2015-11-07

KarinseGriffels: Krismis is nie Krismis sonder die Krismisstorie ni...

KarinseGriffels: Krismis is nie Krismis sonder die Krismisstorie ni...:

Dis daai tyd van die jaar.  Tyd om weer die Krismisstorie te lees.  KLIEK  HIERBO!






Eendag lank, lank gelede was daar die mooiste brighste ster in die hele wye wêreld ... (foto van internet) Dis weer Krismistyd ...

2015-10-13

EN DAAR VLIEG BLERRIE BORING WRAGTAG TOT IN SY BLIENGKIEN GLORY

'n Hele ruk terug
Een verveelde koelerige oggend 
drentel ek en die kameratjie in die strate van Stellenbosch
op soek om blerrie boring af te skud
stap ons twee alleen
myself en blerrie boring ekke



kliek kliek hier
en kliek kliek daar


soos 'n verveelderige plaashoender 
verveeld met sy boring menu 
van blerrie boring mielies


' ja jou wannabe hoender - ek voel ook so'

pik pik maar hier
en pik pik maar daar


'O jou mooi balkon.  Waar's jou Ma?'

Toe skielik
raak die menu interessant toe hierdie prentjie voor my kom staan
vier vrouens - drie kaalvoet en een gepolvaai
Opgedress in rokke van kant
van kaalgattoon tot geswieshde haardoskroon
met die mooiste bestrikte bos rose in elke hand






"Ja ja, hier kom 'n wedding
Ja ja, hier kom 'n ding
Ja ja, neem maar 'n kiekie"

En vol van lag 
en vol van giggel
pose die beautiful vier girls
(en ook die swartkopvrou langs die balie)
net vir my
in die middel van die straat
een miserable oggend
in Stellenbosch
.

Daai voetjies heel regs moet nog relax

ja, ja

en net daar vlieg blerrie boring
wragtag tot in sy bliengkien glory!
Cheers!

Blienkien boring het sy gat gesien

2014-12-23

Die Dovertjie, Eva se oorbelle en die Krulkopvrou



Nog 'n jaar is verby, kan jy dit glo.  En wanneer 'n jaar verby is dan sit mens mos maar so en dink jou hele jaar se dinke; wonder oor die afgelope jaar se onafgehandelde wonder; tob stadig aan 'n  hele jaar se ongetobde tob.  So, nou sit sy maar hier, hierdie krulkopvrou en sit haar gemaklikste sit en dink haar dinkerige dink hier op die bankie in haar nuwerige tuin waarheen sy onlangs heen getrek het. 'n Lang uitgerekte trek was hierdie trekkery - hierdie groot trek na 20 jaar.

Dit was nie maklik nie.  'n Kort misleidende onvergenoegde totaal onvoldoende sinnetjie. Dit was nie maklik nie.  Sy sal nie vloek of huil nie - nie meer nie, in elk geval.

So dankbaar is sy tog nou vir die drie  bome wat deur iemand lank gelede, dalk per ongeluk in hierdie afgeskeepte kaalgattuin geplant is.   Die een, 'n veelgestamde melkhoutboom waarvan sy mooi stammerigheid totaal oorgrooi was.  Die tweede, 'n kareeboom wat plek-plek roekeloos gesaag en gesnoei was het afgestomp, beskaamd van lelikgeit in die een hoek gestaan.  Die derde was ook maar droewig om te aanskou.  Blaarloos maar met sulke plek-plek stekelrigheid soos haar tienerseuns toe hul destyds begin baard skiet het, het ook in sy winter kaaltaktoestand verwaarloos en bedremmeld sy staan gestaan. Die kaal vibracrete tussen haar en die bure het nie gehelp om die prentjie te voltooi nie.

Die temptasie was groot om sommer al drie hierdie bome kort by hul alie afsaag - watter belediging was dit dan nie vir die selfgeplante mooi boomryke  tuin wat sy onlangs vaarwel geroep het.  Dankie tog - sy het hul nie kort by hul alies afgesaag nie - al was die versoeking groot.  (Haar vorige tuin).

So het die vrou dan daardie koue nat winter gesoek na haar sit wat maar net nie 'n nuwe regsit wou vind nie; na haar lê wat ook nie meer wou reglê nie en na haar denke wat êrens langs die pad agterblewe geraak het.  So hier was sy, sitloos, lêloos en dinkloos vir etlike lang koue maande in die koue kaalgat tuinlose huis.

