‘n Troosblom
vir jou
My liefde
vir tuin en natuur het die afgelope tyd intensifiseer (as daar nou nie so ‘n woordjie bestaan nie, gee ek
haar nou permissie om gestalte te kry) en ek twyfel of dit net is omdat ek
onlangs van my groot hartstuin moes afskeid neem. In my gewese tuin was baie blomme en
blomdraende struike. Hoe graag sou ek
nie vandag daarin wou stap en ‘n armvol blomme pluk nie, ‘n armvol
troosblomme. Ek sou graag ‘n spesifieke
een vir jou wou kies.
(Demmit dis ‘n
uitdaging om te tik met ‘n kat wat soos ‘n stukkie wondergom op my skoot vassit, om warmte te soek – maar hy’s my
optelkat, my afgetrede rondloperkat, my ‘die-kat-kom-terug-kat’, my bejaarde
koulike kat – so ons tik maar saam). Veral
as die storie wat nog nie ‘n storie is nie, hier tussen jou gedagtes en jou
vingers ronddwarrel – maar die liewe ou kat het nou sy lê gekry so ek probeer
weer my gedagtes inryg soos ‘n onwillige wapperende vlieër. Waar was jy nou weer gedagte? O ja, ’n troosblom vir jou.
Vir een of
ander rede, wat ek glad nie kan verklaar nie, het ek die afgelope tyd meer
bewus geraak van die pyn wat mense ronddra – sommige dra hierdie pynpakkie
gemakliker as ander, ander gaan swaar gebuk onder hul las. Dis seker maar
menslik om ander se pyn te vermy, om blindelings te loop met oogklappe, veral
as jy stoei met jou eie wroeginge. Ons
raak so bedrywig en besig met ons eie lewens dat ons nie tyd in ons harte
inruim vir die pyn van ander nie. Dalk sal ons eie harte sodoende beskerm en
beskut bly wanneer ons die pyndraers vermy; wanneer ons anderpad kyk; wanneer ons onself besighou met klein onkruidjies wat by die agterdeur groei.
Vir my het
die teendeel homself aan my openbaar en weet jy, my hart voel ligter omdat ek
toelaat dat ek hul pyn vir ‘n wyle kan voel.
Ek voel bevoorreg dat my hart vir ‘n wyle kan stilstaan, vir ‘n wyle
rerig kan verstaan, vir ‘n wyle kan voel wat hul so braaf heeltyd ronddra.
Ek huil soms hopeloos te maklik wanneer iets my raak – iets waarvoor ek dikwels om verskoning moes
vra en die gedoemde oorgangsjare die skuld gee vir hierdie swakheid van my. Tot ‘n liewe dierbare ou Italiaanse
vriend my daarop wys dat dit ‘n heimlike voorreg is wanneer jou siel oorweldig
raak met emosie, dat dit oorloop in trane.
Ek het’n
lysie gemaak van mense wat oor my pad gekom het, wie se pyn my aangeraak
het. Hierdie lysie is privaat – maar dalk
herken jy jouself wanneer ek vir jou vandag hulde bring en vir jou ‘n troosblom
pluk.
* Vir jou wat vir slegs 5 maande geluk geken het met jou sielsmaat - vir jou haal ek versigtig my mooiste kaktus uit. Die bogger is so slim om al die dorings te hê om hom te beskerm.
- * Vir
jou wat moes aanskou hoe jou dierbare ouers hul lewensprobleme probeer verdrink
het in goedkoop wyn, mag jou lewensprankel altyd in jou glimlag wys en jou
fabulous ridder jou altyd bybly – vir jou pluk ek ‘n takkie delikate jasmyn wie
se reuk jou sal omsingel.
- * Vir
jou wat so verlang na jou verweg kind, moenie moed verloor, hy verlang ook – hier’s vir jou ‘n katjiepiering.
- * Vir
jou wat elke oggend jou braafste gesig opsit, ten spyte van ‘n siekte wat jou
feitlik daagliks aftakel – hierdie helderrooi poppie.
- * Vir
jou wat al jare wroeg waarom jou lewensmaat ‘n geweer op jou gerig het en jy
wonderbaarlik bly leef het –‘n bloedrooi angelier.
- * Vir
jou wie moet aanskou hoe jou liewe Ma in ‘n onbereikbare wêreld van Alzheimers
verdwyn – ‘n helderpienk ranonkel.
- * Vir
jou wat nie betyds by jou Ma se sterwensbed kon wees nie – ‘n laventelblom (nes
die een wat ek onder haar kopkussing namens jou gesit het)
- * Vir
jou wat jou man virewig moes groet, al was hy so oud, jou smart kon ek skaars
verduur – vir jou ‘n geel kappertjie (nes die bossie wat ons in sy kis gesit het).
