2010-07-12

Die kat kom terug!



Neo
die oorlewingskat het weer verdwyn
soos in sy jong rammetjiedae
toe hy soms vir weke aaneen verdwyn het
en elke keer teruggekom het met een of ander wond wat ten duurste moes gedokter word.

Hy was die veearts so modelpasient
hy sou tjoepstil lê 
terwyl hul sy wonde toewerk!

Dan het hy weer by die huis gebly vir maande aaneen 
totdat die wandelluswind weer op 'n sekere manier gewaai het 
Ek vermoed sy ou lang stert is 'n antenna
wat 'n sein van êrens opvang,
sy swerwingsinstink hom oorweldig
en hy maar weer die pad gevat het
en hy verdwyn het
na wonderlike misterieuse katkuierplekke
om dan maar weer later, na 'n week of drie terug te keer,
al hinkende pinkende
om maar weer gedokter en gepamperlang te word.

Hy is nie meer so jonk nie, die ou rondloper,
en ons het rerig gedink dat hy nou sy aftreejare bereik het
en nou tevrede is met sagte kossies
op die 'eat as much as you like' basis.

In die winter spandeer hy sy tyd op 'n sagte kombersie onder die heaterpaneeltjie,
in die somer êrens in die tuin in 'n koeltetjie
tot so 8 of 9 dae gelede
en ons na 'n paar dae besef het,
dis weer sulke tyd
die gryskat Neo is weer weg
en dis winter
en dis koud
en dit reën
soos dit net in die Kaap in die winter kan reën
lank en aanhoudend.

En elke oggend wanneer al die harige dierasies toustaan vir kos
sink ons harte elke keer meer en meer
want Neo die rondloperkat is nie tussen hulle nie.

En ons het nou al begin dink
ag,
ons sal hom altyd onthou vir sy avontuurlustigheid
die ou gryskar
ons ou rondloperkat,
een keer was hy glad weg vir 3 maande!

Die dag toe ons besluit op 'n nuwe bondeltjie katlewe om die leegtigheid wat swaar in ons harte kom wortelskiet het te vul
slenter hy in met sy lang stert
antenna in die lug
asof hy maar net vir 'n koppie tee uit was!
Jip, Neo die avontuurlustige kat was terug!



Neo en Diego
Klein Diego se eerste dag by ons. Neo kom terug op dieselfde dag na 3 maande van swerwe


Maar nou ja, hy is nou al lank in die tand
en ons het nie gedink hy sal dit hierdie keer oorleef nie
en ons het begin aanvaar hy het seker maar vir oulaas ingegee
ingegee vir die wind wat hom weer gelok het
gelok het met beloftes van wie-weet-wat
wat hy maar weer onweerstaanbaar gevind het
Neo die rondloperkat is weer weg.
Finaal?

Gister was dit 8 dae
of was dit 10?

Terselfdertyd pla'n Gekerm en gemiauw van die vakante huis hierlangesaan ons so, dat ons die eienaar opspoor om in die donker te kom oopsluit om iemand se dierasie wat benoud vasgevang is,
vasgekeer in hul dak, 
van alle plekke, 
te red.

Dit kon tog nie onse Neo wees nie
want jy sien
onse Neo kon nie miauw nie.

Hy het destyds sy miauw opgemiauw in die swartsak
nadat een of ander bliksem hom en sy boeties
op die ashoop gelaat het
(en gered was deur 'n samaritaan).

Al wat hy daarna kon uitkry was 'n ou piepgeluitjie wat ek sukkel om te verwoord
dit was so 'n sagte effense ou skwiekgeluidjie
die geskwiek in my yskasdeur was 'n hele paar oktawe harder as sy pieperige miauw.


Stel jou voor
'n kat wat saggies skwiek / piep!

Om terug te keer na die kat in die bure se vakante huis se dak
die kat in die dak miauw nou so benoud toe hy agterkom maar hier is mense naby
dat ons reken dit moet 'n baie baie GROOT kat wees 
die kat miauw asof hy saam met Pavarotti kan cd's maak
hy miauw van sopraan na bas na alt met gemak
so hard dat die dak wou lig.

Met die skyn van die flits in die plafon se gat kom kat nader na die lig
en die miauw raak sagter soos wat hy nader aan die lig kom
en die wilde groot kat se pavaroti miauw verander
dit verander in 'n sagte piep
niks harder as die geskwiek van my yskasdeur!

Sy dierbare grys gevreetjie is nog meer grys van die vuilgeid
 brandmaer ...
hy lyk niks groter as 'n oorgrote ou eekhorinkie nie
'n regte sakkie beentjies
shame
maar verwilderd van die lank opgesluitgeid innie bleddie dak
weier hy dat die vreemde man op die leer hom afhelp!

Toe kon sy mensema dit nie langer hou nie
sy klim soos 'n jong kat toe maar self op die wankelende leer
en lok hom nader
met 'n skwiek wat nou in haar eie stembande kom vassit 
en die grysgevrietjie amper opvreet toe sy hom uiteindelik in haar arms toevou.



Dierasie Recovery. Neo die rondloperkat opgekrul op die bank naby Chester die retriever.

En hy het sagte kossies geët
Vannag styf langes sy mensema kom lê
die hele nag
en nou en dan geskwiek
saggies
nes die yskasdeur
en vanoggend kom kos soek
en toe
onder die heaterpaneeltjie kom nesskop
op 'n sagte kombersietjie
die hele lange dag.

Almal neem beurte om te kom check
op Neo die rondloper gryskat
hy's terug!

Meer oor Neo hier en hier 

1 comment:

  1. Aaaaag ! Hoe lekker het ek nou gelees !! Net kateienaars kan weet hoe lief mens vir n ou kaaikie kan wees !!!

    ReplyDelete

Los vir my 'n griffeltjie .. ek's mal oor briefies ;)

Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...