Maar stadigaan, baie stadig het die nuwe huis, wat eintlik 'n ouerige afgeskeepte huis was, die krulkopvrou begin sagmaak, haar stilletjies verlei met versteekte geheimenisse. Subtiel was hy hiermee. Natuurlik instinktief geweet dat hy maar sag met hierdie brose vrou moet werk.  Klein dingetjies wat stuk stuk en versigtig voor haar neergesit is -  'n offerhande.

Soos die Dovertjie wat ook lang gelede per ongeluk op die ongemaklikste plek in die huis ingebou was.  Naby die kombuis. Eintlik het niemand geweet, heel nimmer sy, hoeveel 'n ou houtstofie sou kon beteken nie.  Die Dovertjie was baie baie lank laas gebruik. Roeserig en stowwerig was die arme ding - nes die spinnerakke wat haar kop kom muf maak het van die maandelange pakkery, afskeidnemery en trekkery van 'n huis waarin die stemme van haar kinders in elke hoek gehuiwer en fluister het; hul kindwees gegroei en ontgroei het. Dit was nie maklik nie.  Weer daardie klein sinnetjie.

'n Vraggie hout, die Dovertjie en die effe verskrikte krulkopvrou, het toe 'n unieke eiesoortige verhouding begin.  So het hul twee mekaar deur die sonlose winterdae getroos.  Die afgeskeepte Dovertjie en sy.  Die spinnekoppe het vinnig pad gevat toe die eerste vlamme trek.  Altwee het gestik en gestink van die rook wat sy trek probeer vind het.   Stadig het hul twee reggekom, het sy haar trek gevind en albei minder na stroois geruik.

Ma se ou koperboompot het immer geprut met iets - 'n lang kerrie, een of ander stowerigheid of sop. Pa se handgebreide jersey (deur Ma) het sakkerig haar lyf getroos - daar by die Dovertjie - maar sy het steeds maar die vrou in die spieël vermy.  Haar hare was willerig en krullerig en Pa se handgebreide jersey wat sakkerig hang - glad nou  nie 'n oil painting nie soos Ma sou gesê het.  Maar die twee was cozy - die Dovertjie en die vrou in Pa se uitgerekte jersey.  Selfs die katte het rustig geraak en hul lê gekry.  Maar haar eie lê het haar nog ontwyk; haar sit nog nie reggesit nie en haar dink het nog nie reggedink nie.

Offerhande 2 - Hier is 'n beneukte wind wat ook hier rond woon.  Moerig en beneuk.  Die blaarlose tuin was 'n bewys daarvan. Dalk moes die wind ook onlangs verhuis het.  Sukkel nog om haar waai reg te waai en nou waai sy haar moerige windgatgeid behoorlik des moers hier rond.  Sy het snags om die hoeke van die huis gehuil, die dakplate probeer lig en takke afgeruk van die kaalgat bome. Die afgeskeepte vrou met die wilderige hare, die roeserige rokerige Dovertjie en die moerige wind het die winter trotseer.  En oorleef.

Eendag het sy, dis nou die moerige wind, moeg geraak - uitgekerm was sy en aan die slaap geraak. Die son was braaf genoeg om 'n slaggie sy skyn aan te sit en hier te kom skyn.  Sy warm strale het ingestroom en die donker huis opgehelder met sy mooi vrolike skyn.  So bly was hy om weer 'n slaggie te skyn dat hy ekstra mooi geskyn het - deur die vensters sy mooiste warm strale geskyn het, die huis met poele warm son kom vul het.  Die Dovertjie het gesug van verligting.  Uiteindelik kon sy darem 'n blaaskansie kry van al die rokery en stokery.  Sy was baie dankbaar dat sy weer haar vonk ontdek het, glo my, maar enige ordentlike Dovertjie kort ook 'n break.

