Showing posts with label Plekke vir die siel. Show all posts
Showing posts with label Plekke vir die siel. Show all posts

2013-09-28

Ek het hierdie Maandagoggendreseppie vir jou

Ek het hierdie oggendreseppie vir jou
hou dit vir 'n Maandagoggend se blou.

Stap tuin toe en soek 'n gewillige laventelbos
pluk genoeg totdat jou  hand propvol is
en jou mondhoeke vanselwers opkrul van heimlike lekkerkry.

Drentel kaalvoet verder agter die hond aan
stadig
sodat jy die klam grasspriete tussen jou tone kan voel.

Lig jou ken na die sonstraal
voel die hangende oggenddou
Sê dankie vir die hier en die nou
Streel die skurende kat.

Stap stadig verder
pluk die enkele blommende mooiste perfekte roos
wat die engele laasnag vir jou kom los het
omsingel haar met die handvol laventel.

Bind dit vas met 'n tierlantyntjie
Lig op tot vlak by jou neus
snuif diep
 tot jy effe dronk is van salige heerlikheid.

Sug tevrede
en omhels die dag.




Posted by Picasa

2012-12-14

Krismis is nie Krismis sonder die Krismisstorie nie

Eendag lank, lank gelede was daar die mooiste brightste ster
in die hele wye wêreld ...
(foto van internet)
Dis weer Krismistyd
Daardie tyd van die jaar wanneer mens veronderstel is om vol te voel
Versadig en tevrede van die seëninge van die afgelope jaar
Met damme vol van happy memories.

Dikwels het die jaar maar sy tol gevat 
en jou leeg gelos
Leeg soos 'n Karoodam in die dorre somerson.

Mens kort nou en dan 'n regte Krismisstorie.


Enorm was die verligting toe die moeë blink ster uitendelik na eeue en eeue se reis en rondhang in die lug gaan stilstaan het en die 3 kamele kon rus want al is 'n kameel 'n kameel, hulle moes verskriklik  dors gewees het.  Die ster se skyn het begin flou word en hy het ook rus en lafenis gekort. Die ster het sy laaste helderste skyn opgeskyn vir hierdie eeuelange trippie en dit het tyd geword vir hom om af te tree.  Jong nuwe sterretjies is intussen ook gebore en hul het gretig op sy koms gewag en uitgesien na die wonderlike skynstories wat hy van sy helder lewe met hul sou deel.  Hul kon nie wag vir hul skyn om te groei nie en het gewonder waar hul eendag hul mooiste skyne sal skyn.  Hul het soveel om te leer en sal hard moes oefen want as jy 'n ster is, is dit jou werk om altyd te skyn, hard te skyn, blink te skyn en te aanhou skyn, al voel dit soms dat jy wil ophou skyn. Die klein sterretjies kon nie wag om vir die groot beroemde ster sy spesiale aftree-sterrebed met die mees fantastiesste uitsig te wys nie.  Hy was met blye oop arms ontvang en het uitgesien na die groot banket wat gedek was in sy eer, maar het nog een klein takie gehad om te vervul.

Nadat die kamele water gekry het en uiteindelik kon relax het die 3 wyse slimme moeë manne bietjie gebad en hul fancy pancy skoon klede en kopdoeke versier met ekstra blink bling. Hul was uiteindelik reg om die spesiale Baba te ontmoet en met opgewonde afwagtig met hul persente van mirregoed, wierookgoed en goudgoed saggies en eerbiedig die stal binnegegaan.

So mooi het hy sy laaste skyn geskyn
(foto van internet)

En daar lê Hy, in die stilste hoekie van die donker stal wat wonderbaarlik glad nie stink nie. Die amper afgetrede moeë ster, het sy laaste spesiaalste mooiste beste ligstraal gehou vir hierdie oomblik en deur die enkele gat in die dak saggies laat skyn. So mooi het hy geskyn daar op die Jesusbabytjie, sodat Maria Hom mooi kan versorg en dat hy ekstra mooi lyk vir die wyse ooms wat so verskriklik vergekom  het.

O toggie - ons moet net nie vanaand poep nie
(foto van internet)


Die mooiste Baby wat  nog ooit geleef het lê in die kripbedjie wat Josef by die donkies geleen het. Hul het selfs van hul sagste strooi saamgegee om die krippie mooi te laat lyk vir die special occasion. En die donkies het ooreengekom om mooi stil te wees die aand, hulself te gedra en hard te probeer om niks stinks aan te vang nie.


