Showing posts with label Ma se kind. Show all posts
Showing posts with label Ma se kind. Show all posts

2014-01-22

Ou Lady, Blompot - After Bleddie All

As 'n volwaardige skrywer beskou ek my nou allermins, eerder as 'n ongereelde tjommelende griffelaar.  'n Gedagte begin in my kop rond te dwarrel en as die suid-oos, wat rerig woes kan waai hier in die Weskaap, dit nie totaal in sy glory waai nie, dan kan hierdie gedagte vir lank hier in my onderbewussyn rondskarrel.

Dit gebeur deesdae so bleddie selde, dat ek al gedink het dat die tyd aangebreek het om my Griffelblad netjies toe te vou soos 'n boek wat nou sy mufwordstadium bereik het en dit virewig in mufboekwêreld in te stuur.  After all, as ek begin kyk na die bladsye waar sommige sogenaamde professionele skrywers hul opinies uitdruk oor die ongeskrewe en geskrewe reëls; etiket; aanvaarbare skryftermes en -terminologieë; uitdrukkings; bruikbare anglisismes en blah di bleddie blah van skryf, dan dink ek, demmit, hul's seker after all bleddie reg en ek moet my plek mooi ken in hierdie wêreld en my p's en q's met sorgsaamheid kies.  Is ek vermetel optimisties om te dink dat hierdie griffels, hierdie ritmelose tjommels van my vir enigeen iets kan beteken en dat mense maar eenvoudig netjies beskaafd is, niks kommentaar lewer nie terwyl hul hul vreklag in hul nimmereindigende kennisvolle moue? 

Nou ja, soos liewe Ma sou gesê het as sy nie geweet het wat om te sê wanneer sy nie saamstem nie maar ook nie eintlik weet wat om te sê nie: 'nottendêm!'.  So, ek gaan maar so aantjommel op my manier al is dit nou net vir jou en my.  

Noudat ek dit uit my sisteem het - gaan ek maar vir my 'n glasie Two Oceans gooi, omdat die boeing oor is en ook omdat ek kan.  As Ma nog geleef het, sou sy ewe reggeskuif het in stille afwagting vir iets uit haar Blompot se pen, nes ek deesdae in stille afwagtig sit op my eie Blompot se kreatiwitasies (ja ek weet dis nie in die woordeboek nie so what?) om dit later verstommend te aanskou.  Ma het tog altyd so graag oor my gebrêg weet jy - my haar Ou Lady of Blompot genoem. Selfs die oppassers by Robari wat so mal was oor Ma, het saans vir haar gevra: 'en was Ou Lady weer hier vandag Ouma?'  

Om nou die griffelblokkasie te probeer loswikkel, laat ek maar vertel wat nou hier in my kop rondswem, met behulp van die glasie Two Oceans.  As ek die woord 'Ma' tik dan is daar 'n onmiddellike emosie wat hier in my opwel wat nie lank duur voor my oë in twee oorlopende poele beland nie, ten spyte van die feit dat dit nou alreeds vier-en-ietsie jaar is sedert die engele vir Ma kom haal het, toe sy vyf-en-negentig-en-'n-half was.  Wanneer dit effe oorgeloop het dan is daar 'n stortvloed van gedagtes wat in my kop ronddans - so baie gedagtes wat so verskriklik vinnig in my kop die cha-cha doen, dat dit vir my moeilik is om die dans te stop en een te kies!  Laat ek tog maar probeer.

Robari in Somerset-Wes.  Ma het  soontoe getrek toe die engele vir Pa kom haal het - een maand voor sy negentigste verjaarsdag. Sy was ag-en-tagtig-en-'n-half.   (Dit is 'n ander storie, want die gedagte laat my steeds nou en dan bleddiewil snik en dis nou al elf-en-ietsie jaar after bleddie all! Bleddie all - Ma was lief om dit te sê - nooit gevloek nie - net ge-bleddie all).  So ek beter nou die familietradisie voortsit - after bleddie all.)