Die moerige beneukte wind het bedaar en die son was so opgewonde dat hy elke dag hier sy jong lentestrale kom skyn het.  Die katte het nuwe lêplekke ontdek in die poele son en net nou en dan leepoog een oog oopgemaak, effe gerek voor hul weer opgekrul het van tevrede lekkerkry,  Deure is oopgespalk om die vriendelike warm son verder in te nooi.  Offerhande 3.  Groen knoppe en jong blaartjies het aan die kaalgatbome gedy.  Rooiborsvoeëltjies het hop-scotch tussen die blare gehop.  Kleiner voeëltjies het vladderend aan die doudruppels gedrink en klein onsigbare goggas vir brekfis gehad. 'n Skoenlapper het gebrêg met haar mooi nuwe vlerke en 'n paar akrobatiese trieks uitgevoer.  Pa se uitgerekte handgebreide jersey het gaan rus in die wasgoedmandjie en sweerlik gesug.  Die beneukte wind wou wys sy's nog hier rond en het haar sagste briesie gebries, die aroma van 'n vroegblommende jasmynblom êrens opgebries en oor die krulkopvrou kom hang soos 'n wafferse onsigbare veil. 'n Goedgemikte sonstraal het aan die vrou met die willerige krulle se mondhoeke gepluk.

Nie lank daarna nie het lang reguiterige jong blare aan lang swiepende wilgerige takke in die sagte bries gewals.  Voëls van vele vere het hul dik aan sy bessies kom vreet.  Die melkhoutboom se onnodige stamme is versigtig weggesnoei om die mooiste stamme af te wys.  Tipies melkhoutboom het sy haar  muwwerige melkhoutboom reuk begin deel.  Pikswart bessies het nog geveerdes gelok.

Die derde, die lelikste boom met die stekelrige tienerbaard het soos die lelike swaan 'n gedaanteverwisseling ontgaan en soos 'n blosende bruid oopbek gelag.  Daar staan sy nou, met swaaiende bontblaar blare met die mooiste langerige lellerige sade wat ek seker Eva sou dra as oorbelle in die paradys.  Adam sou natuurlik totaal oorstelp gewees het ten aanskoue van hierdie gewaad - daar waar sy in haar onskuldige naaktheid met hierdie swaaiende langerige oorbelle aan haar appel gekou het.

Gelukkig het die bome nie hul alie gesien nie.  Die jaar het wel.   Die krulkopvrou talm darem al weer voor die spieël en haar oë het 'n rustigheid gekry.  Die Dovertjie wag geduldig om hul verhouding die volgende winter voort te sit.  Sy het vrede gemaak met die krulle wat die LiewenHeer haar  mee geseën het en hul het hul ingekrul in hul finale krul.  Sy sit nou 'n veel gemakliker sit. Haar dink het uiteindelik teruggekom en sy dink met 'n tevredenheid haar hele jaar se dinke.  Haar ongetobde tob het skielik minder geraak om oor te tob.

Die jaar het sy alie gesien.  Die vrou sug tevrederig, streel die kat en stap kaalvoet deur die tuin.  Sy's oukei.

Boonste kiekie vanoggend geneem  deur die swaaiende takke van die Karee.
Onderste kiekie is die droewige kaalgat tuin . Die melkhoutboom regs in prentjie en die droewige kaal boom agter.

Vandag - die veelstammigheid van die Melkhoutboom waarin 'n rankertjie wat saamgetrek het rankerig rank.

Twee duifies in 'n nessie 
Bo - Flambojant en in haar blommerige glorie met haar lang mooi sade in boonste ene.
En voorheen - Droewig en blaarloos in onderste helfte.  
Vanoggend - Eva se oorbelboom wat Adam rasend sou gemaak het
Leepoog opgekrul in 'n sonstraal
Die Dovertjie, haar Ma se koperboompot, haar Pa se jersey en die broserige krulkopvrou
Nog een vanoggend geneem.  Die ander kant.  Heel bo is die bontblaarboom met die lellerige oorbelsade wat Eva in die Paradys gedra het.  Op die voorgrond is 'n olifantblaar, nikotiana, helicrysum (kooigoed) en 'n mooi pienk rosie in die pot.
Daars darem 'n lekkerte aan 'n geplukte bossie uit jou tuin
 As jy nou kan verlei kan word deur 'n roos dan is dit hierdie een.  Een enkele roos in een enkele pot wat kort kort vir my oopbek lag vol vrolike blommige uitspattigheid.  Met 'n naampie soos 'My Granny' - gee sy my eindelose plesier.
My Granny

Dubbele verleiding - My Granny weerkaatsings

Boskasige vrolikheid

Rondgetrek van oral is hierdie beeldjie Little Girl gedoop

Die voëlbak is intussen geskuif en ek's sommer lus en skuif dit terug vir kiekies soos heirdie

Roserige weerkaatsing

So koekeloer deur die nikotiana wat vir maande geblom het naby my kombuisdeur met haar heerlikste reuk

My Granny

Stokke, linte, gedraaide takke en 'n geroeste draadhart = 

Kyk hou mooi staan ons vir die kiekie

Wanneer die ranker teen die lelike muur klaargeblom het dan gebruik  ek hul om sommer 'n paar riete aanmekaar vas te knoop.  So word die  arme ou kaalgattakke iets moois vir my.  Kyk nou net.

