Nog 'n jaar is verby, kan jy dit glo. En wanneer 'n jaar verby is dan sit mens mos maar so en dink jou hele jaar se dinke; wonder oor die afgelope jaar se onafgehandelde wonder; tob stadig aan 'n hele jaar se ongetobde tob. So, nou sit sy maar hier, hierdie krulkopvrou en sit haar gemaklikste sit en dink haar dinkerige dink hier op die bankie in haar nuwerige tuin waarheen sy onlangs heen getrek het. 'n Lang uitgerekte trek was hierdie trekkery - hierdie groot trek na 20 jaar.
Dit was nie maklik nie. 'n Kort misleidende onvergenoegde totaal onvoldoende sinnetjie. Dit was nie maklik nie. Sy sal nie vloek of huil nie - nie meer nie, in elk geval.
So dankbaar is sy tog nou vir die drie bome wat deur iemand lank gelede, dalk per ongeluk in hierdie afgeskeepte kaalgattuin geplant is. Die een, 'n veelgestamde melkhoutboom waarvan sy mooi stammerigheid totaal oorgrooi was. Die tweede, 'n kareeboom wat plek-plek roekeloos gesaag en gesnoei was het afgestomp, beskaamd van lelikgeit in die een hoek gestaan. Die derde was ook maar droewig om te aanskou. Blaarloos maar met sulke plek-plek stekelrigheid soos haar tienerseuns toe hul destyds begin baard skiet het, het ook in sy winter kaaltaktoestand verwaarloos en bedremmeld sy staan gestaan. Die kaal vibracrete tussen haar en die bure het nie gehelp om die prentjie te voltooi nie.
Die temptasie was groot om sommer al drie hierdie bome kort by hul alie afsaag - watter belediging was dit dan nie vir die selfgeplante mooi boomryke tuin wat sy onlangs vaarwel geroep het. Dankie tog - sy het hul nie kort by hul alies afgesaag nie - al was die versoeking groot.
(Haar vorige tuin).
So het die vrou dan daardie koue nat winter gesoek na haar sit wat maar net nie 'n nuwe regsit wou vind nie; na haar lê wat ook nie meer wou reglê nie en na haar denke wat êrens langs die pad agterblewe geraak het. So hier was sy, sitloos, lêloos en dinkloos vir etlike lang koue maande in die koue kaalgat tuinlose huis.
Maar stadigaan, baie stadig het die nuwe huis, wat eintlik 'n ouerige afgeskeepte huis was, die krulkopvrou begin sagmaak, haar stilletjies verlei met versteekte geheimenisse. Subtiel was hy hiermee. Natuurlik instinktief geweet dat hy maar sag met hierdie brose vrou moet werk. Klein dingetjies wat stuk stuk en versigtig voor haar neergesit is - 'n offerhande.
Soos die Dovertjie wat ook lang gelede per ongeluk op die ongemaklikste plek in die huis ingebou was. Naby die kombuis. Eintlik het niemand geweet, heel nimmer sy, hoeveel 'n ou houtstofie sou kon beteken nie. Die Dovertjie was baie baie lank laas gebruik. Roeserig en stowwerig was die arme ding - nes die spinnerakke wat haar kop kom muf maak het van die maandelange pakkery, afskeidnemery en trekkery van 'n huis waarin die stemme van haar kinders in elke hoek gehuiwer en fluister het; hul kindwees gegroei en ontgroei het. Dit was nie maklik nie. Weer daardie klein sinnetjie.
'n Vraggie hout, die Dovertjie en die effe verskrikte krulkopvrou, het toe 'n unieke eiesoortige verhouding begin. So het hul twee mekaar deur die sonlose winterdae getroos. Die afgeskeepte Dovertjie en sy. Die spinnekoppe het vinnig pad gevat toe die eerste vlamme trek. Altwee het gestik en gestink van die rook wat sy trek probeer vind het. Stadig het hul twee reggekom, het sy haar trek gevind en albei minder na stroois geruik.