Anyway, (Ma se ander woord wat sy van gehou het om te gebruik wanneer sy woorde en sinne en stilstuipes probeer las het), Ma het aangepas in die ouetehuis aan die onderkant van die dorp en vir die eerste keer in haar lewe was sy drie maaltye per dag bedien.  Sy moes knyp om nie die borde bymekaar te maak en kombuis toe te neem en te bleddiewil te was nie.  After all (o  ja - nog 'n Ma-frase) - sy was 'n stoere boervrou, 1914 gebore in die dae van oortollige jarelange se swaarkry.

Ou Lady het gereeld gekuier en Ma se kamer mooi getooi met beddegoed, gordyne en fieterjasies.  Een ding wat Ou Lady nie kon hanteer nie, was die afgeskeepte tuin by die aftree oord (hul hou nie van die woord ouetehuis nie).  Dit was aaklikg.  Dit was droog.  Die laaste 3 plante het hygend gewag dat hul ook verlos word van hul stryd.  Tot eendag. Ou Lady het stilletjies, ten spyte van 'n gegrommigheid oor watertekorte, haar voet kaalvoet neergeplak en in die tuin begin spit en grawe, tot groot vermaak van almal.  Met die verloop van tyd het die oumensies stuksgewys uit hul kamers gekom en kom kyk wat aangaan.  'n Opening is later in 'n muurtjie gemaak sodat hul makliker met hul rolstoele, walkertjies en kieries om die snuif-en-vroetel beplante area kon beweeg.  Ou Lady het die plantmuur met kompos en vrolike plante belaai - elke plant kon gekneus en gesnuif word.  Daar was katjiepierings, tiemie, sterjasmyn, sweetpeas en 'n vrolike mengelmoes van plante.  

Ma was eintlik skaam, het ek agtergekom.  Negentig somers en ek vind uit Ma was 'n skaam meisie en nie voor-op-die-prêm soos heelwat van die pretensieuse ou tannies nie.  Anyway, my skaam Ma sou dan buite kom sit het naby my  terwyl ek rondkruip in die tuin en begin gesels met die tannies wat uitgeskuifel gekom het uit hul kamers. 'Isn't this so lovely', 'I love it',  'I wonder who she is', sou ek hul hard hoor fluister. Dan sou Ma ewe vermakerig regopperig sit en haar ek-wil-nie-brêg-nie maar after bleddie all, 'its my daughter', met 'n blatante brêggerige klank in  haar stem.  Dan het Ou Lady maar skaamweg dieper in 'n bos lekkergekry vir my brêggerige skamerige ou Ma en met nuwe ywer tuingemaak.

Ou Lady het versot geraak op weerloserige oumensies en sy het telkens na haar asem gesnak as sy die onverwagte lekkerkry uitdrukking sien wanneer sy 'n katjiepiering of 'n vroetelbossie kruie in 'n gekreukelde afgetrede ou hand kon druk.   

Ou Lady;  Blompot; Ongereelde Griffelaar; sy is maar hier rond.  Tot later!

Liewe Ma op die muurtjie waar Ou Lady geplant het

Sterjasmyn, kappertjies en pienk magrietjies

Liewe Ma se hande met 'n takkie sterjasmyn

Bont vrolike bedding

'n Bejaarde tannie wys ons hoe om te HoelaHoep

Twee vriendinne wie ek gereeld in Checkers gekry het -
hul in my kar gehelp het en vir 'n plesierritjie geneem het
voor ek hul gaan aflaai het

Prettige Heather wys Ou Lady die HoelaHoep

Liewe Ma op die blommende muurtjie

Liewe Ma by die fonteintjie wat nie meer wou fontein nie.  'n Vrag kompos
en 'n paar plantjies sweetpeas later, was sy die pronkerige vrolikheid self
  










2013-03-19

Uiteindelike Diagnose - Driepunthartsindroom

Uiteindelik is ek gediagnoseer vir 'n probleem wat bykans 33 jaar gelede posgevat het. Driepunthart met Doefsindroom. Dit was skuins na middernag in die middel van die Kaapse winter.. Aanvanklik was dit slegs 'n klein onsigbare bultjie wat aan die punt van my hart ontwikkel het. Die ding is, na hierdie punt sy opwagting gemaak het, was dit asof die punt maar altyd daar was, en asof ek nooit eens daarvan bewus was nie. 