Kennie die naam nie maar gek oor die rankerige plantjie

Gemengde slaai?  Nee, net gemengde loof

'n Ou gebreekte pot hou water vir hond, kat en die voeëls en staan ewe lekker langs 'n roos, 'n iris en 'n paar ander plante

Vermoedelik 'n inheemse rankertjie watsenaam ek vergeet het

Sorry - ek weet - maar ek kan nie genoeg kry van die kiekies nie


Hou nie juis van kiekies van myself op my blog nie, maar hier met my ontembare krulle met die liefste lawwe hond wat ook my aanvaar - woes krulle en all




2014-08-21

Geseendheid in die vreemdheid

In n wildvreemde land sit ek en wonder
wonder ek oor die vreemdheid
en tog ook n vae bekendheid
die bekendheid binne in die vreemdheid.

Ek ervaar dinge vir die heel eerste keer
en dit was so lank sedert ek enigiets
vir die heel eerste keer ervaar
enigiets vir die heel eerste keer sien
vir die heel eerste keer ontdek.

En ek dink
hoe absoluut wonderlik
en ek voel
so bevoorreg
so geseen.









2014-01-22

Ou Lady, Blompot - After Bleddie All

As 'n volwaardige skrywer beskou ek my nou allermins, eerder as 'n ongereelde tjommelende griffelaar.  'n Gedagte begin in my kop rond te dwarrel en as die suid-oos, wat rerig woes kan waai hier in die Weskaap, dit nie totaal in sy glory waai nie, dan kan hierdie gedagte vir lank hier in my onderbewussyn rondskarrel.

Dit gebeur deesdae so bleddie selde, dat ek al gedink het dat die tyd aangebreek het om my Griffelblad netjies toe te vou soos 'n boek wat nou sy mufwordstadium bereik het en dit virewig in mufboekwêreld in te stuur.  After all, as ek begin kyk na die bladsye waar sommige sogenaamde professionele skrywers hul opinies uitdruk oor die ongeskrewe en geskrewe reëls; etiket; aanvaarbare skryftermes en -terminologieë; uitdrukkings; bruikbare anglisismes en blah di bleddie blah van skryf, dan dink ek, demmit, hul's seker after all bleddie reg en ek moet my plek mooi ken in hierdie wêreld en my p's en q's met sorgsaamheid kies.  Is ek vermetel optimisties om te dink dat hierdie griffels, hierdie ritmelose tjommels van my vir enigeen iets kan beteken en dat mense maar eenvoudig netjies beskaafd is, niks kommentaar lewer nie terwyl hul hul vreklag in hul nimmereindigende kennisvolle moue? 

Nou ja, soos liewe Ma sou gesê het as sy nie geweet het wat om te sê wanneer sy nie saamstem nie maar ook nie eintlik weet wat om te sê nie: 'nottendêm!'.  So, ek gaan maar so aantjommel op my manier al is dit nou net vir jou en my.  

Noudat ek dit uit my sisteem het - gaan ek maar vir my 'n glasie Two Oceans gooi, omdat die boeing oor is en ook omdat ek kan.  As Ma nog geleef het, sou sy ewe reggeskuif het in stille afwagting vir iets uit haar Blompot se pen, nes ek deesdae in stille afwagtig sit op my eie Blompot se kreatiwitasies (ja ek weet dis nie in die woordeboek nie so what?) om dit later verstommend te aanskou.  Ma het tog altyd so graag oor my gebrêg weet jy - my haar Ou Lady of Blompot genoem. Selfs die oppassers by Robari wat so mal was oor Ma, het saans vir haar gevra: 'en was Ou Lady weer hier vandag Ouma?'  

