2013-01-07

Slat jou eie kitaar




Dis 'n splinternuwe jaar - daardie tyd wanneer ons terugdink oor dit wat was, dit wat is en dit wat dalk kon of moes gewees het.  Oor my skouer kyk ek terug na die herinneringe van die afgelope jaar.  Herinneringe wat strek tussen goed en sleg.  Elkeen het sy merk gelaat in die lyne van die ou jaar se voosgeblaaide boek wat ek vir oulaas toemaak en styf toebind met 'n bloedrooi lint.
  
Die weerkaatsing in die spieël herinner my dat ek heelwat somers beleef het. Die lyne op my gesig vertel 'n duisend ongeskrewe stories, in die blik in my oë verskuil half-vergete beelde en die silwer in my hare verdoesel ek deesdae al hoe minder.  Is elke plooi en silwer haar dan nie juis 'n tasbare teken van dit wat my definieer nie? 


Sien jy ook uit na 'n splinternuwe jaar?
Soek jou voet ook die ritme van jou eie kitaar?
Ontdek jou beste jy,
 natuurlik geborge in jou diepste jy
Slat jou eie kitaar
en dans jou beste dans 
in hierdie splinternuwe jaar.


Ek sien uit na die splinternuwe jaar met sy splinternuwe beloftes.  



No comments:

Post a Comment

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...