Naby die kombuis. Eintlik het niemand geweet, heel nimmer sy, hoeveel 'n ou houtstofie sou kon beteken nie.  Die Dovertjie was baie baie lank laas gebruik. Roeserig en stowwerig was die arme ding - nes die spinnerakke wat haar kop kom muf maak het van die maandelange pakkery, afskeidnemery en trekkery van 'n huis waarin die stemme van haar kinders in elke hoek gehuiwer en fluister het; hul kindwees gegroei en ontgroei het. Dit was nie maklik nie.  Weer daardie klein sinnetjie.

'n Vraggie hout, die Dovertjie en die effe verskrikte krulkopvrou, het toe 'n unieke eiesoortige verhouding begin.  So het hul twee mekaar deur die sonlose winterdae getroos.  Die afgeskeepte Dovertjie en sy.  Die spinnekoppe het vinnig pad gevat toe die eerste vlamme trek.  Altwee het gestik en gestink van die rook wat sy trek probeer vind het.   Stadig het hul twee reggekom, het sy haar trek gevind en albei minder na stroois geruik.

Ma se ou koperboompot het immer geprut met iets - 'n lang kerrie, een of ander stowerigheid of sop. Pa se handgebreide jersey (deur Ma) het sakkerig haar lyf getroos - daar by die Dovertjie - maar sy het steeds maar die vrou in die spieël vermy.  Haar hare was willerig en krullerig en Pa se handgebreide jersey wat sakkerig hang - glad nou  nie 'n oil painting nie soos Ma sou gesê het.  Maar die twee was cozy - die Dovertjie en die vrou in Pa se uitgerekte jersey.  Selfs die katte het rustig geraak en hul lê gekry.  Maar haar eie lê het haar nog ontwyk; haar sit nog nie reggesit nie en haar dink het nog nie reggedink nie.

Offerhande 2 - Hier is 'n beneukte wind wat ook hier rond woon.  Moerig en beneuk.  Die blaarlose tuin was 'n bewys daarvan. Dalk moes die wind ook onlangs verhuis het.  Sukkel nog om haar waai reg te waai en nou waai sy haar moerige windgatgeid behoorlik des moers hier rond.  Sy het snags om die hoeke van die huis gehuil, die dakplate probeer lig en takke afgeruk van die kaalgat bome. Die afgeskeepte vrou met die wilderige hare, die roeserige rokerige Dovertjie en die moerige wind het die winter trotseer.  En oorleef.

Eendag het sy, dis nou die moerige wind, moeg geraak - uitgekerm was sy en aan die slaap geraak. Die son was braaf genoeg om 'n slaggie sy skyn aan te sit en hier te kom skyn.  Sy warm strale het ingestroom en die donker huis opgehelder met sy mooi vrolike skyn.  So bly was hy om weer 'n slaggie te skyn dat hy ekstra mooi geskyn het - deur die vensters sy mooiste warm strale geskyn het, die huis met poele warm son kom vul het.  Die Dovertjie het gesug van verligting.  Uiteindelik kon sy darem 'n blaaskansie kry van al die rokery en stokery.  Sy was baie dankbaar dat sy weer haar vonk ontdek het, glo my, maar enige ordentlike Dovertjie kort ook 'n break.

