2011-07-02

Florence Nightingale en kat doen nagbesoek





'En Ma bly lief vir julle
ten spyte van die toestand van jul kamers'


Gisteraand, terwyl jul altwee al geslaap het,
het ek en Neo, die afgetrede rondloperkat die donker trappe geklim na jul kamers.

Met ingehoue asem het ons versigtig oor die chaos getrap, 
in die lig van 'n klein flitsie, 
soos 'n wafferse Florence Nightingale 
(sodat ek jul nie wakkermaak nie).


Hy - Maseklong   - (20 en op Kollege)
Sy - Maseblompot - (18 en in matriek)


In die flou lig van die klein flitsie
het ek vir 'n klein ewigheid gehuiwer en jul so staan en bekyk
my asem opgehou
en gehoop jul word nie wakker nie.

In die donker kamer is daar mos 'n spesiale atmosfeer
so half heiligs
as  mens jou kinders so aanskou.


Hy, Maseklomg, met stoppelbebaarde kennebak,
'n dik haredos op sy kop en 'n harige been wat by die kombers uitsteek,
die hele kamer besaai met rekenaarparte (nes ouboet) en te veel borde, glase en koppies uit my kombuis.  Ek sukkel om die kleinseuntjie wat agter my aangewaggel het in jou groot lyf te herken.  Jy's amper reg om die nes te verlaat. 'n Rusteloosheid is in jou elmboë soos 'n jong arendsvoël wat sy vlerke begin fladder om dit sterk te maak voordat hy uit die nes tuimel om die wonderlike lewe in te vlieg.

Sy, Maseblompot, met lang donkerbruin krullerige hare wat Julia Roberts jaloers sou maak,
'n vollipperigemond wat Angelina se dogters sou beny,
jou vel glad en gloeiend soos 'n outydse ponds advertensie
jou lang perfekgeskaapte vingers waaruit die mooiste kunswerke en inspirerende woorde vloei, lê ontspanne op die kussing,
jou jong lyf soos 'n resiesperd wat Pa's na haelgewere laat gryp.

O, en ek wonder,
ja ek wonder 
wanneer jul dan nou eintlik so gou grootgeword het?
Waar was ek dan in die tyd dat jul oornag 
gestoel en geblom het tot amperse grootmense,
wie het jul gebeendere kom vul dat jul skielik langer is as ek?

En ek wonder,
wie gaan jul harte steel en hoe gaan jul kinders lyk?  Gaan jul hul eendag met my deel?  Hoe gaan jul dit hanteer wanneer jul siele gekneus word? Het die Here genoeg engele aangetree om jul te beskerm wanneer jul binnekort ook die paaie gaan aandurf met splinternuwe karlisensies? Wat van die ongekende lewenspaaie waarvoor mens geen lisensie of handleiding kry nie?  

Ek't 'n rukkie gesloer, 
en onthou en verlang skielik na toe jul my nog toegelaat het om langs jul beddens te kniel met 'n gebed terwyl ek jul kinderlywe streel.  Ma bid steeds vir julle.

Opnuut verlang ek ook na die oudste lam
toe ook hy nog in die huis was 
en ook 'n deurmekaarkamer beset het.

En ek wonder,
word verlang ooit makliker?

En toe,
voordat die lastige knop in my keel
en die nattigheid in my oë 
die oomblik spoil,
toe
toe steel ek dit,
so tussen die harigheid van jul hare
'n wollerige wang, 
'n pond's voorkop
harige- en resiesperdbene,
het ek 6 soene by jul elk gesteel,
sulke vinnige geluidlose piksoene,
en ek het stilweg lekkergekry
omdat jul nie vies wakkergeword het nie.

En ons het stilletjies omgedraai,
die skurende kat en ek,
en met my Florence Nightingale lampie
is ons weer af met die trap die donkerte in.


Kiekie vanaf Internet



5 comments:

  1. Pragtige storie van 'n ma se ewigdurende en allesomvattende liefde vir haar kinders.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Sissi - hierdie is meer as 'n jaar gelede geskryf - Maseblompot is klaar met skool en ry haarself nou kollege toe en is pas klaar met haar eerste jaar. Maseklong is klaar met kollege en sy dik bos lange hare maak menige meisie jaloers. Albei se kamers is meeste van die tyd so dat dit ook 'n saak van gebed raak. Ouboet is steeds waar dit onmenslik koud raak en ek weet nie hoeveel langer ek die seer verlange kan verduur nie.

      Delete
  2. Ai, Karin! Jy het my sommer laat huil. So mooi geskryf asook beskryf. Welgedaan! xxx

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Helene - dit was juis juis jou mooie skrifsel op jou Capersblog wat my laat dink het aan hierdie ene. Jou woorde is 'n eggo van menige ma se hart glo ek. http://cloetecapers.blogspot.com/2012/11/if-i-knew-then-what-i-know-now.html

      Delete
  3. Sooooo mooi ! Wonderlik hoe jy kan skryf. En wonderlik hoe jy verwoord hoe ons ons kinders liefhet. Jy is n spesiale soort mamma. ( en vriendin)

    ReplyDelete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...