Dit was 'n skielike besluit wat ons gemaak het
die hond en ek
om Ma (95) te neem vir 'n paar dae na Kleinmond
net ons driekies
Ma, die hond en ek.
Ons het vinnig 'n paar goedjies gepak
jy weet as die ding in my oor doodgaan kan ek boggerol hoor'
Ek weet - dan is dit asof iemand Ma se lig afgesit het
'sommer 2 langbroeke, 4 hemde en tog genoeg sakdoeke - jy weet ek hou nie van tissues nie
my eie waslap en ek hou van daai klein handdoekie - ek kom makliker orals by met 'n klein handdoekie, asb kind
Ja, vat tog maar die biblioteekboek - wag laat ek gou sien? -
0 ja dis 'n mooi storie en die skrif mooi groot
enne
o ja - my vergrootglas.
Jy weet mos die bril is nie genoeg nie en daai oogoperasie het ook nie waffers gehelp nie
uhm
6 panties is seker genoeg, of hoe, kind?
Ons gaan tog seker nie 'n jaar wegbly nie - lag lag
Wat nog? O, en sommer daai 2 jerseys sonder die moue en met die sakkies - ek het altyd 'n sakkie nodig vir my sakdoek
jy weet mos.
Ag kind, en my slippers
my ou liddoring hou nie heeldag van skoene nie
tandeborsel, kammetjie, bra's,
trek maar die gordyne toe
en waar's my kierie?
So ja
Kyk die hond staan al en wag by die deur -
Kom Chester!
Het jy die lig afgesit kind? '
En daar gaan ons gang af van die 'home'
Ma se wieletjiesoetkys in my linkerhand
Ma aan my regterarm, hond op ons hakke
so elke nou en dan word die kierie gelig in 'n waaigroet-aksie vir 'n outannie wat ons bietjie jaloersvieserig agterna kyk
en 'sien jul anderdag weer - ek weet nie wanneer die lady
(dis nou ekke deesdae - ek't status gekry)
terugkom nie - ons gaan Kleinmond toe'
En verbeel ek my of sien ek haar tong net so effens oor die lippe kom
so asof sy wou 'whê' sê?
Uiteindelik is ons in die kar
Ma inge'strep'
kyste agter in die bak
die liewe hond op die agtersitplek
reg vir die trippie.
'Ai my kind jou kar ry tog so lekker
wat 'n heerlikheid om so bietjie weer saam met jou op 'n outing te gaan
en ek is tog so bly dat jy darem ook destyds 'n lisensie gekry het oooo - ek ruik al die seelug'.
Dit was 'n lekker week.
Ons het koffie gedrink,
'n paai en ietsie soetigs van Angies se lekker winkel gekoop
'n ander dag 'n eier op toast
dan weer ‘sommer 'n koppie-sop-my-kind’
en beskuit en koffie vroegoggend.
Ons het stokou kiekies gekyk wat ek op die 'komputertjie' vir haar kon wys
En met haar bril en vergrootglas
het Ma die gesigte sorgvuldig bekyk
gekyk
en gekyk en verkyk.
Dan, dan het sy onthou
dan het sy die vergrootglas neergesit,
en ver getuur,
verby die skerm
deur die muur
verby onsigbare eindelose jare
dan het ons maar weer koffie gedrink
met 'n ‘stukkie-beskuit-my-kind’.
Dan het Ma gewoonlik bietjie gaan skuinslê
en die hond was kort op haar hakke
hy het gewag tot sy lekker lê
dan met 'n een versigtige sprong deur die lug getrek
met sy dubbel heupdisplaasde heupe
om langes haar te beland
daar op die bed.
Haar ou oë het 'n glinsterinkie ingekry amper asof sy iets stouts aanvang
‘honde hoort mos nie eintlik op die bed nie, Chester
maar lê maar by ounooi’
terwyl hy hom teen haar neervlei en sy die harige lyf oor en oor streel
Oor en oor en oor en oor.
Ek's so bly ek het hierdie kiekie
van Ma en die hond
op die bed
daardie wekie in Kleinmond
net ons 3.
Ma is baie lief vir snoek en niemand kan dit gaarmaak soos sy nie.
Die Engele het die snoek Kleinmond toe gestuur daardie week.
En die snoek het geloop,
geloop soos nog nooi te vore nie
daardie week. Die bote het gekattermaai onder die vis en die stil ou hawetjie van Kleinmond het verander in 'n gegons van mense, bote, seevoëls, hawkers, karre en kinners. 'n Hele klomp joligheid en gejilligheid - daardie week in Kleinmond.
daardie week. Die bote het gekattermaai onder die vis en die stil ou hawetjie van Kleinmond het verander in 'n gegons van mense, bote, seevoëls, hawkers, karre en kinners. 'n Hele klomp joligheid en gejilligheid - daardie week in Kleinmond.