Die moerige beneukte wind het bedaar en die son was so opgewonde dat hy elke dag hier sy jong lentestrale kom skyn het.  Die katte het nuwe lêplekke ontdek in die poele son en net nou en dan leepoog een oog oopgemaak, effe gerek voor hul weer opgekrul het van tevrede lekkerkry,  Deure is oopgespalk om die vriendelike warm son verder in te nooi.  Offerhande 3.  Groen knoppe en jong blaartjies het aan die kaalgatbome gedy.  Rooiborsvoeëltjies het hop-scotch tussen die blare gehop.  Kleiner voeëltjies het vladderend aan die doudruppels gedrink en klein onsigbare goggas vir brekfis gehad. 'n Skoenlapper het gebrêg met haar mooi nuwe vlerke en 'n paar akrobatiese trieks uitgevoer.  Pa se uitgerekte handgebreide jersey het gaan rus in die wasgoedmandjie en sweerlik gesug.  Die beneukte wind wou wys sy's nog hier rond en het haar sagste briesie gebries, die aroma van 'n vroegblommende jasmynblom êrens opgebries en oor die krulkopvrou kom hang soos 'n wafferse onsigbare veil. 'n Goedgemikte sonstraal het aan die vrou met die willerige krulle se mondhoeke gepluk.

Nie lank daarna nie het lang reguiterige jong blare aan lang swiepende wilgerige takke in die sagte bries gewals.  Voëls van vele vere het hul dik aan sy bessies kom vreet.  Die melkhoutboom se onnodige stamme is versigtig weggesnoei om die mooiste stamme af te wys.  Tipies melkhoutboom het sy haar  muwwerige melkhoutboom reuk begin deel.  Pikswart bessies het nog geveerdes gelok.

Die derde, die lelikste boom met die stekelrige tienerbaard het soos die lelike swaan 'n gedaanteverwisseling ontgaan en soos 'n blosende bruid oopbek gelag.  Daar staan sy nou, met swaaiende bontblaar blare met die mooiste langerige lellerige sade wat ek seker Eva sou dra as oorbelle in die paradys.  Adam sou natuurlik totaal oorstelp gewees het ten aanskoue van hierdie gewaad - daar waar sy in haar onskuldige naaktheid met hierdie swaaiende langerige oorbelle aan haar appel gekou het.

Gelukkig het die bome nie hul alie gesien nie.  Die jaar het wel.   Die krulkopvrou talm darem al weer voor die spieël en haar oë het 'n rustigheid gekry.  Die Dovertjie wag geduldig om hul verhouding die volgende winter voort te sit.  Sy het vrede gemaak met die krulle wat die LiewenHeer haar  mee geseën het en hul het hul ingekrul in hul finale krul.  Sy sit nou 'n veel gemakliker sit. Haar dink het uiteindelik teruggekom en sy dink met 'n tevredenheid haar hele jaar se dinke.  Haar ongetobde tob het skielik minder geraak om oor te tob.

Die jaar het sy alie gesien.  Die vrou sug tevrederig, streel die kat en stap kaalvoet deur die tuin.  Sy's oukei.

Boonste kiekie vanoggend geneem  deur die swaaiende takke van die Karee.
Onderste kiekie is die droewige kaalgat tuin . Die melkhoutboom regs in prentjie en die droewige kaal boom agter.

Vandag - die veelstammigheid van die Melkhoutboom waarin 'n rankertjie wat saamgetrek het rankerig rank.

Twee duifies in 'n nessie 
Bo - Flambojant en in haar blommerige glorie met haar lang mooi sade in boonste ene.
En voorheen - Droewig en blaarloos in onderste helfte.  
Vanoggend - Eva se oorbelboom wat Adam rasend sou gemaak het
Leepoog opgekrul in 'n sonstraal
Die Dovertjie, haar Ma se koperboompot, haar Pa se jersey en die broserige krulkopvrou
Nog een vanoggend geneem.  Die ander kant.  Heel bo is die bontblaarboom met die lellerige oorbelsade wat Eva in die Paradys gedra het.  Op die voorgrond is 'n olifantblaar, nikotiana, helicrysum (kooigoed) en 'n mooi pienk rosie in die pot.
Daars darem 'n lekkerte aan 'n geplukte bossie uit jou tuin
 As jy nou kan verlei kan word deur 'n roos dan is dit hierdie een.  Een enkele roos in een enkele pot wat kort kort vir my oopbek lag vol vrolike blommige uitspattigheid.  Met 'n naampie soos 'My Granny' - gee sy my eindelose plesier.
My Granny

