'n Leë bladsy of skerm is net so intimmiderend as 'n leë doek (is dit rerig 'n doek?) voordat jy die eerste kwashale daaroor sit. Sedert Ma oorlede is en rukkie daarna my broer (oor wie ek myself nie eers toelaat om te lank te dink nie omdat my keel steeds dikraak en toetrek van ondraagbare hartseer) - het die kreatiwiteit in my wese opgedroog en my bar gelaat. Ek skryf met hikke en stikke en gewoonlik met 'n hele paar snikke voordat ek dit maar liewer los.
In 'n poging om onstslae te raak van my geroesste en verroesste kreatiwiteitstoestand, het ek verlede week al my verf, kwaste en doeke gaan uitgrawe en dit ontstof, onthaar, ontsprinnerak en uitgepak, netjies gerangskik en uitgestal en nou wag ek dat kreatiwiteit my oorval. (Dis nie doeke nie, dammit - wat is dit?) - google translate sê 'doek'. 'n Doek is wat my oudste kind 32 jaar gelede gedra het voordat Kimbey's en Pampers hul wonderlike verskyning gemaak het en deel was van my ontnugterings en ontdekkingsreise na moederskap. Of dalk lappe voordat dit te vuil raak en geskik is vir die vloer, of opgeskeurde ou beddegoed of selfs groterige mooierige lappe wat sommige etniese vroue mooi om hul koppe draai.
Deesdae is ek huiwerig om in woordeboeke of na internetvertalings te kyk, aangesien ek nie altyd van hul verbeeldinglose woorde hou nie en liewer my eie beskrywende woorde aanmekaar ryg. Tog het ek gaan loer en gesien dat selfs Rieme kan doen met hulp met beterige vertalings. Maar ek's seker jy verstaan wat ek bedoel.
Om verder my geroesste, opgedingesde kreatiwiteit te tart, het Gracie die hope lap wat ook êrens gebêre was uitgehou na my soos kosbare offerhandes. "Mevrou kom ons pak hul in die mooi kassietjie nog van BellaRosa se dae." Ek het elke stukkie lap oopgevou en weer van voor-af verlief geraak op my mooie lap. Die getjekte lap, die strepieslap, die rosieslap, die stuk met groot proteas en ek het vergeet hoe mooi en hoe sag is die ene met die agapante. Oorskiet stukkies lap van kinderklere, aandrokke, tafeldoeke, gordyne, ens ens. Die arme naaimasjien het geskrik toe ek haar doek afhaal.
Van ek-weet-nie-waar-nie ontdek Gracie goeterjasietjies wat sy dink hoort in my studio-nes wat ek met onbehendigheid braaf probeer skep. Sedert my tweede laatlam se babadae is sy reeds in my lewe, en so het sy my so goed leer ken dat sy my weggepakte, versteekte, half-vergete affêrinkies aandra - seker maar in die hoop ook dat ek weer sal begin speel en mooimaak. 'Wat begeef my tog?', dink ek 'n hele paar keer.
Twee groot tafels, een boekrak, 2 mooiste kassies met ogiesdraaddeurtjies is mooi gepak van bo tot onder met al my lankvergete skatte en 'n kragprop vir my rekenaar, selfs genoeg lig. Wat kort nog? Inspirasie sal jy nou kom? Waar is die woorde wat my soms snags in my drome kom speel? - ek wou dit so graag deel. Dalk 'n skets - nee die papier is nie reg nie. Hier tuimel 'n mooi lap uit die kas - wat sal ek tog met jou maak jou mooi ding? By die venster staan wraggies 'n klein eekhorinkie op sy agterpote met voorpootjies teen die ruit. Ek weet, ek weet, ek WEET! - my tuin roep!
Jare gelede het ek die verfkwaste uitgehaal en hierdie skildery gemaak, op die planke van oorlede Pa se hond se hok wat ek nie oor my hart kon kry om weg te gooi nie. Vir my bly sy mooi en ek vryf gereeld oor die kwashale. Ek sien uit na wanneer die geroestgeid verdwyn en ek weer kan.
Karin se Painting. |
Moenie wag vir inspirasie nie- begin net. Sny lappe in stroke, stik dit aan mekaar sny dit op draai party dwars stik en gaan net aan. NEt soos jy nou ook weer geblog het. Stik die hartseer vas of stik en laat jou kop paadjies loop- konfronteer die gedagtes, hoe langer jy dit weg druk hoe langer sal dit jou lewe oorheers.
ReplyDeleteDankie Marie!
DeleteVan Bella Rosa na die - Karin - jy het ge-arrive. Hou so aan ek sal aan hou dophou.
ReplyDeleteHi Tersia - dankie - bly jy het ingeloer.
Delete