Ek het 2 snoeke gevang
vars uit die see
van die boot van Helena die vissersvrou
het ek hul gevang
Twee bielies
Met my aas van twee vyftigrandnote met nog tienrand elk vir die vlek.
Helena met die vlymskerp mes het hul behendig woeps-waps oopgevlek terwyl die mans versigtig bietjie wegstaan en met hande half ongeërg gekruis oor hul gulpe.
L
Ma het oopmond gelag toe ek die groot visse in die wasbak sit
'haai kind! - wanneer laas het ek sulke vars vis gesien?'
Ma het haar moue effens opgedruk, 'n vonkel het in haar oë gedans en met haar gewillige hande het my Ma my gewys en my breedvoerig vertel hoe om die snoek te bewerk, in meel en eier te doop en dan
om en om en om te draai
en te braai in die vlakolie
tot dit mooi bruin is.
Meegevoer het ek haar dopgehou met hierdie ritueel wat ek so dikwels as kind gesien het
en tog nou vir die heel eerste keer rerig,
so half in slow motion
my verkyk aan my liewe Ma
hoe sy vir my leer visbak.
Later het ons snoek en brood geëet
Bybelskos
net ek en my Ma
en die hond wat 'n lêplek in Ma se hart oopgesmokkel het
het geduldig gewag vir sy stukkie aalmoesie
'n flentertjie oorskiet wat hy weet sy vir hom sal offer om uit haar bakhand te lek
terwyl sy koesterwoordjies vir hom fluister.
Ma se weerkaatsing in die glas koffietafel terwyl sy koffie drink en by die venster uit tuur |
ons het weer koffie gedrink
haar silhoeet in die wolke
weerkaats in die koffietafel
en 'n onverwagte simpel knop het in in my keel kom sit.
Later het ons het afgery see toe
sommer net gesit
die see geruik
en die wolke en die mense bekyk
Terug by die huis het ons weer koffie gedrink
Dan het die tweetjies weer kamer toe gedrentel
sy skuifelend voor in die gang af met die kieriekie wat klik-klik
en hy geduldig op haar hakke
die hond en Ma
Die hond het homself genooi op die bed
en sy het uitgesien na die ou harelyf langs haar
en dit was SO reg.
Dit was 'n goeie week. Dit was die beste week.
Die Engele het Ma in 2009 kom haal - lees hier
Dit is baie, baie mooi!
ReplyDeleteWhat a lovely blog. I love it! It brought tears to my eyes. You were blessed to have spent such a lovely week with your mom at the end of her life. You will treasure these memories forever. I too was blessed with 3 weeks of my mom's company in the August just before she passed away and I am forever grateful to God that he blessed me with those special memories which I will cherish forever.
ReplyDeleteThank you for kind thoughts - die boodskappies en drukkies vorm 'n sagte verband om my hart xx
ReplyDeleteDit het my ver laat terugdink aan my ma se laaste jaar.. jy was baie bevoorreg om daardie week alleen met haar te kon gehad het..
ReplyDeleteEk verstaan dat dit nog rou is.. na soveel jare wil ek steeds my ma "gou bel" om vir haar iets te vertel, net om in my spoor vas te steek as die werklikheid van die permanentheid van haar "wegwees" my weer tref!
Geseende kersfees vir julle.
Lydia
xxx
Wanneer ek lees van Karin en Hannah en die hond
ReplyDeletedan leef God weer en dan weet ek
ook ek kan God vandag laat opstaan uit die dood
uit die graf van selfsug waar ons Hom gevange hou
Almero
met dankbare herinnering
aan die dik snye tuisgebakte brood
wat tannie Hannah vir 'n klein witkop seuntjie
gegee het ... meer as sestig jaar gelede
Baie dankie Almero - Ma se hart en kombuis was altyd oop vir die hele dorp se kinders en sy het altyd onthou van die Dominee se witkopkinders wat graag om haar kombuistafel gekuier het.
ReplyDeleteJacoba - is ons vrouens nie geseên om te kan onthou en deel ons ons liefde vir ons kinders nie. Baie dankie.
Dankie Lydia - die sagte verband om my hart moet ek maar kort kort vervang. Woorde soos julle s'n word tussen die voue in gebêre soos salfies .....
Die Engele het my liewe Ma kom haal toe die katjiepiering blom
ReplyDeletehttp://afrikaansegriffel.blogspot.com/2010/01/op-26-november-2009-het-die.html