- * Vir
jou wat 3 keer per week gaan op dialise en elke dag wonder / bid of vandag die dag is
wat jy ‘n nuwe nier sal kry – ‘n frangipaniblom.
- * Vir
jou wie se ma diep groewe in jou siel gelaat het omdat sy so mislik was met jou in jou kwesbare kinderjare – ‘n
weskusvygie.
- * Vir
jou wat vir jare lank in die put van aaklige verslawing was – ‘n statige
speldekussing.
- * Vir
jou wat vir my skryf wanneer jy steeds
na jou oorlede Ma verlang terwyl jy in ‘n straatkafee in Italië sit – ‘n pienk sweetpea.
- * Vir
jou wie 15 jaar laas met jou Pa gepraat het en jouself steeds bluf jy verlang glad
nie na hom nie – ‘n blou koringblommetjie.
- * Vir
jou met jou langverwagte ou babatjie, wie se Ma nog net twee keer haar
kleinkind kom sien het, al woon sy net 'n katspoeg ver– ‘n jong bergvaring.
* * Vir jou wat skuldig voel omdat jy nie jou broer kon red van die strate nie - 'n geel lupien.
* * Vir jou wat skuldig voel omdat jy nie jou broer kon red van die strate nie - 'n geel lupien.
* Vir jou wat daagliks wonder of jy jou kinder / kleinkinders sal sien grootword, ten spyte van die stryd wat jy voer met kanker - 'n sterk fier koninginprotea.
* Vir jou wat hulpeloos moes toekyk hoe 'n siekte jou dierbare aftakel - 'n perskeblom.
Omdat ek vir
‘n wyle jou kwesbaarheid kon deel, is my hart ligter, my wêreld helderder terwyl ‘n sonstraal warm op my seer skouer skyn. Ek struikel oor ander
klein seëninge - ‘n nikotiana blom onverwags by my agterdeur en verlei my met
haar kenmerkende reuk waarvoor ek so lief is.
‘n Bosduif kom bad vir die eerste keer in die voëlbad terwyl hy my stip
dophou. ‘n Reënboog staan lank genoeg
dat ek van die pad kan aftrek sodat ek langer kan kyk. My middelkind wat 3 maande gelede uitgetrek
het, staan skielik by die voordeur en gee my ‘n lang innige druk. My blompot met haar laggende gesig hou met uitgestrekte hande vir my twee knarsvars selfgebakte koekies. In drie dae het twee jongmense hul kindertjies
na my gebring en hul het my almal spontaan lank gedruk. Die ene se woordjies klingel steeds in my ore toe sy my waaiend groet - 'tannie ek verlang dan al klaar na jou!'.
Ek bring vir jou ‘n troosblom
en ek voel
geseënd.
Mooiste salfwoorde...ek is nou wel nie op jou lys nie, maar iewers tussen die spesiale blomme le ook my seer - so ek neem sommer vir my ook daai blommetjie..Dankie!
ReplyDeleteLiewe Anna Paradys - ek is so bly dat jy vir jou 'n blom geneem het. Hul is almal bedoel om troos te bring - vir jou ook. xx
DeleteDankie Karin dat jy my herinner om my seëninge te tel en dankbaar te wees oor my "sorgvrye " lewe in die lig van hoeveel hartseer mens kan beleef. Ek is dankbaar en dra my lassie met vreugde want ek is gespaar van diepe hartseer. Seën en troos vir die wat nie so kan getuig nie.
ReplyDeleteBaie dankie.
DeleteLiewe Sissi, jou mooi blomgeskenke sal troos vir baie bring. Ek neem my rooi poppie en gee vir jou met liefde die blomme wat jy nodig het. Mis daardie groot wille geurige bosse uit jou tuin! xx
ReplyDeleteDankie Sissi. Ek mis ook my tuin met sy wille bosse.
DeleteSalkwoorde is 'n pragtige uitdrukking!
ReplyDeleteEk was so opgewonde en verbaas toe ons gister 'n hoepoe in ons tuin het - herinnering aan ons ouerhuis en tuin waarin in ons grootgeword het. My bosduif.
Wat 'n lieflike blogpost! Baie dankie vir die tyd wat opsy sit vir hierdie pitkos wat jy deel.
Dankie Maggie - ek het so lanklaas 'n hoepoe gesien.
DeleteAbsoluut lieflik! Met soveel empatie en gevoel vir ander, skyn jy helder soos 'n sonneblom. xxx
ReplyDeleteDankie Helene.
DeleteMy troosblom bly "The lily of the valley" wens ek kon weet hoe om dit in SA te kweek
Delete