Ma se ou koperboompot het immer geprut met iets - 'n lang kerrie, een of ander stowerigheid of sop. Pa se handgebreide jersey (deur Ma) het sakkerig haar lyf getroos - daar by die Dovertjie - maar sy het steeds maar die vrou in die spieël vermy. Haar hare was willerig en krullerig en Pa se handgebreide jersey wat sakkerig hang - glad nou nie 'n oil painting nie soos Ma sou gesê het. Maar die twee was cozy - die Dovertjie en die vrou in Pa se uitgerekte jersey. Selfs die katte het rustig geraak en hul lê gekry. Maar haar eie lê het haar nog ontwyk; haar sit nog nie reggesit nie en haar dink het nog nie reggedink nie.
Offerhande 2 - Hier is 'n beneukte wind wat ook hier rond woon. Moerig en beneuk. Die blaarlose tuin was 'n bewys daarvan. Dalk moes die wind ook onlangs verhuis het. Sukkel nog om haar waai reg te waai en nou waai sy haar moerige windgatgeid behoorlik des moers hier rond. Sy het snags om die hoeke van die huis gehuil, die dakplate probeer lig en takke afgeruk van die kaalgat bome. Die afgeskeepte vrou met die wilderige hare, die roeserige rokerige Dovertjie en die moerige wind het die winter trotseer. En oorleef.
Eendag het sy, dis nou die moerige wind, moeg geraak - uitgekerm was sy en aan die slaap geraak. Die son was braaf genoeg om 'n slaggie sy skyn aan te sit en hier te kom skyn. Sy warm strale het ingestroom en die donker huis opgehelder met sy mooi vrolike skyn. So bly was hy om weer 'n slaggie te skyn dat hy ekstra mooi geskyn het - deur die vensters sy mooiste warm strale geskyn het, die huis met poele warm son kom vul het. Die Dovertjie het gesug van verligting. Uiteindelik kon sy darem 'n blaaskansie kry van al die rokery en stokery. Sy was baie dankbaar dat sy weer haar vonk ontdek het, glo my, maar enige ordentlike Dovertjie kort ook 'n break.
Die moerige beneukte wind het bedaar en die son was so opgewonde dat hy elke dag hier sy jong lentestrale kom skyn het. Die katte het nuwe lêplekke ontdek in die poele son en net nou en dan leepoog een oog oopgemaak, effe gerek voor hul weer opgekrul het van tevrede lekkerkry, Deure is oopgespalk om die vriendelike warm son verder in te nooi. Offerhande 3. Groen knoppe en jong blaartjies het aan die kaalgatbome gedy. Rooiborsvoeëltjies het hop-scotch tussen die blare gehop. Kleiner voeëltjies het vladderend aan die doudruppels gedrink en klein onsigbare goggas vir brekfis gehad. 'n Skoenlapper het gebrêg met haar mooi nuwe vlerke en 'n paar akrobatiese trieks uitgevoer. Pa se uitgerekte handgebreide jersey het gaan rus in die wasgoedmandjie en sweerlik gesug. Die beneukte wind wou wys sy's nog hier rond en het haar sagste briesie gebries, die aroma van 'n vroegblommende jasmynblom êrens opgebries en oor die krulkopvrou kom hang soos 'n wafferse onsigbare veil. 'n Goedgemikte sonstraal het aan die vrou met die willerige krulle se mondhoeke gepluk.
Nie lank daarna nie het lang reguiterige jong blare aan lang swiepende wilgerige takke in die sagte bries gewals. Voëls van vele vere het hul dik aan sy bessies kom vreet. Die melkhoutboom se onnodige stamme is versigtig weggesnoei om die mooiste stamme af te wys. Tipies melkhoutboom het sy haar muwwerige melkhoutboom reuk begin deel. Pikswart bessies het nog geveerdes gelok.
Die derde, die lelikste boom met die stekelrige tienerbaard het soos die lelike swaan 'n gedaanteverwisseling ontgaan en soos 'n blosende bruid oopbek gelag. Daar staan sy nou, met swaaiende bontblaar blare met die mooiste langerige lellerige sade wat ek seker Eva sou dra as oorbelle in die paradys. Adam sou natuurlik totaal oorstelp gewees het ten aanskoue van hierdie gewaad - daar waar sy in haar onskuldige naaktheid met hierdie swaaiende langerige oorbelle aan haar appel gekou het.