Om nou die griffelblokkasie te probeer loswikkel, laat ek maar vertel wat nou hier in my kop rondswem, met behulp van die glasie Two Oceans.  As ek die woord 'Ma' tik dan is daar 'n onmiddellike emosie wat hier in my opwel wat nie lank duur voor my oë in twee oorlopende poele beland nie, ten spyte van die feit dat dit nou alreeds vier-en-ietsie jaar is sedert die engele vir Ma kom haal het, toe sy vyf-en-negentig-en-'n-half was.  Wanneer dit effe oorgeloop het dan is daar 'n stortvloed van gedagtes wat in my kop ronddans - so baie gedagtes wat so verskriklik vinnig in my kop die cha-cha doen, dat dit vir my moeilik is om die dans te stop en een te kies!  Laat ek tog maar probeer.

Robari in Somerset-Wes.  Ma het  soontoe getrek toe die engele vir Pa kom haal het - een maand voor sy negentigste verjaarsdag. Sy was ag-en-tagtig-en-'n-half.   (Dit is 'n ander storie, want die gedagte laat my steeds nou en dan bleddiewil snik en dis nou al elf-en-ietsie jaar after bleddie all! Bleddie all - Ma was lief om dit te sê - nooit gevloek nie - net ge-bleddie all).  So ek beter nou die familietradisie voortsit - after bleddie all.)

Anyway, (Ma se ander woord wat sy van gehou het om te gebruik wanneer sy woorde en sinne en stilstuipes probeer las het), Ma het aangepas in die ouetehuis aan die onderkant van die dorp en vir die eerste keer in haar lewe was sy drie maaltye per dag bedien.  Sy moes knyp om nie die borde bymekaar te maak en kombuis toe te neem en te bleddiewil te was nie.  After all (o  ja - nog 'n Ma-frase) - sy was 'n stoere boervrou, 1914 gebore in die dae van oortollige jarelange se swaarkry.

Ou Lady het gereeld gekuier en Ma se kamer mooi getooi met beddegoed, gordyne en fieterjasies.  Een ding wat Ou Lady nie kon hanteer nie, was die afgeskeepte tuin by die aftree oord (hul hou nie van die woord ouetehuis nie).  Dit was aaklikg.  Dit was droog.  Die laaste 3 plante het hygend gewag dat hul ook verlos word van hul stryd.  Tot eendag. Ou Lady het stilletjies, ten spyte van 'n gegrommigheid oor watertekorte, haar voet kaalvoet neergeplak en in die tuin begin spit en grawe, tot groot vermaak van almal.  Met die verloop van tyd het die oumensies stuksgewys uit hul kamers gekom en kom kyk wat aangaan.  'n Opening is later in 'n muurtjie gemaak sodat hul makliker met hul rolstoele, walkertjies en kieries om die snuif-en-vroetel beplante area kon beweeg.  Ou Lady het die plantmuur met kompos en vrolike plante belaai - elke plant kon gekneus en gesnuif word.  Daar was katjiepierings, tiemie, sterjasmyn, sweetpeas en 'n vrolike mengelmoes van plante.  

Ma was eintlik skaam, het ek agtergekom.  Negentig somers en ek vind uit Ma was 'n skaam meisie en nie voor-op-die-prêm soos heelwat van die pretensieuse ou tannies nie.  Anyway, my skaam Ma sou dan buite kom sit het naby my  terwyl ek rondkruip in die tuin en begin gesels met die tannies wat uitgeskuifel gekom het uit hul kamers. 'Isn't this so lovely', 'I love it',  'I wonder who she is', sou ek hul hard hoor fluister. Dan sou Ma ewe vermakerig regopperig sit en haar ek-wil-nie-brêg-nie maar after bleddie all, 'its my daughter', met 'n blatante brêggerige klank in  haar stem.  Dan het Ou Lady maar skaamweg dieper in 'n bos lekkergekry vir my brêggerige skamerige ou Ma en met nuwe ywer tuingemaak.

Ou Lady het versot geraak op weerloserige oumensies en sy het telkens na haar asem gesnak as sy die onverwagte lekkerkry uitdrukking sien wanneer sy 'n katjiepiering of 'n vroetelbossie kruie in 'n gekreukelde afgetrede ou hand kon druk.   

Ou Lady;  Blompot; Ongereelde Griffelaar; sy is maar hier rond.  Tot later!