Dubbele verleiding - My Granny weerkaatsings

Boskasige vrolikheid

Rondgetrek van oral is hierdie beeldjie Little Girl gedoop

Die voëlbak is intussen geskuif en ek's sommer lus en skuif dit terug vir kiekies soos heirdie

Roserige weerkaatsing

So koekeloer deur die nikotiana wat vir maande geblom het naby my kombuisdeur met haar heerlikste reuk

My Granny

Stokke, linte, gedraaide takke en 'n geroeste draadhart = 

Kyk hou mooi staan ons vir die kiekie

Wanneer die ranker teen die lelike muur klaargeblom het dan gebruik  ek hul om sommer 'n paar riete aanmekaar vas te knoop.  So word die  arme ou kaalgattakke iets moois vir my.  Kyk nou net.

Kennie die naam nie maar gek oor die rankerige plantjie

Gemengde slaai?  Nee, net gemengde loof

'n Ou gebreekte pot hou water vir hond, kat en die voeëls en staan ewe lekker langs 'n roos, 'n iris en 'n paar ander plante

Vermoedelik 'n inheemse rankertjie watsenaam ek vergeet het

Sorry - ek weet - maar ek kan nie genoeg kry van die kiekies nie


Hou nie juis van kiekies van myself op my blog nie, maar hier met my ontembare krulle met die liefste lawwe hond wat ook my aanvaar - woes krulle en all




2013-03-19

Uiteindelike Diagnose - Driepunthartsindroom

Uiteindelik is ek gediagnoseer vir 'n probleem wat bykans 33 jaar gelede posgevat het. Driepunthart met Doefsindroom. Dit was skuins na middernag in die middel van die Kaapse winter.. Aanvanklik was dit slegs 'n klein onsigbare bultjie wat aan die punt van my hart ontwikkel het. Die ding is, na hierdie punt sy opwagting gemaak het, was dit asof die punt maar altyd daar was, en asof ek nooit eens daarvan bewus was nie. 







Hartsepunt was glad nie pynlik nie - dalk hoekom dit nooit juis 'n probleem was nie. So het hartsepunt deel geword van my bestaan - die enigste vae teken was binne-in my hart self - want die hartklop het as gevolg hiervan 'n  nuwe ritme ontwikkel.  Niemand kon dit egter hoor nie - maar ek't altyd geweet dis daar - klein ekstra kadoef.  So het hartsepunt en kadoef deel van my lewe geword en ons het heel lekker aan die punt van Afrika geleef - sonder probleme en in harmonie.  Tot eendag.

Dit was 10 jaar later en die suid-oos het gewaai oor die Hottentots-Holland berge.  Haar wit haredos het geil  oor die Helderberg gelê - ewe windskeef, slierterig maar so mooi. Dit was rondom 4 uur die middag en 'n 2de punt het langes hartsepunt gedy. Wat nou - hoe kan mens tog leef met twee hartspunte - sy langs sy - styf langes mekaar nes die piesangs wat Ma jare gelede vroegsoggens vir Ouma op die Kaapse parade gekoop het.  Maar daar is dit toe - en kan jy glo, dit was glad nie lank nie - toe is dieselfde symste gevoel daar - asof hartsepunt1 en hartsepunt2 maar altyd daar was - ek kon glad nie onthou hoe die lewe voorheen daarsonder was nie.

Na 'n kort rukkie het hartsepunt2 ook sy merk gelaat en sy eie doefdoef by kadoef gevoeg. Glo my, dit was glad nie seer nie - ek vermoed my hart moes effe swel om vir die punte, doefdoef en kadoef plek te maak. My nuwe hartklop het so geklink: kadoef doefdoef kadoef doefdoef kadoef doefdoef.  My lyf het die nuwe ritme gemaklik aanvaar - niemand het dit juis agtergekom nie.