Gelukkig het die bome nie hul alie gesien nie. Die jaar het wel. Die krulkopvrou talm darem al weer voor die spieël en haar oë het 'n rustigheid gekry. Die Dovertjie wag geduldig om hul verhouding die volgende winter voort te sit. Sy het vrede gemaak met die krulle wat die LiewenHeer haar mee geseën het en hul het hul ingekrul in hul finale krul. Sy sit nou 'n veel gemakliker sit. Haar dink het uiteindelik teruggekom en sy dink met 'n tevredenheid haar hele jaar se dinke. Haar ongetobde tob het skielik minder geraak om oor te tob.
Die jaar het sy alie gesien. Die vrou sug tevrederig, streel die kat en stap kaalvoet deur die tuin. Sy's oukei.
|
Boonste kiekie vanoggend geneem deur die swaaiende takke van die Karee.
Onderste kiekie is die droewige kaalgat tuin . Die melkhoutboom regs in prentjie en die droewige kaal boom agter. |
|
Vandag - die veelstammigheid van die Melkhoutboom waarin 'n rankertjie wat saamgetrek het rankerig rank. |
|
Twee duifies in 'n nessie |
|
Bo - Flambojant en in haar blommerige glorie met haar lang mooi sade in boonste ene.
En voorheen - Droewig en blaarloos in onderste helfte. |
|
Vanoggend - Eva se oorbelboom wat Adam rasend sou gemaak het |
|
Leepoog opgekrul in 'n sonstraal |
|
Die Dovertjie, haar Ma se koperboompot, haar Pa se jersey en die broserige krulkopvrou |
|
Nog een vanoggend geneem. Die ander kant. Heel bo is die bontblaarboom met die lellerige oorbelsade wat Eva in die Paradys gedra het. Op die voorgrond is 'n olifantblaar, nikotiana, helicrysum (kooigoed) en 'n mooi pienk rosie in die pot. |
|
Daars darem 'n lekkerte aan 'n geplukte bossie uit jou tuin |
As jy nou kan verlei kan word deur 'n roos dan is dit hierdie een. Een enkele roos in een enkele pot wat kort kort vir my oopbek lag vol vrolike blommige uitspattigheid. Met 'n naampie soos 'My Granny' - gee sy my eindelose plesier.
|
My Granny |
|
Dubbele verleiding - My Granny weerkaatsings |
|
Boskasige vrolikheid |
|
Rondgetrek van oral is hierdie beeldjie Little Girl gedoop |
|
Die voëlbak is intussen geskuif en ek's sommer lus en skuif dit terug vir kiekies soos heirdie |
|
Roserige weerkaatsing |
|
So koekeloer deur die nikotiana wat vir maande geblom het naby my kombuisdeur met haar heerlikste reuk |
|
My Granny |
|
Stokke, linte, gedraaide takke en 'n geroeste draadhart = |
|
Kyk hou mooi staan ons vir die kiekie |
|
Wanneer die ranker teen die lelike muur klaargeblom het dan gebruik ek hul om sommer 'n paar riete aanmekaar vas te knoop. So word die arme ou kaalgattakke iets moois vir my. Kyk nou net. |
|
Kennie die naam nie maar gek oor die rankerige plantjie |
|
Gemengde slaai? Nee, net gemengde loof |
|
'n Ou gebreekte pot hou water vir hond, kat en die voeëls en staan ewe lekker langs 'n roos, 'n iris en 'n paar ander plante |
|
Vermoedelik 'n inheemse rankertjie watsenaam ek vergeet het |
|
Sorry - ek weet - maar ek kan nie genoeg kry van die kiekies nie |
|
Hou nie juis van kiekies van myself op my blog nie, maar hier met my ontembare krulle met die liefste lawwe hond wat ook my aanvaar - woes krulle en all |