Showing posts with label die hond en ek .... Show all posts
Showing posts with label die hond en ek .... Show all posts

2011-08-15

Ruik jy ook die Lente?



Oor die naweek het ek die eerste jasmynblom in my tuin geruik voordat ek dit gesien het en die lug soos 'n hond besnuif totdat ek dit weggesteek agter 'n bos ontdek het.  Die bome in die tuin slaap nog, maar die onkruid floreer asof hul betaal word. 


Ek kan nie wag vir wanneer die poppies en die botterblomme hul jaarlikse dans in my tuin hou nie... en vir wanneer die lavender langes die paadjie swaar dra.

 Hier pluk ma-se-eie blom lavender - 'n paar jaar gelede - toe sy nog klein was.  Ek sien uit na my skokkende rooi bignonia sherere (blood trumpet vine) wanneer sy weer soos flerrie oor die ou deur hang.


Ek's gek oor die laang lote wat sy ongemerk liefderik om iets krul of net tok-tok aan my kamerdeur om my te nooi om koffie onder haar koel mantel te kom drink.
 


Elke jaar is'k van vooraf verlief op die agapante wat soos kandelare pronk en in die wind hul blou antennas waai, om te sê: 'hier's ek weer, hier's ek weer, met my bloublommetjies voor jou deur - tralalala'...

...dan pluk ek 'n paar dat hul in die botteltjies by my agterdeur kom verder dans - styf  langes 'n takkie jasmyn of nicotiana en nou en dan bestrik  met 'n vars lint.




Lente en geel blommetjies laat my dadelik dink aan die ingerygde blommekransies wat ons as kinders gemaak het, nes hier onder ...



Ma-se-eie-blom (die einste ene wat vroeër ma-se-laventel pluk), saam met haar kleinniggie. Hul het blommekransies gemaak ... en nes toe ons klein was, het sy geweet om haar grootniggie se hare daarmee te betooi.

 

 

Kom Lente - ons wag vir jou!



 

2009-08-19

'n Wekie saam met Ma en die hond ....



Dit was 'n skielike besluit wat ons gemaak het 
die hond en ek 
om Ma (95) te neem vir 'n paar dae na Kleinmond 
net ons driekies
Ma, die hond en ek.
Ons het vinnig 'n paar goedjies gepak





'pak tog 'n ekstra battery in vir my gehoordingetjie, kind,
jy weet as die ding in my oor doodgaan kan ek boggerol hoor'
Ek weet - dan is dit asof iemand Ma se lig afgesit het 
'sommer 2 langbroeke, 4 hemde en tog genoeg sakdoeke - jy weet ek hou nie van tissues nie 
my eie waslap en ek hou van daai klein handdoekie - ek kom makliker orals by met 'n klein handdoekie, asb kind 
Ja, vat tog maar die biblioteekboek - wag laat ek gou sien? - 
0 ja dis 'n mooi storie en die skrif mooi groot
enne 
o ja - my vergrootglas.
Jy weet mos die bril is nie genoeg nie en daai oogoperasie het ook nie waffers gehelp nie 
uhm 
6 panties is seker genoeg, of hoe, kind? 
Ons gaan tog seker nie 'n jaar wegbly nie - lag lag 
Wat nog? O, en sommer daai 2 jerseys sonder die moue en met die sakkies - ek het altyd 'n sakkie nodig vir my sakdoek
jy weet mos.



Ag kind, en my slippers 
my ou liddoring hou nie heeldag van skoene nie
tandeborsel, kammetjie, bra's,
trek maar die gordyne toe 
en waar's my kierie? 
So ja 
Kyk die hond staan al en wag by die deur - 
Kom Chester!  
Het jy die lig afgesit kind? '

En daar gaan ons gang af van die 'home' 
Ma se wieletjiesoetkys in my linkerhand 
Ma aan my regterarm, hond op ons hakke 
so elke nou en dan word die kierie gelig in 'n waaigroet-aksie vir 'n outannie wat ons bietjie jaloersvieserig agterna kyk
en 'sien jul anderdag weer - ek weet nie wanneer die lady 
(dis nou ekke deesdae - ek't status gekry)
terugkom nie - ons gaan Kleinmond toe'

En verbeel ek my of sien ek haar tong net so effens oor die lippe kom
so asof sy wou 'whê' sê? 
Uiteindelik is ons in die kar
Ma inge'strep' 
kyste agter in die bak
die liewe hond op die agtersitplek 
reg vir die trippie.