Hartsepunt was glad nie pynlik nie - dalk hoekom dit nooit juis 'n probleem was nie. So het hartsepunt deel geword van my bestaan - die enigste vae teken was binne-in my hart self - want die hartklop het as gevolg hiervan 'n  nuwe ritme ontwikkel.  Niemand kon dit egter hoor nie - maar ek't altyd geweet dis daar - klein ekstra kadoef.  So het hartsepunt en kadoef deel van my lewe geword en ons het heel lekker aan die punt van Afrika geleef - sonder probleme en in harmonie.  Tot eendag.

Dit was 10 jaar later en die suid-oos het gewaai oor die Hottentots-Holland berge.  Haar wit haredos het geil  oor die Helderberg gelê - ewe windskeef, slierterig maar so mooi. Dit was rondom 4 uur die middag en 'n 2de punt het langes hartsepunt gedy. Wat nou - hoe kan mens tog leef met twee hartspunte - sy langs sy - styf langes mekaar nes die piesangs wat Ma jare gelede vroegsoggens vir Ouma op die Kaapse parade gekoop het.  Maar daar is dit toe - en kan jy glo, dit was glad nie lank nie - toe is dieselfde symste gevoel daar - asof hartsepunt1 en hartsepunt2 maar altyd daar was - ek kon glad nie onthou hoe die lewe voorheen daarsonder was nie.

Na 'n kort rukkie het hartsepunt2 ook sy merk gelaat en sy eie doefdoef by kadoef gevoeg. Glo my, dit was glad nie seer nie - ek vermoed my hart moes effe swel om vir die punte, doefdoef en kadoef plek te maak. My nuwe hartklop het so geklink: kadoef doefdoef kadoef doefdoef kadoef doefdoef.  My lyf het die nuwe ritme gemaklik aanvaar - niemand het dit juis agtergekom nie.

So het Hartsepunt1, Hartsepunt2, Kadoef, Doefdoef en ek vir twee Herfs- en Lenteseisone aan die voet van die berg voortgegaan met ons lewe. Gedurende daardie tyd moes ons trek en Natal met sy sjampanje winters en flambojante Thibouchina's het my bekoor.  Vroeg soggens het Loeries vir my gesing.  Laatmiddag het apies oor die grasperk jolifikasie gehou.  My lyf het vrede gemaak met Kadoef en Doefdoef se ritmes in die 2 hartspunte. Tot eendag.

My 40ste jaar het voor die deur gelê.  Dit was rondom eenuur die middag, toe ek dit weer voel - kan dit wees?  'n Gevroetel het hier tussen Hartsepunt1 en -2 my onrustig gestem en ja wraggies, 'n derde punt het begin nesskop.  Kan jy nou meer!  Hartsepunt3 was effe bekend maar ook effe anders en dit was ook nie lank nie of die drie punte het saam langesmekaar gelê soos 'n netjiese bossie piesangs vroegmore op die Kaapse parade in die winter.  Vir 'n kortstondige tydjie het die nuwe punt my laat wobble - amper asof ek so effe getrek was - net so liggies beskonke. Die ekstra punt het ook 'n eie doef gemaak - anders as die ander twee - glad nie 'n doef nie maar 'n taDa.  Kadoef, DoefDoef, Tada - met 'n driepuntige hart.

Nou is dit bykans 33 jaar sedert die eerste simptome - maar ek is blakend gesond - drie-puntige hart en al!  Die ritme het deel geword van my lewe en my daaglikse bestaan.  Net ek ken die ritme - en ek weet ek kan nie leef sonder enige van hierdie punte nie. 

So as jy nou en dan 'n vrou sien wat effe snaaks hinke pink met so 'n speed wobble nou en dan - dan weet jy dis nie 'n beskonke vrou nie - dalk net ekke. 

