Een van die min kiekies waar my hande olraaiterig lyk - dalk omdat ek dit so bietjie fuzzy gemaak het. Sedertdien veel meer plooie en kreukels,nie net op my hande nie.
Theuns Jordaan se growwe gerasperde stem koer die woorde 'Die twee hande van my'. Dit het my laat kyk en dink oor my eie hande wat ek tog so vanselfsprekend aanvaar. (Kliek liewer op die liedjie hieronder NADAT jy my griffel gelees het - en dan drentel jy weer hier en daar deur die woorde - my woorde kan nie kompeteer met die mooi musiek nie, maar jy sal verstaan aan die end. Terloops, ek't vandag ontdek dat sekere liedjies soveel beter klink met oorfone - soos hierdie een. Jinne Theuns - sing tog nog sulke koerliedjies asb.)
Hierdie hande wat kleintyd geleer het hoe om 'n potlood so vas te hou dat dit letters en later woorde kon vorm. Hierdie hande van my kon 'n kleilat vashou en net so ver soos die stoutgatseuns gooi en dan't ek heimlik lekkergekry as die stukkie klei 'n stoutgat wettertjie tref. My kleindogtertjiehande het gou geleer om 'n nuutgebore squirreltjie wat Piet van sy aaklige kwaai squirreltjie-ma gered het, te troetel en te voer met 'n pop se tietiebottel.
Hierdie hande wat styf aan Ma s'n vasgehou het as ons vroegoggend die Kaapse trein gevat het om vir Ouma te gaan kuier. Hierdie hande wat die piesangs geneem het van die smous wat sing 'ten-vir-n-rênd-merrim, ten-vir-n-rênd-merrim', 'kyk-hoe-mooi-lyk-hille-ewe-grênd-merrim' en dit later in Ouma se dankbare sagte hande gesit het.
My hande het in die hoogste dennebome geklim en vasgeklou soos superglue aan die hoogste foefieslide in die wye wêreld (vir my altans) wat teen 'n onmenslike spoed van daar bo uit een van die einste bome gevlieg het.
Hierdie hande het kleintyd geleer hoe om aartappels te plant en met verwondering later aan te dra vir ma se pot; om 'n dennepit met versigtigheid oop te kap sonder om die delikate pit te verbrysel; om 'n byl so styf vas te hou dat hy 'n stuk hout met one-shot kon oopkloof - vir die vuur vir vanaand se badwater.
Hierdie hande van my - in uitgeputte oorstelptgeid bewerig uitgestrek in die lug na my eerste pasgebore baba na urelange se worsteling van baringsnood. Die verwondering toe ons twee se oë daardie eerste splitsekonde ontmoet is virewig vasgesweis in my siel. Later kon ek daardie gevoel tweemaal herhaal - hierdie lewe se grootste geskenk aan my lewensbestaan.
Hierdie hande - wat eers vir Pa, slegs een maand voor sy 90ste verjaarsdag en ses jaar later vir Ma, toe sy 95 en 'n half was, in hul kwesbaarste laaste oomblikke kon vashou.
Hierdie hande wat geleer het om die wêreld te betree waar tegnologie se geheime verskuil lê; 'n boom kon plant en jare later verwonderd in sy skaduwee sit; 'n pannekoek te bak en 'n kar te bestuur.
Hierdie hande het my babatjies geleer om 'n lepel vas te hou, skoenveters vas te maak toe hul kleuters was, hul trane afgevee toe hul die grote skoolwêreld in krakerige nuwe kleertjies moes aandurf, hul vasgehou, koesterend en trosend teen die aanslagte van 'n soms bose wêreld.
Hierdie hande - het geleer om behendig 'n vrolike bos blomme uit my eiegeplante tuin bymekaar te sit en die grootste geskenk was die opgewondenheid in Ma se oë as sy haar uitgestrekte arms na die bos heerlikheid hou. My liewe ou Ma - ek mis jou so.