'Ai my kind jou kar ry tog so lekker
wat 'n heerlikheid om so bietjie weer saam met jou op 'n outing te gaan
en ek is tog so bly dat jy darem ook destyds 'n lisensie gekry het oooo - ek ruik al die seelug'.

Dit was 'n lekker week.
Ons het koffie gedrink,
'n paai en ietsie soetigs van Angies se lekker winkel gekoop
'n ander dag 'n eier op toast
dan weer ‘sommer 'n koppie-sop-my-kind’
en beskuit en koffie vroegoggend. 

Ons het stokou kiekies gekyk wat ek op die 'komputertjie' vir haar kon wys
En met haar bril en vergrootglas 
het Ma die gesigte sorgvuldig bekyk
gekyk 
en gekyk en verkyk.

Dan, dan het sy onthou 
dan het sy die vergrootglas neergesit, 
en ver getuur, 
verby die skerm 
deur die muur
verby onsigbare eindelose jare
dan het ons maar weer koffie gedrink 
met 'n ‘stukkie-beskuit-my-kind’.

Dan het Ma gewoonlik bietjie gaan skuinslê 
en die hond was kort op haar hakke
hy het gewag tot sy lekker lê
dan met 'n een versigtige sprong deur die lug getrek
met sy dubbel heupdisplaasde heupe
om langes haar te beland 
daar op die bed.

Haar ou oë het 'n glinsterinkie ingekry amper asof sy iets stouts aanvang 
‘honde hoort mos nie eintlik op die bed nie, Chester
maar lê maar by ounooi’
terwyl hy hom teen haar neervlei en sy die harige lyf oor en oor streel
Oor en oor en oor en oor.

Ek's so bly ek het hierdie kiekie
van Ma en die hond 
op die bed
daardie wekie in Kleinmond
net ons 3.






Ma is baie lief vir snoek en niemand kan dit gaarmaak soos sy nie.
Die Engele het die snoek Kleinmond toe gestuur daardie week.
En die snoek het geloop, 
geloop soos nog nooi te vore nie
daardie week.  Die bote het gekattermaai onder die vis en die stil ou hawetjie van Kleinmond het verander in 'n gegons van mense, bote, seevoëls, hawkers, karre en kinners.  'n Hele klomp joligheid en gejilligheid - daardie week in Kleinmond.





Ek het 2 snoeke gevang
vars uit die see
van die boot van Helena die vissersvrou
het ek hul gevang
Twee bielies 
Met my aas van twee vyftigrandnote met nog tienrand elk vir die vlek.


Helena met die vlymskerp mes het hul behendig woeps-waps oopgevlek terwyl die mans versigtig bietjie wegstaan en met hande half ongeërg gekruis oor hul gulpe.



L

Ma het oopmond gelag toe ek die groot visse in die wasbak sit
'haai kind! - wanneer laas het ek sulke vars vis gesien?'

Ma het haar moue effens opgedruk, 'n vonkel het in haar oë gedans en met haar gewillige hande het my Ma my gewys en my breedvoerig vertel hoe om die snoek te bewerk, in meel en eier te doop en dan  

om en om en om te draai 
en te braai in die vlakolie

tot dit mooi bruin is.

Meegevoer het ek haar dopgehou met hierdie ritueel wat ek so dikwels as kind gesien het
en tog nou vir die heel eerste keer rerig, 
so half in slow motion
my verkyk aan my liewe Ma 
hoe sy vir my leer visbak.


Later het ons snoek en brood geëet

Bybelskos

net ek en my Ma 
en die hond wat 'n lêplek in Ma se hart oopgesmokkel het

het geduldig gewag vir sy stukkie aalmoesie
'n flentertjie oorskiet wat hy weet sy vir hom sal offer om uit haar bakhand te lek
terwyl sy koesterwoordjies vir hom fluister.


Ma se weerkaatsing in die glas koffietafel terwyl sy koffie drink en by die venster uit tuur


ons het weer koffie gedrink
haar silhoeet in die wolke
weerkaats in die koffietafel
en 'n onverwagte simpel knop het in in my keel kom sit.




Later het ons het afgery see toe
sommer net gesit
die see geruik 
en die wolke en die mense bekyk 



Terug by die huis het ons weer koffie gedrink 
Dan het die tweetjies weer kamer toe gedrentel

sy skuifelend voor in die gang af met die kieriekie wat klik-klik
en hy geduldig op haar hakke
die hond en Ma


Die hond het homself genooi op die bed 
en sy het uitgesien na die ou harelyf langs haar 
en dit was SO reg.


 
Dit was 'n goeie week.  Dit was die beste week.  




Die Engele het Ma in 2009 kom haal - lees hier
Posted by Picasa
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...