Kadoef, Doefdoef, taDa
Kadoef, Doefdoef, taDa
Kadoef, Doefdoef, taDa 

Kadoef, DoefDoef en taDa

2013-02-02

Hierdie hande van my - van Kleilatgooi tot Gunskiet



Een van die min kiekies waar my hande olraaiterig lyk - dalk omdat ek dit so bietjie fuzzy gemaak het. Sedertdien veel meer  plooie en kreukels,nie net op my hande nie.


Theuns Jordaan se growwe gerasperde stem koer die woorde 'Die twee hande van my'. Dit het my laat kyk en dink oor my eie hande wat ek tog so vanselfsprekend aanvaar. (Kliek liewer op die liedjie hieronder NADAT jy my griffel gelees het - en dan drentel jy weer hier en daar deur die woorde - my woorde kan nie kompeteer met die mooi musiek nie, maar jy sal verstaan aan die end.  Terloops, ek't vandag ontdek dat sekere liedjies soveel beter klink met oorfone - soos hierdie een. Jinne Theuns - sing tog nog sulke koerliedjies asb.)


     



Hierdie hande wat kleintyd geleer het hoe om 'n potlood so vas te hou dat dit letters en later woorde kon vorm.  Hierdie hande van my kon 'n kleilat vashou en net so ver soos die stoutgatseuns gooi en dan't ek heimlik lekkergekry as die stukkie klei 'n stoutgat wettertjie tref.  My kleindogtertjiehande het gou geleer om 'n nuutgebore squirreltjie wat Piet van sy aaklige kwaai squirreltjie-ma gered het, te troetel en te voer met 'n pop se tietiebottel.

Hierdie hande wat styf aan Ma s'n vasgehou het as ons vroegoggend die Kaapse trein gevat het om vir Ouma te gaan kuier.  Hierdie hande wat die piesangs geneem het van die smous wat sing 'ten-vir-n-rênd-merrim, ten-vir-n-rênd-merrim', 'kyk-hoe-mooi-lyk-hille-ewe-grênd-merrim' en dit later in Ouma se dankbare sagte hande gesit het.


My hande het in die hoogste dennebome geklim en vasgeklou soos superglue aan die hoogste foefieslide in die wye wêreld (vir my altans) wat teen 'n onmenslike spoed van daar bo uit een van die einste bome gevlieg het.

Hierdie hande het kleintyd geleer hoe om aartappels te plant en met verwondering later aan te dra vir ma se pot; om 'n dennepit met versigtigheid oop te kap sonder om die delikate pit te verbrysel; om 'n byl so styf vas te hou dat hy 'n stuk hout met one-shot kon oopkloof - vir die vuur vir vanaand se badwater.

Hierdie hande van my - in uitgeputte oorstelptgeid bewerig uitgestrek in die lug na my eerste pasgebore baba na urelange se worsteling van baringsnood.  Die verwondering toe ons twee se oë daardie eerste splitsekonde ontmoet is virewig vasgesweis in my siel.  Later kon ek daardie gevoel tweemaal herhaal - hierdie lewe se grootste geskenk aan my lewensbestaan.

Hierdie hande - wat eers vir Pa, slegs een maand voor sy 90ste verjaarsdag en ses jaar later vir Ma, toe sy 95 en 'n half was, in hul kwesbaarste laaste oomblikke kon vashou.

Hierdie hande wat geleer het om die wêreld te betree waar tegnologie se geheime verskuil lê; 'n boom kon plant en jare later verwonderd in sy skaduwee sit; 'n pannekoek te bak en 'n kar te bestuur. 

Hierdie hande het my babatjies geleer om 'n lepel vas te  hou, skoenveters vas te maak toe hul kleuters was, hul trane afgevee toe hul die grote skoolwêreld in krakerige nuwe kleertjies moes aandurf, hul vasgehou, koesterend en trosend teen die aanslagte van  'n soms bose wêreld.