Hierdie hande - het geleer om kooksels en brousels vir my familie aanmekaar te flans, 'n boomtak te saag, 'n stuk lap te beknip en te bestik tot dit in 'n aandrok ontwaak, om 'n 16 jarige hormoon-beneukte tiener se hare in 'n 'step'-styl te knip, meubels rond te skuif tot raserny van my familie en selfs om 'n geweer uitmekaar te haal, aanmekaar te sit en ja - om dit oor te haal, die sneller te trek, te korrel en darem nou en dan die teiken raak te skiet.
Hierdie hande van my - ek kyk vandag met bewondering en dankbaarheid na julle. Dankie, julle verstom my!
Kyk sommer nou anders no my twee hande! Jou skrywe laat my ook onthou wat 'n dokter vir tannie Joyce, Paulisa de Viliers se ma, gese het toe sy raad vra oor die "oumensvlekke" op haar hande en in haar gesig van al die sonbaai op die strand voor Maritanahof. " Tannie moet dit nie sien as lelik nie maar dat elkeen 'n herinnering is aan daardie wonderlike sonskyndae op die strand."! Magriet.
ReplyDeleteDankie Magriet - my hande is nou ene oumenshande, beplooi, bekreukel en nou en dan be-eelt - veral in die Somer en lente. In die winter dan sug hul effe van die ekstra pamperlang.
DeleteSjoe - alweer raakgevat! Uitstekend geskryf Karin!
ReplyDeleteEk het dit nou sooo geniet!!!Het skoon met n smile op my gesig gesit!Dis so mooi, en so goed geskryf. Was veral mal oor die "tien-vir-n-Rend-merrim."
ReplyDeleteMy selfaangestelde dogter van 'n ander Ma wat die wêreld ronddobber op 'n skippie - bly jy't hier ingeloer. Ek wag sien uit na wanneer jy weer land.
DeleteHi Emilene - so bly jy loer in. Dankie.
ReplyDeletePragtige woorde Sissi, asook daardie woorde van die wyse dokter Magriet! Ek kyk na myne wat my baie goed gedien het op hulle dag; baie tuinwerk, naaldwerk, koekversiering, bak en brou van gaste onthaal en skoonmaak daarna, tent opslaan, dans (ja hande is 'n integrale deel van dans ook), liefderyke versorging en sagte troos van man en kinders. Die hardwerkende hande het nooit die begeerde mooi naels gehad nie, nou groei hulle pragtig aan hande wat in my skoot leegle. xx
ReplyDeleteMy liewe Sissi - dankie - ja ons hande is werklik monumente van ons lewens. Daardie leeglê mooi gemanikuurde hande reik 'werk' steeds wanneer jy in die kuberwêreld speel. As jy 'n besoeker hier is, my liewe vriendin Sonja en ek ken mekaar reeds van ons 6 was en ly aan 'n aaklige siekte genaamd MSA (Multiple System Atrophy). Loer gerus in by haar blog - tenspyte van die feit dat sy deesdae aan 'n rolstoel gekluister is, doen sy baanbrekerswerk vanaf haar rekenaar om bewustheid, veral in Suid-Afrika, te kweek, alhoewel ons stemme al internasionaal ook weerklink. Sissi (ons noem mekaar so) - jou woorde en jou stem sal verewig weergalm. xxx msainsouthafricawithsonja.blogspot.com
DeleteKarin, beautifully written - another wonderful use for hands to pen words ......
ReplyDeleteThank you Karel :D
DeleteHi Karin! Mooi gesê. Ek kyk af na my eie hande en sien my ma se plooie in my handpalms en ek gee nie meer om dat hulle so lyk nie. Ons (my ma s'n en myne) handpalms is so gemerk dat 'n mens sou dink dat ons vreeeeslik baie "fortuin" daarin sou kon lees. Groete daar!
ReplyDeleteHi Carol - einste - elke plooi en merk is 'n getuienis.
Delete