So het Hartsepunt1, Hartsepunt2, Kadoef, Doefdoef en ek vir twee Herfs- en Lenteseisone aan die voet van die berg voortgegaan met ons lewe. Gedurende daardie tyd moes ons trek en Natal met sy sjampanje winters en flambojante Thibouchina's het my bekoor.  Vroeg soggens het Loeries vir my gesing.  Laatmiddag het apies oor die grasperk jolifikasie gehou.  My lyf het vrede gemaak met Kadoef en Doefdoef se ritmes in die 2 hartspunte. Tot eendag.

My 40ste jaar het voor die deur gelê.  Dit was rondom eenuur die middag, toe ek dit weer voel - kan dit wees?  'n Gevroetel het hier tussen Hartsepunt1 en -2 my onrustig gestem en ja wraggies, 'n derde punt het begin nesskop.  Kan jy nou meer!  Hartsepunt3 was effe bekend maar ook effe anders en dit was ook nie lank nie of die drie punte het saam langesmekaar gelê soos 'n netjiese bossie piesangs vroegmore op die Kaapse parade in die winter.  Vir 'n kortstondige tydjie het die nuwe punt my laat wobble - amper asof ek so effe getrek was - net so liggies beskonke. Die ekstra punt het ook 'n eie doef gemaak - anders as die ander twee - glad nie 'n doef nie maar 'n taDa.  Kadoef, DoefDoef, Tada - met 'n driepuntige hart.

Nou is dit bykans 33 jaar sedert die eerste simptome - maar ek is blakend gesond - drie-puntige hart en al!  Die ritme het deel geword van my lewe en my daaglikse bestaan.  Net ek ken die ritme - en ek weet ek kan nie leef sonder enige van hierdie punte nie. 

So as jy nou en dan 'n vrou sien wat effe snaaks hinke pink met so 'n speed wobble nou en dan - dan weet jy dis nie 'n beskonke vrou nie - dalk net ekke. 

Kadoef, Doefdoef, taDa
Kadoef, Doefdoef, taDa
Kadoef, Doefdoef, taDa 

Kadoef, DoefDoef en taDa

2013-02-02

Hierdie hande van my - van Kleilatgooi tot Gunskiet



Een van die min kiekies waar my hande olraaiterig lyk - dalk omdat ek dit so bietjie fuzzy gemaak het. Sedertdien veel meer  plooie en kreukels,nie net op my hande nie.


Theuns Jordaan se growwe gerasperde stem koer die woorde 'Die twee hande van my'. Dit het my laat kyk en dink oor my eie hande wat ek tog so vanselfsprekend aanvaar. (Kliek liewer op die liedjie hieronder NADAT jy my griffel gelees het - en dan drentel jy weer hier en daar deur die woorde - my woorde kan nie kompeteer met die mooi musiek nie, maar jy sal verstaan aan die end.  Terloops, ek't vandag ontdek dat sekere liedjies soveel beter klink met oorfone - soos hierdie een. Jinne Theuns - sing tog nog sulke koerliedjies asb.)


     



Hierdie hande wat kleintyd geleer het hoe om 'n potlood so vas te hou dat dit letters en later woorde kon vorm.  Hierdie hande van my kon 'n kleilat vashou en net so ver soos die stoutgatseuns gooi en dan't ek heimlik lekkergekry as die stukkie klei 'n stoutgat wettertjie tref.  My kleindogtertjiehande het gou geleer om 'n nuutgebore squirreltjie wat Piet van sy aaklige kwaai squirreltjie-ma gered het, te troetel en te voer met 'n pop se tietiebottel.

Hierdie hande wat styf aan Ma s'n vasgehou het as ons vroegoggend die Kaapse trein gevat het om vir Ouma te gaan kuier.  Hierdie hande wat die piesangs geneem het van die smous wat sing 'ten-vir-n-rênd-merrim, ten-vir-n-rênd-merrim', 'kyk-hoe-mooi-lyk-hille-ewe-grênd-merrim' en dit later in Ouma se dankbare sagte hande gesit het.