Hierdie hande - het geleer om behendig 'n vrolike bos blomme uit my eiegeplante tuin bymekaar te sit en die grootste geskenk was die opgewondenheid in Ma se oë as sy haar uitgestrekte arms na die bos heerlikheid hou. My liewe ou Ma - ek mis jou so.

Hierdie hande - het geleer om kooksels en brousels vir my familie aanmekaar te flans, 'n boomtak te saag, 'n stuk lap te beknip en te bestik tot dit in 'n aandrok ontwaak, om 'n 16 jarige hormoon-beneukte tiener se hare in 'n 'step'-styl te knip, meubels rond te skuif tot raserny van my familie en selfs om 'n geweer uitmekaar te haal, aanmekaar te sit en ja - om dit oor te haal, die sneller te trek, te korrel en darem nou en dan die teiken raak te skiet.  

Hierdie hande van my - ek kyk vandag met bewondering en dankbaarheid na julle.  Dankie, julle verstom my!
   


2012-09-21

Jêm, Klisted Egg en Ouma se Trooskos

Gisteraand kry ek 'n potjie aarbeikonfyt persent - tuisgemaakte aarbeijêm wat skoonsus Anna gemaak het.  Vanoggend was dit perfek saam met die plaatkoekies - of  crumpets soos my Engelse kinders dit  ken.  Deesdae waardeer ek soveel meer selfgemaakte kookselgeskenke - soos vanoggend toe ek liefde in Anna se selfgemaakte jêm proe en ek besef hoe kos wat deur geliefdes gemaak en mildelik gedeel word, se lekkerte seerplekke hier in jou binneste donkerste kamers van jou siel kan bereik.  Dis asof dit die  krapperige plekke ontdek wat my die afgelope paar dae onrustig gestem het.    Ma sou so gehou het van hierdie jêm. Ma het nie uit boeke gekook nie, maar haar fynproewerstong het gou besluit of dit te waterig, loperig, suikerig of wat-ookal-erig was.  Maar die aarbeijêm sou sy besing het.


Kyk, Ma was die queen van vyejêm,  en elkeen wat ooit daarvan geproe het sal sonder huiwer kopknikkend en dalk kwylend met my saamstem.  Sy't nou en dan appelkoosjêm gemaak as Theo dit van die plaas gebring het en dit was ook lekker.  Maar haar vyejêm van die vrygewige boom by die agterdeur - dit was die spreekwoordelike cherrie - altans die vy - op die koek!  Saam met Ma se selfgebakte brood om haar wankelrige ou kombuistafel was dit 'n kombinasie wat selfs Nataniël in trane sou laat uitbars.

Sedert die Engele Ma kom haal het, besef ek meer en meer die trooswaarde wat haar kos aan ons verleen het.  My oudste liewe kind, Kegan, het dikwels in die middae soontoe gedrentel na 'n seker-maar-mislikerige-dag by die skool.  En Ma het skaamteloos haar blygeid onverblom laat straal as 'n kleinkind onverwags, soos 'n persent, voor die deur staan. Ma het almal gevoer met iets uit die kombuis - soos 'n ritueel.  Soos altyd, het sy in 'n alles-in-een-sin dan vir hom gesê 'hallo my kind, kom jy is seker honger' vooruitgestap kombuis toe waar sy outomaties uitgereik het na die brood, die afgeleefde ronde broodbord en met 'n 'sit kind' en sonder om te karring of te vra oor sy sigbare mislikerige dag by die skool, gewag vir dit wat sy geweet het hy gaan vra,  'jou klitsed egg, asseblief Ouma'. Omdat hy as klein seuntjie baie tyd saam met Ouma en Oupa gespandeer het, is hy Afrikaans minder gestrem as sy boetie en sussie wat onderskeidelik 10 en 13 jaar later eers hul verskyning gemaak het. 