Liewe Ma op die muurtjie waar Ou Lady geplant het

Sterjasmyn, kappertjies en pienk magrietjies

Liewe Ma se hande met 'n takkie sterjasmyn

Bont vrolike bedding

'n Bejaarde tannie wys ons hoe om te HoelaHoep

Twee vriendinne wie ek gereeld in Checkers gekry het -
hul in my kar gehelp het en vir 'n plesierritjie geneem het
voor ek hul gaan aflaai het

Prettige Heather wys Ou Lady die HoelaHoep

Liewe Ma op die blommende muurtjie

Liewe Ma by die fonteintjie wat nie meer wou fontein nie.  'n Vrag kompos
en 'n paar plantjies sweetpeas later, was sy die pronkerige vrolikheid self
  










2013-10-13

'n Troosblom vir jou

‘n Troosblom vir jou

My liefde vir tuin en natuur het die afgelope tyd intensifiseer  (as daar nou nie so ‘n woordjie bestaan nie, gee ek haar nou permissie om gestalte te kry) en ek twyfel of dit net is omdat ek onlangs van my groot hartstuin moes afskeid neem.  In my gewese tuin was baie blomme en blomdraende struike.  Hoe graag sou ek nie vandag daarin wou stap en ‘n armvol blomme pluk nie, ‘n armvol troosblomme.  Ek sou graag ‘n spesifieke een vir jou wou kies.

(Demmit dis ‘n uitdaging om te tik met ‘n kat wat soos ‘n stukkie wondergom op my skoot vassit, om warmte te soek – maar hy’s my optelkat, my afgetrede rondloperkat, my ‘die-kat-kom-terug-kat’, my bejaarde koulike kat – so ons tik maar saam).  Veral as die storie wat nog nie ‘n storie is nie, hier tussen jou gedagtes en jou vingers ronddwarrel – maar die liewe ou kat het nou sy lê gekry so ek probeer weer my gedagtes inryg soos ‘n onwillige wapperende vlieër.  Waar was jy nou weer gedagte?  O ja, ’n troosblom vir jou.

Vir een of ander rede, wat ek glad nie kan verklaar nie, het ek die afgelope tyd meer bewus geraak van die pyn wat mense ronddra – sommige dra hierdie pynpakkie gemakliker as ander, ander gaan swaar gebuk onder hul las. Dis seker maar menslik om ander se pyn te vermy, om blindelings te loop met oogklappe, veral as jy stoei met jou eie wroeginge.  Ons raak so bedrywig en besig met ons eie lewens dat ons nie tyd in ons harte inruim vir die pyn van ander nie. Dalk sal ons eie harte sodoende beskerm en beskut bly wanneer ons die pyndraers vermy; wanneer ons anderpad kyk; wanneer ons onself besighou met klein onkruidjies wat by die agterdeur groei.  

Vir my het die teendeel homself aan my openbaar en weet jy, my hart voel ligter omdat ek toelaat dat ek hul pyn vir ‘n wyle kan voel.  Ek voel bevoorreg dat my hart vir ‘n wyle kan stilstaan, vir ‘n wyle rerig kan verstaan, vir ‘n wyle kan voel wat hul so braaf  heeltyd ronddra.

Ek huil soms hopeloos te maklik wanneer iets my raak – iets waarvoor ek dikwels om verskoning moes vra en die gedoemde oorgangsjare die skuld gee vir hierdie swakheid van my.  Tot ‘n liewe dierbare ou Italiaanse vriend my daarop wys dat dit ‘n heimlike voorreg is wanneer jou siel oorweldig raak met emosie, dat dit oorloop in trane.

Ek het’n lysie gemaak van mense wat oor my pad gekom het, wie se pyn my aangeraak het.  Hierdie lysie is privaat – maar dalk herken jy jouself wanneer ek vir jou vandag hulde bring en vir jou ‘n troosblom pluk.
  

Vir jou wat vir slegs 5 maande geluk geken het met jou sielsmaat -  vir jou haal ek versigtig my mooiste kaktus uit.  Die bogger is so slim om al die dorings te hê om hom te beskerm.

-  Vir jou wat moes aanskou hoe jou dierbare ouers hul lewensprobleme probeer verdrink het in goedkoop wyn, mag jou lewensprankel altyd in jou glimlag wys en jou fabulous ridder jou altyd bybly – vir jou pluk ek ‘n takkie delikate jasmyn wie se reuk jou sal omsingel.

-    Vir jou wat so verlang na jou verweg kind, moenie moed verloor, hy verlang ook – hier’s vir jou ‘n katjiepiering.

-         Vir jou wat elke oggend jou braafste gesig opsit, ten spyte van ‘n siekte wat jou feitlik daagliks aftakel – hierdie helderrooi poppie.