My hande het in die hoogste dennebome geklim en vasgeklou soos superglue aan die hoogste foefieslide in die wye wêreld (vir my altans) wat teen 'n onmenslike spoed van daar bo uit een van die einste bome gevlieg het.

Hierdie hande het kleintyd geleer hoe om aartappels te plant en met verwondering later aan te dra vir ma se pot; om 'n dennepit met versigtigheid oop te kap sonder om die delikate pit te verbrysel; om 'n byl so styf vas te hou dat hy 'n stuk hout met one-shot kon oopkloof - vir die vuur vir vanaand se badwater.

Hierdie hande van my - in uitgeputte oorstelptgeid bewerig uitgestrek in die lug na my eerste pasgebore baba na urelange se worsteling van baringsnood.  Die verwondering toe ons twee se oë daardie eerste splitsekonde ontmoet is virewig vasgesweis in my siel.  Later kon ek daardie gevoel tweemaal herhaal - hierdie lewe se grootste geskenk aan my lewensbestaan.

Hierdie hande - wat eers vir Pa, slegs een maand voor sy 90ste verjaarsdag en ses jaar later vir Ma, toe sy 95 en 'n half was, in hul kwesbaarste laaste oomblikke kon vashou.

Hierdie hande wat geleer het om die wêreld te betree waar tegnologie se geheime verskuil lê; 'n boom kon plant en jare later verwonderd in sy skaduwee sit; 'n pannekoek te bak en 'n kar te bestuur. 

Hierdie hande het my babatjies geleer om 'n lepel vas te  hou, skoenveters vas te maak toe hul kleuters was, hul trane afgevee toe hul die grote skoolwêreld in krakerige nuwe kleertjies moes aandurf, hul vasgehou, koesterend en trosend teen die aanslagte van  'n soms bose wêreld.

Hierdie hande - het geleer om behendig 'n vrolike bos blomme uit my eiegeplante tuin bymekaar te sit en die grootste geskenk was die opgewondenheid in Ma se oë as sy haar uitgestrekte arms na die bos heerlikheid hou. My liewe ou Ma - ek mis jou so.

Hierdie hande - het geleer om kooksels en brousels vir my familie aanmekaar te flans, 'n boomtak te saag, 'n stuk lap te beknip en te bestik tot dit in 'n aandrok ontwaak, om 'n 16 jarige hormoon-beneukte tiener se hare in 'n 'step'-styl te knip, meubels rond te skuif tot raserny van my familie en selfs om 'n geweer uitmekaar te haal, aanmekaar te sit en ja - om dit oor te haal, die sneller te trek, te korrel en darem nou en dan die teiken raak te skiet.  

Hierdie hande van my - ek kyk vandag met bewondering en dankbaarheid na julle.  Dankie, julle verstom my!
   


2013-01-09

Jy's deel van my puzzle

Hoe lyk jou puzzle?


Wonder jy ook soms hoe en waar pas jy in die wonderlike lewe in?  Ek het die antwoord!

Ons is almal puzzles - legkaarte van die lewe.  My legkaart is anders as joune en my puzzle is opgemaak van stukkies puzzles van ander puzzles. En om dit uit te puzzle is nie moeilik nie.  

Ons almal verryk of vertroebel mekaar se lewens deur dit wat ons doen of nie doen nie.  Die woorde wat ons aanmekaar ryg en formuleer het die vermoeë om 'n ander se dag op te helder - of nie.  Die uitdrukking in my oë vertel 'n duisend stories.  My kinders weet so goed as hul my seergemaak het deur bloot in my oë te kyk.  Dan vertroebel my puzzle.  Dis dan wanneer ek skielik ongevraagde hulp met skottelgoed en koppies koffie en tee as vredemakende offerandes langs my neergesit word en my puzzle kry sommer dadelik weer 'n nuwe spatsel kleur.