En dan het Ouma 2 of 3 eiers, afhangend van die tyd van die maand en hoeveel eiers oor was, met die ritueel voortgegaan en die eiers in 'n platterige diepbord met behendigheid geklits, beklits, oorgeklits en disnis geklits met 'n vurk terwyl haar stem kloekende geluide en rustige woorde ge-uiter het wat heen en weer in die kombuis rondwieg.  En mykind en Oumasekind, (die een en symste kind), het die ritueel en die kloekende woorde oor sy hare wat hom alewig in die moeilikheid laat beland het laat streel, warm laat afsypel in sy nek, huiwer oor sy skouerblaaie, af teen sy ruggraat en oor sy hele lenige lyf terwyl hy haar en die kalmerende bekende ritueel aanskou tot hy deel word daarvan.

Die eiers was in die stokou skroeiende pan behendig rondgeroer totdat dit net reg was.  Ma kon 'klitsed egg' maak soos net sy kon - dit was nie lellerig nie, nie te uitgedroog nie, maar 'net reg' soos die pap van bababeertjie in die kinderstorie.  'n Knypievol sout word uit die bottel gevat en uit die hoogte oor die sissende eier gestrooi terwyl  die ander hand om en om roer.

Dan het Ma-sekind Ouma se 'klitsed egg' met Ouma se brood homself in vervoering geëet.

Daar was altyd jellie en custard in Ma se huis - want sy het dit elke dag vir Pa gemaak en vir kleinkinders wat ingedrentel het vir trooskos.  'n Bakkie met drillende rooi of groen jellie en custard was voor  hom ingeskuif op dieselfde oomblik wat hy die leë bord wegskuif waar die 'klitsed egg' minder as 'n minuut gelede nog gesis het.  Met 'n 'dankie Ouma' het die poeding effe stadiger verdwyn terwyl my liewe Ma, sy liewe Ouma, (die einste symste liefste selfde mens) behaaglik na haar kleinkind kyk terwyl hy in haar eenvoudige kombuis, haar eenvoudige maal in oorvloed geniet.



So het Ma met haar kombuisritueel, sonder dat hy of ek dit dalk toe besef het, my kind met liefde gevoed en toegedraai, daar waar hy in Oupa se lendelamme ou kantoordraaistoel sit wat hy destyds in 1959 vir 'n sjieling by De Beers gekoop het.


Kegan en Ouma Hannah met ander Ouma Toni wat begripvol toekyk
 En ek weet met onmiskenbare sekerheid, sonder die geringste twyfel, met absolute oortuiging, dat die liefde van my kinders se Ouma's in hul sal leef - en dit maak my kwesbaar dankbaar.

Posted by Picasa

2011-07-02

Florence Nightingale en kat doen nagbesoek





'En Ma bly lief vir julle
ten spyte van die toestand van jul kamers'


Gisteraand, terwyl jul altwee al geslaap het,
het ek en Neo, die afgetrede rondloperkat die donker trappe geklim na jul kamers.

Met ingehoue asem het ons versigtig oor die chaos getrap, 
in die lig van 'n klein flitsie, 
soos 'n wafferse Florence Nightingale 
(sodat ek jul nie wakkermaak nie).


Hy - Maseklong   - (20 en op Kollege)
Sy - Maseblompot - (18 en in matriek)


In die flou lig van die klein flitsie
het ek vir 'n klein ewigheid gehuiwer en jul so staan en bekyk
my asem opgehou
en gehoop jul word nie wakker nie.

In die donker kamer is daar mos 'n spesiale atmosfeer
so half heiligs
as  mens jou kinders so aanskou.


Hy, Maseklomg, met stoppelbebaarde kennebak,
'n dik haredos op sy kop en 'n harige been wat by die kombers uitsteek,
die hele kamer besaai met rekenaarparte (nes ouboet) en te veel borde, glase en koppies uit my kombuis.  Ek sukkel om die kleinseuntjie wat agter my aangewaggel het in jou groot lyf te herken.  Jy's amper reg om die nes te verlaat. 'n Rusteloosheid is in jou elmboë soos 'n jong arendsvoël wat sy vlerke begin fladder om dit sterk te maak voordat hy uit die nes tuimel om die wonderlike lewe in te vlieg.