-         Vir jou wat al jare wroeg waarom jou lewensmaat ‘n geweer op jou gerig het en jy wonderbaarlik bly leef het –‘n bloedrooi angelier.

-        Vir jou wie moet aanskou hoe jou liewe Ma in ‘n onbereikbare wêreld van Alzheimers verdwyn – ‘n helderpienk ranonkel.

-          Vir jou wat nie betyds by jou Ma se sterwensbed kon wees nie – ‘n laventelblom (nes die een wat ek onder haar kopkussing namens jou gesit het)

-          Vir jou wat jou man virewig moes groet, al was hy so oud, jou smart kon ek skaars verduur – vir jou ‘n geel kappertjie (nes die bossie wat ons in sy kis gesit het).

-          Vir jou wat 3 keer per week gaan op dialise en elke dag wonder / bid of vandag die dag is wat jy ‘n nuwe nier sal kry – ‘n frangipaniblom.

-          Vir jou wie se ma diep groewe in jou siel gelaat het omdat sy so mislik was met jou in jou kwesbare kinderjare – ‘n weskusvygie.

-          Vir jou wat vir jare lank in die put van aaklige verslawing was – ‘n statige speldekussing.

         



-         *  Vir jou wat vir my skryf  wanneer jy steeds na jou oorlede Ma verlang terwyl jy in ‘n straatkafee in Italië sit – ‘n pienk sweetpea.

-          Vir jou wie 15 jaar laas met jou Pa gepraat het en jouself steeds bluf jy verlang glad nie na hom nie – ‘n blou koringblommetjie.

-         * Vir jou met jou langverwagte ou babatjie, wie se Ma nog net twee keer haar kleinkind kom sien het, al woon sy net 'n katspoeg ver– ‘n jong bergvaring.  

*     Vir jou wat skuldig voel omdat jy nie jou broer kon red van die strate nie - 'n geel lupien.

* Vir jou wat daagliks wonder of jy jou kinder / kleinkinders sal sien grootword, ten spyte van die stryd wat jy voer met kanker - 'n sterk fier koninginprotea.

* Vir jou wat hulpeloos moes toekyk hoe 'n siekte jou dierbare aftakel - 'n perskeblom.


Omdat ek vir ‘n wyle jou kwesbaarheid kon deel, is my hart ligter, my wêreld helderder terwyl ‘n sonstraal warm op my seer skouer skyn.  Ek struikel oor ander klein seëninge - ‘n nikotiana blom onverwags by my agterdeur en verlei my met haar kenmerkende reuk waarvoor ek so lief is.  ‘n Bosduif kom bad vir die eerste keer in die voëlbad terwyl hy my stip dophou.  ‘n Reënboog staan lank genoeg dat ek van die pad kan aftrek sodat ek langer kan kyk.  My middelkind wat 3 maande gelede uitgetrek het, staan skielik by die voordeur en gee my ‘n lang innige druk.  My blompot met haar laggende gesig hou met uitgestrekte hande vir my twee knarsvars selfgebakte koekies.  In drie dae het twee jongmense hul kindertjies na my gebring en hul het my almal spontaan lank gedruk. Die ene se woordjies klingel steeds in my ore toe sy my waaiend groet - 'tannie ek verlang dan al klaar na jou!'.  


    
Ek bring vir jou ‘n troosblom

en ek voel geseënd.

2013-09-28

Ek het hierdie Maandagoggendreseppie vir jou

Ek het hierdie oggendreseppie vir jou
hou dit vir 'n Maandagoggend se blou.

Stap tuin toe en soek 'n gewillige laventelbos
pluk genoeg totdat jou  hand propvol is
en jou mondhoeke vanselwers opkrul van heimlike lekkerkry.

Drentel kaalvoet verder agter die hond aan
stadig
sodat jy die klam grasspriete tussen jou tone kan voel.

Lig jou ken na die sonstraal
voel die hangende oggenddou
Sê dankie vir die hier en die nou
Streel die skurende kat.

Stap stadig verder
pluk die enkele blommende mooiste perfekte roos
wat die engele laasnag vir jou kom los het
omsingel haar met die handvol laventel.

Bind dit vas met 'n tierlantyntjie
Lig op tot vlak by jou neus
snuif diep
 tot jy effe dronk is van salige heerlikheid.

Sug tevrede
en omhels die dag.




Posted by Picasa
Related Posts Plugin for WordPress, Blogger...