Het jy al gesien hoe helder die Checkersteller se gesig op wanneer jy vir haar groet op haar naam - en as dit vreemd op die tong is, hoe lekker sy lag as jy vra om jou te help om dit uit te spreek?  Haar puzzle was dalk vaal tot daardie oggend.

Ek hoop jy kleur iemand se puzzle bietjie in vandag.



 


2013-01-07

Slat jou eie kitaar




Dis 'n splinternuwe jaar - daardie tyd wanneer ons terugdink oor dit wat was, dit wat is en dit wat dalk kon of moes gewees het.  Oor my skouer kyk ek terug na die herinneringe van die afgelope jaar.  Herinneringe wat strek tussen goed en sleg.  Elkeen het sy merk gelaat in die lyne van die ou jaar se voosgeblaaide boek wat ek vir oulaas toemaak en styf toebind met 'n bloedrooi lint.
  
Die weerkaatsing in die spieël herinner my dat ek heelwat somers beleef het. Die lyne op my gesig vertel 'n duisend ongeskrewe stories, in die blik in my oë verskuil half-vergete beelde en die silwer in my hare verdoesel ek deesdae al hoe minder.  Is elke plooi en silwer haar dan nie juis 'n tasbare teken van dit wat my definieer nie? 


Sien jy ook uit na 'n splinternuwe jaar?
Soek jou voet ook die ritme van jou eie kitaar?
Ontdek jou beste jy,
 natuurlik geborge in jou diepste jy
Slat jou eie kitaar
en dans jou beste dans 
in hierdie splinternuwe jaar.


Ek sien uit na die splinternuwe jaar met sy splinternuwe beloftes.  



2012-10-28

My wêreld is een groot bloeiselboom


Ek sit op 'n wolk en ek droom
Ek's weer net 'n kleine bietjie entjie mens
met poffer pokkelhandjies 
en ene pienkerige bolwangetjies

My witterige valletjiesrige rok is gemaak van 'n wasige wollerige wolk
My babarige blonderige hare glinster in die glans van 'n oggendstraal
Die vere van my vlerke is donserig en spierwit 

My wêreld is een groot blosende pienk bloeiselboom
Ek's weer 'n kleine bietjie entjie mens
en ek sit op 'n wolk en ek droom.

2012-10-14

Blou Gevaartetjie se Memories

Vanoggend vroeg is ek wakker van die reën teen die ruit en 'n klappende deur êrens.  Die katte dink dis kostyd en skuur en vry teen my bene vir kos.  Die hond se blaas word wakker en nood dwing hom om buitentoe te gaan.  Slaap gaan toe saam met die hond by die deur uit toe die koue by die deur instorm.  Koffie!

Met die diere versorg, troos stomende koffiereuke my tot behoorlike wakkerword.  Op my rekenaar, getroue kontak met die wêreld, verskyn 'n kiekie van 'n outydse blou volksie wat my dadelik laat terugverlang na my eie ou blou volksie - 'n 1956 model, die een met die klein agterruit.

Add caption

Die warm koffie ontdooi my lyf terwyl warm herinneringe stadig 40 jaar terugdrentel.  Ver terug, en ek sien hoe 7 jong jillende gillende verspotte skoolmeisies - ene bene en arms in die poeierblou volksie inpas. Twee langbeen meisies heel agter - agter die agterste sitplek in so 'n dieperige gat; drie (of was dit vier) styf ingeskwiez op die agterste sitplek; een lawwe meisiekiend (of was dit nou twee) voor en die uwe agter die stuur van die blitsigste blou ougatste volksietjie in die hele wye wêreld - en sy was myne.