Dis weer Krismistyd
Daardie tyd van die jaar wanneer mens veronderstel is om vol te voel
Versadig en tevrede van die seëninge van die afgelope jaar
Met damme vol van happy memories
Dikwels het die jaar maar sy tol gevat 
en jou leeg gelos
Leeg soos 'n Karoodam in die dorre somerson
Dan kort mens nou en dan 'n regte Krismisstorie

Geen Krismis was eintlik Krismis sonder dat iemand die storie vertel het nie.  
Geen kind was eintlik kind sonder dat hy deel was van 'n Krismiskonsert nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder die klank van Stille Nag, Heilige Nag nie.
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder 'n flikkerende Krismisboom nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder stillerige oumas en oupas, besige ma's, brommende pa's, stryende broers en susters, opgedresde niggies, gebrilcreemde nefies, 'n soenerige halfgeskeerde omie en 'n belipstiekte drukkende tannie nie.  
Geen Krismis was eintlik Krismis sonder 'n gevoel van andersheid, vrolikgeid, oordadige poedings en soms stupid persente nie.  
En dit als oor die Krismisstorie.


Kom - dis tyd vir die Krismisstorie
(foto van internet)


Vir die luisterende kind het dit nie saakgemaak wat die Baby met weird rookgoed gaan doen nie, ook nie hoekom goud belangrik was nie of hoe op aarde Hy met die mirregoed sou speel nie.  Dit als het niks saakgemaak vir die kind wat jaar in en jaar wag vir die Storie nie. Maar die kind het geweet en geglo soos wat jy glo dat die sterre elke aand skyn dat die Jesusbabytjie jou altyd sal liefhê, vir altyd en vir ewig.  Soos in forever.


Dit het begin reën. Jy kan maar kom Krismis
(foto van internet)


Dit het begin reën
Die voeëls en diere het begin saamtrek
om die dorre leë Karoodam.
Jy kan maar kom,
Krismis.

2012-07-09

Sal jy saam met my in die Sproeier dans?






Soms verlang ek na 'n kleintyd wat ek al van vergeet het
Verlang ek na kinderlike kaalvoet onskuld
na ring-a-rosies, wegkruipertjie en vroteier 
en om uitasem en laggend op my rug te val op 'n sagterige bed van dennenaalde,



Kom ...
sal jy vir 'n oomblik saam met my  klein wees?
Sal jy saam met my vergeet van 'n more wat eintlik vandag is?
Sal jy saam met my jillend en gillend in die sproeier kom spring en dans?
Tot ons altwee sopnat omval in vergete uitgelatenheid
En die oomblik vasvang, toedraai en vasbind met 'n strik, 
Om eendag op een of ander  more, wat eintlik nou is, weer uit te pak?

Sal jy?

Kiekie vanaf Internet



2012-01-01

2012 - Ek pluk vir jou 'n Katjiepiering



Dis 'n minuut na middernag

en ek pluk vir jou 'n katjiepiering ...

met een druppel van die nag se dou ..




vang tog die reuk in jou geheue vas ... 

en hou dit vir eendag ...

om eendag wanneer jy dalk verlang 

om jou skouers te hang  ...






Ek gooi 'n paar drome

en gebede

in die lug ...

om saam met die sterre

glinsterend te dans

.. en ek sien uit ..

ek sien SO daarna uit

om hul ooparm te vang ...

Vrede ...

Liefde ...

Hoop ...

Vreugde ...

vir jou in 2012 




2011-08-15

Ruik jy ook die Lente?



Oor die naweek het ek die eerste jasmynblom in my tuin geruik voordat ek dit gesien het en die lug soos 'n hond besnuif totdat ek dit weggesteek agter 'n bos ontdek het.  Die bome in die tuin slaap nog, maar die onkruid floreer asof hul betaal word. 


Ek kan nie wag vir wanneer die poppies en die botterblomme hul jaarlikse dans in my tuin hou nie... en vir wanneer die lavender langes die paadjie swaar dra.

 Hier pluk ma-se-eie blom lavender - 'n paar jaar gelede - toe sy nog klein was.  Ek sien uit na my skokkende rooi bignonia sherere (blood trumpet vine) wanneer sy weer soos flerrie oor die ou deur hang.


Ek's gek oor die laang lote wat sy ongemerk liefderik om iets krul of net tok-tok aan my kamerdeur om my te nooi om koffie onder haar koel mantel te kom drink.
 


Elke jaar is'k van vooraf verlief op die agapante wat soos kandelare pronk en in die wind hul blou antennas waai, om te sê: 'hier's ek weer, hier's ek weer, met my bloublommetjies voor jou deur - tralalala'...

...dan pluk ek 'n paar dat hul in die botteltjies by my agterdeur kom verder dans - styf  langes 'n takkie jasmyn of nicotiana en nou en dan bestrik  met 'n vars lint.




Lente en geel blommetjies laat my dadelik dink aan die ingerygde blommekransies wat ons as kinders gemaak het, nes hier onder ...