Sy, Maseblompot, met lang donkerbruin krullerige hare wat Julia Roberts jaloers sou maak,
'n vollipperigemond wat Angelina se dogters sou beny,
jou vel glad en gloeiend soos 'n outydse ponds advertensie
jou lang perfekgeskaapte vingers waaruit die mooiste kunswerke en inspirerende woorde vloei, lê ontspanne op die kussing,
jou jong lyf soos 'n resiesperd wat Pa's na haelgewere laat gryp.

O, en ek wonder,
ja ek wonder 
wanneer jul dan nou eintlik so gou grootgeword het?
Waar was ek dan in die tyd dat jul oornag 
gestoel en geblom het tot amperse grootmense,
wie het jul gebeendere kom vul dat jul skielik langer is as ek?

En ek wonder,
wie gaan jul harte steel en hoe gaan jul kinders lyk?  Gaan jul hul eendag met my deel?  Hoe gaan jul dit hanteer wanneer jul siele gekneus word? Het die Here genoeg engele aangetree om jul te beskerm wanneer jul binnekort ook die paaie gaan aandurf met splinternuwe karlisensies? Wat van die ongekende lewenspaaie waarvoor mens geen lisensie of handleiding kry nie?  

Ek't 'n rukkie gesloer, 
en onthou en verlang skielik na toe jul my nog toegelaat het om langs jul beddens te kniel met 'n gebed terwyl ek jul kinderlywe streel.  Ma bid steeds vir julle.

Opnuut verlang ek ook na die oudste lam
toe ook hy nog in die huis was 
en ook 'n deurmekaarkamer beset het.

En ek wonder,
word verlang ooit makliker?

En toe,
voordat die lastige knop in my keel
en die nattigheid in my oë 
die oomblik spoil,
toe
toe steel ek dit,
so tussen die harigheid van jul hare
'n wollerige wang, 
'n pond's voorkop
harige- en resiesperdbene,
het ek 6 soene by jul elk gesteel,
sulke vinnige geluidlose piksoene,
en ek het stilweg lekkergekry
omdat jul nie vies wakkergeword het nie.

En ons het stilletjies omgedraai,
die skurende kat en ek,
en met my Florence Nightingale lampie
is ons weer af met die trap die donkerte in.


Kiekie vanaf Internet



2011-01-16

Ma se blompot gaan matriek toe!




More is die laaste keer wat jy vir oulaas jou eerste skooldag aan die begin van die jaar tegemoet sal gaan.

Ek dink skielik aan 12 jaar gelede toe jy  met blinkogies en 2 parmantige boksterte graad 1 begin het.

Ma se blompot;
hoe gou het die tyd nie gevlieg nie -
hier staan jy nou op drumpel van die wêreld wat ooparms vir jou wag; 
reg om die laaste skof aan te durf;
aan te durf met 'n nuwe wipperige wip in jou stap.

Ek sien jy raak bietjie verbouereerd;
verbouereerd en oorweldig oor watter studierigting om te kies.  Ma verstaan.

Kies tog ene waar jy jou vlerke kan sprei;
sprei om te vlieg na ongelooflike hoogtes
om daar te groei en te word en te wees
in die beste jy waarvoor ons lieweHeer jou gemaak het.

  
Toemaar Masekind 
ek het vrede,
dit maak nie saak wat jy kies,
ek weet jy met oorgawe sal aanpak.

Ps - en ek weet jy sal jou ontferm oor die nuwe graad aggies
was dit dan nie net gister wat jy ook met bewende bene in hul skoene was nie? 


Mooiloop die laaste skof
Ma se liewe kind





lees ook hier







2009-06-20

Ma se meisiekind ...

More is my kind 16  
my huppelkind,
my blompotkind,
my lawwe kind,
my mooiste enigste meisiekind






op die drumpel
van grootwees staan sy 
en oor haar skouer loer sy 
loer sy na gister se sorgelose 
giggel-en-babbel- se kommervrydae 







met sterre en onskuld
in grootbruin oge 
kyk sy afwagtend na môre 
Here, 
bewaar tog my kind












Hier's nog soos hierdie! HIER







Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...