2012-09-21

Jêm, Klisted Egg en Ouma se Trooskos

Gisteraand kry ek 'n potjie aarbeikonfyt persent - tuisgemaakte aarbeijêm wat skoonsus Anna gemaak het.  Vanoggend was dit perfek saam met die plaatkoekies - of  crumpets soos my Engelse kinders dit  ken.  Deesdae waardeer ek soveel meer selfgemaakte kookselgeskenke - soos vanoggend toe ek liefde in Anna se selfgemaakte jêm proe en ek besef hoe kos wat deur geliefdes gemaak en mildelik gedeel word, se lekkerte seerplekke hier in jou binneste donkerste kamers van jou siel kan bereik.  Dis asof dit die  krapperige plekke ontdek wat my die afgelope paar dae onrustig gestem het.    Ma sou so gehou het van hierdie jêm. Ma het nie uit boeke gekook nie, maar haar fynproewerstong het gou besluit of dit te waterig, loperig, suikerig of wat-ookal-erig was.  Maar die aarbeijêm sou sy besing het.


Kyk, Ma was die queen van vyejêm,  en elkeen wat ooit daarvan geproe het sal sonder huiwer kopknikkend en dalk kwylend met my saamstem.  Sy't nou en dan appelkoosjêm gemaak as Theo dit van die plaas gebring het en dit was ook lekker.  Maar haar vyejêm van die vrygewige boom by die agterdeur - dit was die spreekwoordelike cherrie - altans die vy - op die koek!  Saam met Ma se selfgebakte brood om haar wankelrige ou kombuistafel was dit 'n kombinasie wat selfs Nataniël in trane sou laat uitbars.

Sedert die Engele Ma kom haal het, besef ek meer en meer die trooswaarde wat haar kos aan ons verleen het.  My oudste liewe kind, Kegan, het dikwels in die middae soontoe gedrentel na 'n seker-maar-mislikerige-dag by die skool.  En Ma het skaamteloos haar blygeid onverblom laat straal as 'n kleinkind onverwags, soos 'n persent, voor die deur staan. Ma het almal gevoer met iets uit die kombuis - soos 'n ritueel.  Soos altyd, het sy in 'n alles-in-een-sin dan vir hom gesê 'hallo my kind, kom jy is seker honger' vooruitgestap kombuis toe waar sy outomaties uitgereik het na die brood, die afgeleefde ronde broodbord en met 'n 'sit kind' en sonder om te karring of te vra oor sy sigbare mislikerige dag by die skool, gewag vir dit wat sy geweet het hy gaan vra,  'jou klitsed egg, asseblief Ouma'. Omdat hy as klein seuntjie baie tyd saam met Ouma en Oupa gespandeer het, is hy Afrikaans minder gestrem as sy boetie en sussie wat onderskeidelik 10 en 13 jaar later eers hul verskyning gemaak het. 

En dan het Ouma 2 of 3 eiers, afhangend van die tyd van die maand en hoeveel eiers oor was, met die ritueel voortgegaan en die eiers in 'n platterige diepbord met behendigheid geklits, beklits, oorgeklits en disnis geklits met 'n vurk terwyl haar stem kloekende geluide en rustige woorde ge-uiter het wat heen en weer in die kombuis rondwieg.  En mykind en Oumasekind, (die een en symste kind), het die ritueel en die kloekende woorde oor sy hare wat hom alewig in die moeilikheid laat beland het laat streel, warm laat afsypel in sy nek, huiwer oor sy skouerblaaie, af teen sy ruggraat en oor sy hele lenige lyf terwyl hy haar en die kalmerende bekende ritueel aanskou tot hy deel word daarvan.

Die eiers was in die stokou skroeiende pan behendig rondgeroer totdat dit net reg was.  Ma kon 'klitsed egg' maak soos net sy kon - dit was nie lellerig nie, nie te uitgedroog nie, maar 'net reg' soos die pap van bababeertjie in die kinderstorie.  'n Knypievol sout word uit die bottel gevat en uit die hoogte oor die sissende eier gestrooi terwyl  die ander hand om en om roer.

Dan het Ma-sekind Ouma se 'klitsed egg' met Ouma se brood homself in vervoering geëet.

Daar was altyd jellie en custard in Ma se huis - want sy het dit elke dag vir Pa gemaak en vir kleinkinders wat ingedrentel het vir trooskos.  'n Bakkie met drillende rooi of groen jellie en custard was voor  hom ingeskuif op dieselfde oomblik wat hy die leë bord wegskuif waar die 'klitsed egg' minder as 'n minuut gelede nog gesis het.  Met 'n 'dankie Ouma' het die poeding effe stadiger verdwyn terwyl my liewe Ma, sy liewe Ouma, (die einste symste liefste selfde mens) behaaglik na haar kleinkind kyk terwyl hy in haar eenvoudige kombuis, haar eenvoudige maal in oorvloed geniet.



So het Ma met haar kombuisritueel, sonder dat hy of ek dit dalk toe besef het, my kind met liefde gevoed en toegedraai, daar waar hy in Oupa se lendelamme ou kantoordraaistoel sit wat hy destyds in 1959 vir 'n sjieling by De Beers gekoop het.


Kegan en Ouma Hannah met ander Ouma Toni wat begripvol toekyk
 En ek weet met onmiskenbare sekerheid, sonder die geringste twyfel, met absolute oortuiging, dat die liefde van my kinders se Ouma's in hul sal leef - en dit maak my kwesbaar dankbaar.

Posted by Picasa
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...