Ma-se-eie-blom (die einste ene wat vroeër ma-se-laventel pluk), saam met haar kleinniggie. Hul het blommekransies gemaak ... en nes toe ons klein was, het sy geweet om haar grootniggie se hare daarmee te betooi.

 

 

Kom Lente - ons wag vir jou!



 

2010-10-07

Koffie in my tuin

Is jy ook lief vir tuin?  Kom drentel saam deur myne. 


Son vasgevang in 'n klos van 'n Keurtjieblom
  

Moredou op 'n Agaveblaar.

'n Stukkie hemel  weerkaats in 'n waterbak












Nicotiana Nicotiana jou lieflike ding. Elke jaar kom hierdie flerrie van 'n plant weer op en oorrompel my weer met haar reuk - oor en oor.  Sy en haar susters groei in die skadu van die Australiese Frangipani - 'n statige dame wie se aroma ek wens ek kon vasvang in 'n bottel om uit te haal wanneer sy gaan slaap tot volgende lente.

Nicotiana langs 'n  paadjie oorkant 'n mooi ou Agave

Geranium Maderense is hierdie pronkerige perserige meisie se naam en ja, sy kan nogal mens se asem wegslaan nê?  Al tragedie is dat sy na hierdie flambojante blommetentoonstelling doodgaan maar gelukkig my nalaat met armsvol saad wat die wind sal versprei na ander plekke in die tuin.

Geranium Maderense

Ek sit hier net vir hierdie foto.  Nuuteplante lamsoor voor die doelbewuste skeefgeplaasde plot.  En 'n stukkende potskerf wat nou 'n waterbak is vir die tarentaal babies

Getroue ou Pers laventel kompeteer met die perserige hemel

Verlei deur 'n boom - die mooie flambojante Hymenosporum Flavum
Hierdie stoel het ek hier vergeet voor die winter - nou los ek dit maar hier om te speel saam met die ivy en die purperwind - hy lyk dan so gelukkig hier. 
Sit 'n bietjie 
Die son skyn soos 'n flits in vanoggend se pienk purperwind blom - gister s'n se kleur reeds verblou.


Purperwind
Klokkies wat musiekmaak in my bome wanneer die wind draai. Die kinders spot my al oor klokkies wat oral in die tuin hang.
Laurette se kiekie
'My Ouma' - 'n paslike naam vir hierdie romantiese roos - wat sommer in 'n botteltjie swaai in die tuin - ja, sommernet.
Laurette se kiekie
 Ou gieters - afgetree tussen die blare van die Bignonia Cherere.
Laurette se kiekie
Vasgerygde skulpies wat Ma en ek destyds tydens ons weskustrippie van die klonkies langs die pad by Paternoster gekoop het. 
Laurette se kiekie
Die perlemoenskulpe wat die vorige eienaars hier gelos het (toe perlemoenduik nog toelaatbaar was) swaai vermakering in die wind aan 'n ou wynvathoepel. 
Laurette se kiekie
Die verweerde ou pophuis het ook afgetree en sy bly vir my steeds mooi.
Laurette se kiekie

Skulpe woon vrolik saam met die sterjasmyn.

Perlemoenskulpe en Sterjasmyn 

Pers Nierembergia en die grys lamsoor is gelukkige bure.
Nierembergia en lamsoor

Selfs plek vir die beskeie ou kappertjie wat hierdie ou stomp geselskap hou.



'My Ouma' - kyk hoe gelukkig is sy hier naby my agterdeur.
'My Ouma' - gunsteling roos

Rose, Pepermint en daisietjies

Die sliertige slierte van die Convolvulus met haar bloupers blomme - darem so mooi in die hangmandjie.
Slierterige convolvulus in die hangmandjie
Teksture en skakerings van groen.
Elderbessie, Vlas, Japanese Bamboes en nog ander
En nog kleure en teksture.
Coprosma, Wilde Salie, Blou aartappelbos, Pers Geranium Maderense, Skoenlapperboom, goue elderberry en 'n kamferboom na agter


'n ou ysterkot afgetree in 'n bed van ivy onder die swiepende takke van die bignonia cherere
  
Links af - Geel botterblomme, vinkel, coprosma, pienk bauhinia.  Regs goue sipres, vlasstruik en nog ander plante 
Bauhinia Variegata.

As jy hou van tuine - op 'n ander geleentheid het ek tuingemaak vir Helderberg Hospies se Opetuindag.  Loer gerus hier op my ander Blog, Findingprettyagain.blogspot.com

Hier en daar sal jy sien ek praat van "Laurette se kiekie" as ek een van haar mooie foto's gebruik het. Meer oor Laurette (sy is 'n fotograaf) op haar blog en ook hier.  Ander foto's my eie.

Terloops, een van haar jongste blogposte is juis toe sy kom kuier het in my tuin.  Loer hier tog hier. SO MOOI!


 



Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...