Die destinasie ontwyk my.  Die roete kan ek nie onthou nie.  Wat ons aangehad het nog minder.  Wie presies hul was ook nie. Net dat dit die beste prettigste trippie met die volksietjie was.   Genadiglik het die engele ons beskerm en ek kan geen ander kar op die pad onthou nie, geen opdraende of afdraende nie, geen spietkops in sig nie - net 'n klomp jillende gillende langbeen verspotte tienermeisies met onhebbelike kort rokkies, in die blitsigste blou ougatste volksietjie in die hele wye wêreld - en sy was myne.

As student is mens mos maar altyd skraps van geld en die volksie het altyd net-net genoeg petrol in haar tenk gehad. Baie van die ou karretjie se funksies het maar effe gehink.  Die spedometer het afgetree en nie belanggestel om die spoed voor te stel nie. Die handbriek se vaskliek was opgekliek en jy moes dit styf vashou by stopstrate op 'n opdraend. Jy moes jou clutch en petrol gee goed sinkroniseer met die op en af rem van die bedingesde handrem. Die flikkers was 'n belewenis.  Dit was sulke armpies wat tragerig hier langs die kant van die kar uitgespring het met 'n liggie in wat flou flikker. Gewoonlik het die ou flikkerarmpie eers uitgekom nadat jy jou draatjie gemaak het en dan so drie keer stadig sy flik geflikker en dan weer teruggeval. Maar, ten spyte van hierdie ou paar tekortkomingkies, was sy die blitsigste blou ougatste volksietjie in die hele wye wêreld - en sy was myne.

Die brandstofmetertjie het nie meer gemeet nie so dit was maar 'n gegissery oor hoeveel brandstof nog in haar was.  R5.00 kon jou nogal verkry maar daar was tog daardie tye wanneer jy gewonder het hoeveel petrol daar nog in haar tenkie is.  Die grootste lekkerkry kry was as sy begin hik en stik het, en ek vir 'n oomblik versteen het van benoudgeid - tot ek skielik onthou het van die klein skakelaartjie / swietsie / megoudie / dingemalêrie neffens langs die 'clutch' - wat ek dan behendig met my groottoon oorgeswaai het (kaalvoet gery).   Nog 'n paar hikke. stikke, snikke en asemsnakke en dan skielik! - is dit asof die blou beauty 'n insputing redbull kry, en daar trek sy soos 'n jong merrie weg wat mik na nuwe grasgroen weivelde en pronkende hingse.

Ou mooiste blou gevaartetjie, ou blitsigste blou ougatste volksietjie in die hele wye wêreld- ek wonder of jy nog êrens rondry.  Dankie vir die memories. 










(foto's vanaf internet)

En 'n laaste kliek as jy nog wil kyk.

2012-08-10

Liewe Ek

Liewe Ek,

Gisteraand gedink daaraan om vir jou te skryf
Wou sommer met jou 'n paar dinge weer onthou.

Liewe Ek.
Onthou jy dae soos vandag?
Wanneer die wind so beneuk gewaai het
dat dit so sjwiesh-sjwiesh deur die dennenaalde?

Liewe Ek,
Dis blomtyd vir die lupiene
Onthou jy hoe die reuk ons omsingel en omseil het,
skaamteloos met ons geflirt het voordat ons nog van flirt geweet het
toe ons kleintyd daarin gekruip het, tonnels gemaak het?

Liewe Ek,
Kom ons gaan tel weer 'n mandjie dennebolle op
vir die donkie wat vanaand moet brand
Kom - vat my hand.

Liewe Ek,
Dis koejaweltyd
En hul stowe op Ma se vintage stoof met die twee stukkende plate
Met naeltjies
50 Jaar terug
Maak jou oë klein - skrefiesklein
en jy sal haar ook sien - belowe.

Liewe Ek,
Wanneer het ons dan grootgeword?
Kan jy daardie oomblik, daardie moment onthou?








2012-07-09

Sal jy saam met my in die Sproeier dans?






