2012-10-14

Blou Gevaartetjie se Memories

Vanoggend vroeg is ek wakker van die reën teen die ruit en 'n klappende deur êrens.  Die katte dink dis kostyd en skuur en vry teen my bene vir kos.  Die hond se blaas word wakker en nood dwing hom om buitentoe te gaan.  Slaap gaan toe saam met die hond by die deur uit toe die koue by die deur instorm.  Koffie!

Met die diere versorg, troos stomende koffiereuke my tot behoorlike wakkerword.  Op my rekenaar, getroue kontak met die wêreld, verskyn 'n kiekie van 'n outydse blou volksie wat my dadelik laat terugverlang na my eie ou blou volksie - 'n 1956 model, die een met die klein agterruit.

Add caption

Die warm koffie ontdooi my lyf terwyl warm herinneringe stadig 40 jaar terugdrentel.  Ver terug, en ek sien hoe 7 jong jillende gillende verspotte skoolmeisies - ene bene en arms in die poeierblou volksie inpas. Twee langbeen meisies heel agter - agter die agterste sitplek in so 'n dieperige gat; drie (of was dit vier) styf ingeskwiez op die agterste sitplek; een lawwe meisiekiend (of was dit nou twee) voor en die uwe agter die stuur van die blitsigste blou ougatste volksietjie in die hele wye wêreld - en sy was myne.

Die destinasie ontwyk my.  Die roete kan ek nie onthou nie.  Wat ons aangehad het nog minder.  Wie presies hul was ook nie. Net dat dit die beste prettigste trippie met die volksietjie was.   Genadiglik het die engele ons beskerm en ek kan geen ander kar op die pad onthou nie, geen opdraende of afdraende nie, geen spietkops in sig nie - net 'n klomp jillende gillende langbeen verspotte tienermeisies met onhebbelike kort rokkies, in die blitsigste blou ougatste volksietjie in die hele wye wêreld - en sy was myne.

As student is mens mos maar altyd skraps van geld en die volksie het altyd net-net genoeg petrol in haar tenk gehad. Baie van die ou karretjie se funksies het maar effe gehink.  Die spedometer het afgetree en nie belanggestel om die spoed voor te stel nie. Die handbriek se vaskliek was opgekliek en jy moes dit styf vashou by stopstrate op 'n opdraend. Jy moes jou clutch en petrol gee goed sinkroniseer met die op en af rem van die bedingesde handrem. Die flikkers was 'n belewenis.  Dit was sulke armpies wat tragerig hier langs die kant van die kar uitgespring het met 'n liggie in wat flou flikker. Gewoonlik het die ou flikkerarmpie eers uitgekom nadat jy jou draatjie gemaak het en dan so drie keer stadig sy flik geflikker en dan weer teruggeval. Maar, ten spyte van hierdie ou paar tekortkomingkies, was sy die blitsigste blou ougatste volksietjie in die hele wye wêreld - en sy was myne.

Die brandstofmetertjie het nie meer gemeet nie so dit was maar 'n gegissery oor hoeveel brandstof nog in haar was.  R5.00 kon jou nogal verkry maar daar was tog daardie tye wanneer jy gewonder het hoeveel petrol daar nog in haar tenkie is.  Die grootste lekkerkry kry was as sy begin hik en stik het, en ek vir 'n oomblik versteen het van benoudgeid - tot ek skielik onthou het van die klein skakelaartjie / swietsie / megoudie / dingemalêrie neffens langs die 'clutch' - wat ek dan behendig met my groottoon oorgeswaai het (kaalvoet gery).   Nog 'n paar hikke. stikke, snikke en asemsnakke en dan skielik! - is dit asof die blou beauty 'n insputing redbull kry, en daar trek sy soos 'n jong merrie weg wat mik na nuwe grasgroen weivelde en pronkende hingse.

Ou mooiste blou gevaartetjie, ou blitsigste blou ougatste volksietjie in die hele wye wêreld- ek wonder of jy nog êrens rondry.  Dankie vir die memories. 










(foto's vanaf internet)

En 'n laaste kliek as jy nog wil kyk.

No comments:

Post a Comment

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...