Soms verlang ek na 'n kleintyd wat ek al van vergeet het
Verlang ek na kinderlike kaalvoet onskuld
na ring-a-rosies, wegkruipertjie en vroteier 
en om uitasem en laggend op my rug te val op 'n sagterige bed van dennenaalde,



Kom ...
sal jy vir 'n oomblik saam met my  klein wees?
Sal jy saam met my vergeet van 'n more wat eintlik vandag is?
Sal jy saam met my jillend en gillend in die sproeier kom spring en dans?
Tot ons altwee sopnat omval in vergete uitgelatenheid
En die oomblik vasvang, toedraai en vasbind met 'n strik, 
Om eendag op een of ander  more, wat eintlik nou is, weer uit te pak?

Sal jy?

Kiekie vanaf Internet



2011-04-02

Camembert Jou Lekker Ding!

'n Rukkie gelede het ek op die ingewing van die oomblik ingeskryf vir 'n kompetisie op my vriendin Jacobi se ongelooflike koskolom, vir twee kaartjies na die kaasfees by Bienne Donne ... mens moes 'n versietjie opmaak oor wat jou geliefde kaas is en hoekom. 


Romerige camemberg het dadelik in my gedagtes regop gesit, en ek't gedink aan 'n geliefkoosde ontbyt op 'n winterige Sondagoggend in Kleinmond, met die koerante oral gestrooi, 'n vakerige klomp tieners - want daar's altyd 'n pel of 7 -  wat uit die kamers uitpeul met komberse om hul gedraai, al agter die reuk van liggeroosterde croissants wat uit die ou hinkende defy stoof deur die sleutelgate van hul kamers gewurm het. 



Dit was nie moeilik om die ou gediggie vir my ou favourite kasie te skryf nie en siedaar! - ek't twee kaartjies gewen en Mammi en Pappi het 'n heerlike dag gehad. 



"CAMEMBERT!


Dit was 'n onverwagte verrassing ..
die dag toe ek jou ontdek het ...
op hierdie dag, het ek soos altyd my neus opgetrek ..
hoe kan 'n kaas met 'n dreigende muflagie...
en wat effens uitpeul wanneer jy dit sny ...
enigsins lekker wees?

En toe ... op 'n dag ...
op 'n oopgevlekte effens geroosterde croissant ..
met dungesnyde ingelegde stroopsoet vye daarop ...
toe ... toe proe ek dit ...
en die smaak het my oorrompel
toe dit flirt met my sintue

En nou?... volslae verslawing!"

Gaan loer tog in op my ou skoolvriendin Jacobi se koskolom vir die heerlikste resepte en kry sommer terselfdetyd 'n deeglike en interessante geskiedenisles oor die oorsprong van baie disse. Eerlike restaurant resensies (is dit die beste woord vir review?), kompetisies en nog baie ander redes hoekom jy dit sal geniet om kort kort daar in te loer ....  

ps .. wees gewaarsku - jy gaan honger word. 


Meringue Chocolate Coffee Cake  ...
bloot die kombinasie van daardie woorde is genoeg om my kwylspiere te aktiveer


die skakel na die resepte

en terwyl ons van kos praat ... ek's nogal nie verbaas om te sien dat sy hierdie oulike sjef se koskolom aanbeveel nie. 'n Oulike man wat kan kook?   


jn-01881


pps .. laat weet as jy iemand kort om te kom proe - ek sal blomme en kerse bring, die tafel dek, ... ok?





2010-10-23

Ek kuier op ander mooi plekke op die Net

Vanoggend kuier ek sommer op ander se blogs en griffels ... 

kyk net hoe mooi is dit hier op  


http://greenweddingshoes.com/a-summer-vintage-inspired-farm-wedding/

via  www.lanaloustyle.blogspot.com




http://farm5.static.flickr.com/4095/4795838749_d53bb89b7f_b.jpg 

... die romantiek van troues is eeu-oud ..

 
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...